10 maande gelede
Balancing act hóú
nuwe dinge: Die groep Nu-Balance skiet tans aan ’n video vir hul song “Tokolosie”, wat vroeg vanjaar op SABC gaan wees. foto verskaf  ~ 

HULLE naam beteken ’n nuwe styl en gebalanseerde musiek.

En hulle doen ’n verskeidenheid musiekgenres van jazz, R&B, langarm, house-ballades, kwaito, reggae, pop, rap, old school, commercial, African pop en selfs Afrikaanse treffers.

Dít is hoekom die Noord-Kaapse band Nu-Balance landwyd so gewild is.

Die groep bestaan steeds uit sy vier stigterslede, Neville “Stollah” Pieters op die keyboard, Melvin “Bizzah” Cloete agter die tromme, Patrick “Paparazzi” Pheza op bas­kitaar en Jaco “LP Cool” Eiman, die leier en voorsanger.

Die groep spog met vyf albums: I Feel Free (2004), Vetkuk (2007), Uitkyk (2007), ’n cover album Nu-Balance Live, asook die treffer-album Tokolosie in 2015.

Nu-Balance is al in die 1990’s in die Noord-Kaapse dorpie Kei­moes gestig. Daai tyd het hulle nog bekend gestaan as The Mocking Birds, onder bestuur van Karel Afrikaner.

Hulle het op dié naam besluit omdat dié voëltjie sulke interessante klanke voortbring.

Ontbind

Die groep was uiters gewild in die Noord-Kaap en Namakwaland, maar hulle het in 1998 ontbind.

Hulle het toe na Namakwaland verhuis en onder leiding van Elroy Williams ’n nuwe band, Real 4 Real, gestig wat tot 2004 opgetree het.

Jaco vertel verder: “Ons het toe ’n geleentheid gekry in Johannesburg saam met een van Suid-Afrika se beste musiekkunstenaars, Dr. Victor and the Rasta Rebels.

“Dr. Victor het ons groep toe vir ses maande ’n platform gegee waar ons opgetree het. Dr. Victor is ook ons grootste inspirasie.

“Tydens ons verblyf daar in Johannesburg het ons Dantanio, ’n lid van die boy band Obsessions, ontmoet wat ons geïnspireer het tot die naam Nu-Balance.

“Ná daardie ses maande is ons na Port Nolloth en het in 2005 onafhanklik geword en onsself begin bestuur.

“ ’n Vriend, Kobus van der Heever, het toe aan ons musiekinstrumente geskenk.”

In 2007 is Nu-Balance aangewys as die beste live band in die Noord-Kaap.

Die groep het toe in 2008 die Wes-Kaap aangedurf en het daai selfde jaar aan die land se grootste Rastafariërfees, die Sunny Ocean Reggae Festival, deelgeneem.

Rastafariërs van regoor die wêreld­ het vir dié fees in Kommetjie en Ocean View bymekaargekom.

Nu-Balance het toe gereeld in die Kaapse nagklubs opgetree, onder meer in Oscars in Ravens­mead, G-Spot in Epping Industria, African Drum in Elsies­rivier en Breezin in Ravensmead.

Hulle was ook bevoorreg om in 2011 aan Son se verjaardagfees in die Bevcan-stadion in Epping deel te neem.

Nu-Balance se gewildheid in die Wes-Kaap het intussen net toegeneem. Hulle skiet tans die musiek­video van “Tokolosie”.

Dit behoort vroeg vanjaar op die SABC te sien te wees.

Nu-Balance het al verhoë gedeel met groot name soos Sipho “Hotstix” Mabusa, Kurt Darren, Ernie Smith, Garth Taylor, Heinz Winkler, Judith Sephuma, Mango Groove en The Rockets.

Besoek

Hulle is beskikbaar vir alle soorte gesellighede, soos verjaardae, nagklub gigs, feeste, glansgeleent­hede, troues, langarms en privaat paarties.

Skakel Jaco by 073 094 4718 vir meer besonderhede of besoek die groep se Facebook-blad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters