2 maande gelede
Bevin vertel van sy spoor na ‘Idols’
Bevin Samuels se eerste song, ‘Mrs Perfect’, is pas uitgereik.Foto’s verskaf  ~ 

BEVIN Samuels het glad nie op sy louere gaan rus ná sy Idols journey nie.

Nie net het dié boorling van die Baai byna die hele land vol getoer en opgetree nie, hy het ook onlangs sy snit “Mrs Perfect” uitgereik.

Bevin het ’n draai by Son op Sondag se kantore kom maak en gesels oor hoe sy lewe ná Idols verander het, waarmee hy tans besig is en wat die toekoms vir hom inhou.

Bevin het in 2016 die topses van die gewilde sangkompetisie gehaal.

Hy sê toe hy aan Idols deelgeneem het, was daar nog nie oudisies in die Baai nie.

Ons kan almal onthou toe hy die judges met Bruno Mars se “Billionaire” uitgeboul het, maar Bevin vertel van die uitdagings op sy pad na die Idols-verhoog.

“Ek het in 2015 gematrikuleer en ek het gewonder wat ek ná skool met my lewe gaan doen.

“My ouers kon dit nie bekostig om my verder te laat studeer nie.

“Ek wou nie net niks doen en ’n statistiek word nie. Daar het baie goed deur my kop gegaan. Toe sien ek die Idols-advertensie.”

Hy vertel hy wou nog altyd ingeskryf het vir die sangkompetisie oor hy ’n groot Idols-aanhanger is.

“Ek het toe my ma gesê ek wil Kaap toe kom, want die laaste oudisies vir daai jaar was in Kaapstad.

“Ek het haar gevra om net te sorg dat ek in Kaapstad kom. Ek weet nie waar sy dit gekry het nie, maar die volgende dag toe bring sy die geld vir my en ek is toe weg Kaap toe.”

Bevin sê hy het glad nie die Kaap geken nie en het verdwaal op pad na die GrandWest-casino, waar die oudisies gehou is.

Die jong ster lag toe hy vertel: “Ek was byna twee ure op die trein gestrand. Ek het vir almal gevra waar is die Goodwood-stasie.

“Terwyl ek so gesukkel het, het ek vir myself gesê dis ál geleentheid wat ek het. Daar is nie ’n plan B nie. Ek móés dit maak werk.”

Hy sê toe hy daar in die saal kom en al die mense sien, was hy oorweldig.

“Ek het nog geen ervaring as sanger gehad nie. Ek was net 18. Ek het net gebid en op my lewende God vertrou.”

Van daar af het dinge vir Bevin net goed verloop – so goed dat hy nou sy eie single uit het.

Hy sê die single, “Mrs Perfect”, is ’n love song.

“Ek wou hê elke liewe vrou moet voel en weet dat sy perfek is. Niemand hoef vir jou te sê jy is Mrs. Perfect nie, jy moet self begin glo jy is Mrs. Perfect.”

Julle, ek het na die song gaan luister en dit is perfek! Dit is op repeat op my foon.

Gaan download die song op iTunes of Google Play.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters