2 maande gelede
Adams vier 30 jaar in die bedryf
glimlag: Abduraghmaan Adams werk tans aan twee flieks en ’n Afrikaanse TV-reeks, Melody, wat op die Kaapse Vlakte afspeel.Foto: Jacques Stander/Kuier  ~ 

DIE talentvolle akteur en regisseur Abduraghmaan Adams vier vanjaar 30 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.

Die boorling van Manenberg wou nog altyd stories vertel wat inspireer en die jeug bemagtig.

Kan julle glo dit was die einde van Ian Oktober?

Soos die meeste van julle weet, het Adams die rol van Oktober in die sepie Suidooster vertolk, maar dis beslis nog lank nie die einde van die akteur nie, want daar lê nog vele avonture vir hom voor.

Die akteur verduidelik: “Suidooster is meer as net vermaak, want dit spreek iets diepers aan. Skielik kan mense uit hierdie gemeenskappe hulleself, of iemand wat hulle ken, in die karakters sien.

“Die verskeidenheid Afrikaanse dialekte in die sepie het bruin mense laat voel: As mense op die TV soos ek praat, is dit mos oukei. Ek hoef nie skaam te wees of my aksent te probeer verander nie.”

Maar nou sal kykers wat so lief daarvoor was om Oktober te haat, hulle harte moet versterk, want hy groet Suidooster.

“Ek is gereed om weer dinge te doen waarvoor ek lief is en toneelspeel bly deel daarvan.”

Adams, wat jong, opkomende akteurs mentor, is baie opgewonde, want daar lê nog vele nuwe avonture vir hom voor.

Adams is ’n veelsydige akteur en is in 2017 met ’n Suid-Afrikaanse film- en televisietoekenning vereer vir sy rol in die baie goeie SA fliek Noem My Skollie.

“Ek wil mense weer hoop gee om te droom, want ek glo met toewyding en harde werk kom sukses,” vertel Adams.

Hy wei uit dat mense geneig is om ander te oordeel voordat hulle nog na hulle storie geluister het.

“Ek is lief vir mense wat uitstyg bo hul omstandighede en iets van hul lewe maak.”

Tragedie het die Adams-familie in 2015 getref toe hulle hul sewe maande oue baba aan die dood moes afstaan.

Dit was ’n baie moeilike tyd, sê hy, maar die ondersteuning van familie en vriende het hulle deurgedra.

“My seun se dood het ons nader aan mekaar gebring as familie.”

Adams het sy vrou, Saliegah, se drie kinders, Abubakur (24) Aasheegah (22) en Sadia (18), as sy eie aangeneem en hom daarby berus dat om ’n biologiese pa te wees hom dalk nie beskore is nie.

“Baie kere is dit belangrik om as kunstenaar jou kop skoon te skryf. Nou kry ek kans om op die strand te loop en selfs in die tuin te werk.

“Ek het ’n leap of faith gevat.

“Ek glo daaraan, want ek het dieselfde gedoen toe ek drama gaan swot het ná verpleging.

“Ek is nie bang vir verandering nie.”

Adams werk tans aan twee flieks en ’n Afrikaanse TV-reeks, Melody, wat op die Kaapse Vlakte afspeel.

Geslyp

Die reeks sal op SABC2 verskyn.

Adams het The Saturday Varsity Film Academy-projek in 2015 gestig.

Talentvolle akteurs soos Irshaad Ally en Monique Rockman het hulle talent by hierdie akademie geslyp en vandag is hulle gerekende akteurs in hulle eie reg.

Adams maak ’n groot verskil in jong opkomende akteurs se lewe en dít is wat alles, volgens hom, die moeite werd maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters