20 dae gelede
Aubrey is nog sopnat
legende: Aubrey Arries het op di epuderdom van nege begin kitaars speel.  ~ 

HY WAS ’n klonkie toe die musiekgogga hom byt.

Hy’s een van daai musikante wie se energie nooit opraak nie. En hy is “sopnat”!

Ja, as Aubrey Arries ’n kitaar vat, kan die gehoor hulle regmaak vir ’n show wat skrik vir niks.

Hy’s gebore in Oudtshoorn, maar het sy verstand in Bonteheuwel gekry. Hy’t op nege jaar begin sing en kitaar speel.

Hy en Billy van der Schyff, sy nefie, het in die laat sixties in die band Coffee Sets gespeel. Die band was altyd deel van die variety shows in Bonteheuwel.

“Een aand raak die baskitaarspeler siek,” vertel Aubrey. “Die manager stel toe ’n ultimatum – as ek nie bass speel en sing nie, kan ek nie aan die band behoort nie. Van daai tyd af speel ek baskitaar. Ek het maar myself geleer van kyk hoe die ander speel.

“In die early seventies het ons in wit Kaapse nagklubs soos Navigators en Sorrento gespeel. Daai was apartheidsjare en jy as bruin artist mag nie met die wit gehoor meng nie.

“As jy klaar gespeel het, moet jy net daar in jou hoekie sit. Ons was net daar om die wit mense te vermaak.

“My kwaai break het gekom toe The Rockets se Georgie Carelse my en Billy vra om sy groep – toe nog Bloodshed – te join.

“Ons eerste toer was in Namibië. Ons het gesing in Windhoek en Walvisbaai. Terwyl ons daar was, sien ons in die koerante Suid-Afrika is aan die brand tydens die 1976 riots. Maar ons kon toe nie terugkeer na ons families nie, want ons was daar op ’n kontrak van drie maande. Dit was ’n harde tyd vir ons.”

In 1980 kry Bloodshed sy big break as support act vir die Amerikaanse soul- en R&B-sangeres Betty Wright met haar toer deur die groot SA stede. Ronnie Joice was ook ’n groeplid.

Nadat Bloodshed opgebreek het, join Aubrey die band Tomorrow’s World in Johannesburg en agterna word hy toe die baskitaarspeler in die orkes van The Syndicate Sisters.

“Ná vele bands approach Marvin Moses my. Hy’t ’n deal van BMG Record Company in Joburg gekry om ’n Kaapse groep te record. Dít is toe Funny Carp gebore is met my, Adiel ‘Sly’ Davids en Moosa ‘Stretch’ Carriem.

“Ons eerste album, Dahla Flet, is vir ses maande geban oor die vloekery daarop. Ná die ban verkoop ons toe 150 000 copies, wat ons tóé die grootste selling bruin SA groep gemaak het.

“Ek het ons tweede hit-album, Sopnat, self geskryf en Al Etto was die producer daarvan.”

Aubrey het sy eie band, Rapture, en freelance soms solo in clubs. Hy’t ook Salome se hit “What I Do Best” record.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters