5 maande gelede
Baanbreker vind haar Fortuin oorsee
Oppie kassie: Nicole Fortuin gaan binnekort in ’n local sepie verskyn.  ~ 

SY IS ’n meisie wat ’n baanbreker wil wees.

Sy wil aan mense wys dat alles moontlik is as jy hard werk en op jouself vertrou.

En Nicole Fortuin van Belhar op die Kaapse Vlakte is sowaar ’n baanbreker.

Nie net is sy plaaslik op die kassie nie, sy maak ook groot naam daar ver oor die waters.

Sy’t onlangs gesig gewys in die gewilde SA sepie Generations, sy’t internasionaal die hoofkarakter vertolk in die Warners Brothers blockbuster A Cinderella Story: If the Shoe Fits en sy het ook twee ander hoofrolle in internasionale produksies losgeslaan.

Fortuin het boonop toeskouers na hulle asem laat snak met haar briljante optrede in Oleanna, wat in die Fugard-teater op die planke was.

Al is die pragtige donkerkop nou ’n suksesvolle aktrise, het sy dit nie baie maklik gehad nie. Sy vertel sy het haar fair share van uitdagings gehad om te kom waar sy vandag is.

Sy maak oop: “Daar is en was heelwat alkoholisme in my familie en ’n geskiedenis van alle soorte mishandeling.

“Om myself van my familie te separate en ’n stem diep binne-in my te volg, was alienating, maar aan die einde van die dag was dit die moeite werd.”

Nicole vertel verder dat sy baie as individu gegroei het: “Ek dink die oorkoepelende obstacle in my lewe is verraad. Ek het baie daarvan geface. Ek het ook baie animosity van mense gekry wat nie weet wat agter toe deure gebeur nie.

“Ek dink ek het baie meer understanding gekry en ek probeer om gawer te wees.

“As mense deur moeilike tye gaan deur ander mense se toedoen, leer ’n mens dat jy kan besluit om deel van die negatiwiteit te wees of jy kan vir hulle die lig wees wat jy eens nodig gehad het.”

Sy vertel hoewel sy ’n Kapenaar is, verg haar werk van haar om ook heel dikwels in Jo­burg te wees, so sy beweeg deesdae maar so tussen die twee stede heen en weer.

“Ek is dankbaar vir hierdie travelling life­style, want dit gee my die geleentheid om die wêreld te verken en die verskeie mooi plekke van ons land te waardeer. Ek is uit en uit ’n trotse Suid-Afrikaanse meisie.”

Die aktrise vertel sy is besig om aan ’n opwindende nuwe reeks vir kykNET te werk.

“Ek dink dit is so belangrik om positiewe stories te vertel wat fokus op sterk familie-liefde.”

En dit is nie al nie. Die aktrise laat val ook dat sy tans in gesprek is saam met rolspelers oor ’n lead rol in ’n plaaslike feature film.

Nicole deel haar groot drome saam met ons.

“Om stories te vertel en een te word met die karakters is my passie. Ek hoop om dit te kan doen vir so lank as wat ek lewe.

“My grootste droom is om roerende stories te vertel en om so meesterlik soos Meryl Streep en Viola Davis te word. Ek wil baie graag plaaslik asook internasionaal op die verhoog en op die skerm wees.”

Die aktrise, wat ook onlangs benoem is vir ’n Fleur du Cap-toekenning, is nie suinig om haar leuse en wenresep in die lewe met ons te deel nie.

“Ek werk hard. Dit is my geheim. Ek dink altyd aan maniere om my beste te doen om myself te emulate.

“Ek het ook onlangs geleer om baie meer compassion met myself te hê.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters