5 maande gelede
Baie uitdagings kon Johnny nooit keer
Inspirasie: Die musikant en TV presenter Johnny Davids leef nou ál sy drome uit.  ~ Verskaf

‘EK HET sonder ouers grootgeword, maar my mindset was nog altyd reg.”

So vertel die TV-aanbieder, musikant en sportkommentator Johnny Davids van Namibië wat al jare in die Kaap woon.

“Die lewe was nie vir my maklik nie, maar deur die swaar van die lewe is my karakter gebou en dit het my ’n beter mens gemaak.

“Somtyds is dit moeilik, veral noudat ek ’n pa is, maar ek het so baie van my geestelike leiers geleer.”

Davids vertel hy’t by sy ouma grootgeword oor hy as kind van sy ouerhuis moes vlug weens abuse.

“Dit was moeilike tye, want ek het altyd gehunker na die liefde van ouers. Maar ek dank God vir my ouma.”

Davids sê sy deurbraak het in 2003 gekom toe hy en sy vriend Vivian Molauly aan die sangkompetisie Zing op kyk­NET deelgeneem het. Die duo het kop en skouers bo die ander deelnemers uitgestaan en het toe die kompetisie gewen.

“Toe het die deure vir my begin oopgaan. En die res, soos hulle sê, is history.”

Vandag is Davids baie gelukkig getroud met sy pragtige vrou, Liezel. Hulle is ook geseën met kinders – Ayden, Conway en Juan.

“Ek fokus nie op uitdagings nie. Dit sal altyd daar wees. Dit is jou benadering en mindset wat reg moet wees.”

Davids meen as jy ’n positiewe houding en uitkyk op die lewe het, sal jy sterker aan die ander kant uitkom. Daarom is sy motto: “Ons is almal geskape met ’n spesifieke doel op die aarde; vind dít en leef dit uit.”

Met ál die uitdagings en probleme in hierdie land voel Davids die oplossing is leiers met integriteit. “Soos die ou mense altyd sê – manne met inbors.”

Album

Hy sê ook dit is hoog tyd dat ons saam staan en hande vat in ons pragtige land sodat die genesing in ons gemeenskappe kan begin.

Wat ook vir Davids belangrik is, is sy geloof in God.

Hy sê: “Ek het kom leer my lewensaar en suurstof is my geloof in God. Al die prestasies is goed, maar kan in ’n oogwink verander, want die gawes wat jy ontvang, is net genade van Bo.”

Davids se laaste album, Corner­stone, is in 2018 uitgereik.

Hy’s veral opgewonde oor sy nuwe single “Strong­hold Will Fall”.

“Dit gaan oor die kettings in ons lewe wat ons terughou en wat gebreek moet word.”

Hy sê as ons ’n verandering in ons familie wil sien, moet ons self iets doen om die siklus te verbreek.

“Die pad van genesing is nie maklik nie, maar dis moontlik met die hulp van die Here.

“Ek wil nie dieselfde foute maak wat ek deur die jare gemaak het nie, maar wanneer die Here die middelpunt in jou lewe is, sal jy oorwin.

Davids glo as ’n mens hard werk, kan jy jou drome bewaarheid.

“Kan jy glo ek interview rugby se wêreldspeler van die jaar, Pieter-Steph du Toit, op kykNET?

“Jy kan jou drome laat waar word. Met toewyding en harde werk sal sukses kom,” meen hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters