5 maande gelede
Beziek roer hartsnare met sy mooi musiek
STEM NOU: Vote vir Sydwell Beziek in Rendition of the National Anthem. FOTO’S VERSKAF  ~ 

IN 2008 het hy bekendheid verwerf as een van die top-30-sangers wat aan die SABC2 reality show I want to Sing Gospel deelgeneem het.

Die jaar daarna was hy ook te sien in kykNET se program Reik na die Sterre­.

Vandag is Sydwell Beziek (38) een van Mzansi se stylvolle soul-sangers wat gehore bekoor met sy energieke en skouspelagtige optredes.

Maar 2008 was nie die begin van Beziek se sangloopbaan nie.

Hy is in Malmesbury gebore en het daar sy sangtalent in die kerk en op skool begin slyp.

Later jare was hy betrokke by gemeenskapskore in die Paarl- en Wellington-omgewing. Hy woon tans in die Paarl.

In 1999, ná skool, het hy drie jaar by die La Musique School of Performing Arts gaan studeer en onder die vaardige hande van wyle Andrew Strauss sy talent in sang verder ontwikkel.

Hier het hy vele medaljes in verskeie genres gewen, onder meer in pop, gospel en Broadway musicals.

Beziek het in dié tyd ook in die jazz band Simply Smooth opgetree.

In 2000 – toe hy nog ’n student van die musiekskool was - het hy sy eerste solo-konsert en toer deur Europa gehou, in lande soos Duitsland, Frankryk, België, Nederland en Switserland.

In 2001 wen Beziek ’n goue medalje op die South African Championships of Performing Arts.

Daar is hy gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig in die World Championships of Performing Arts in Los Angeles.

Beziek het dit weens ’n gebrek aan geld nie bygewoon nie.

In 2002 word hy ’n lid van die Kaapse groep The Great Pretenders en hulle het in ál die groot stede in Suid-Afrika opgetree.

Buiten Europa het Beziek ook ander internasionale optredes agter sy naam.

Tussen 2005 en 2007 tree Beziek in vele tribute shows van The Temptations, Four Tops en The Platters op in Palma de Mallorca, Menorca and Ibiza in Spanje.

In 2012, tree hy op by die Suidoosterfees en Kuier se Hart2Hart Show in die Kunstekaap.

Hy was in 2013 een van die main artists in Kuier se Christmas Show in die Paarl-amfiteater, waar hy die verhoog gedeel het met Kurt Darren, die Idols SA-winners Karen­ Kortjé en Heinz Winkler, Allister Isobel en vele ander.

In 2011 reik Beziek sy eerste single, “Yebo”, uit.

Hy was ook die producer van die show “Yebo” en het deur verskeie dorpe in die Wes-Kaap getoer om die single te promote.

Vandag is hy ’n sanger, song­writer en boonop producer.

Lesers kan vir Beziek stem in die kompetisie Rendition of the National Anthem deur sy inskrywing te like op die website anthemprojects.news24.com.

News24 bied die kompetisie aan en kunstenaars sing hul eie weer­gawe van die Suid-Afrikaanse volkslied.

Die prysgeld sal geskenk word aan enige liefdadigheidsorganisasie van die wenner se keuse.

Die sluitingsdatum vir die stemmery is 31 Maart.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters