Verlede maand
AB se jonger boetie nou in Ruiterbosch
kyk wie’s hier: Irvine van der Merwe (middel) speel Nazeem Samsodien, AB se jonger boetie wat einde van dié maand na Ruiterbosch terugkeer. FOTO VERSKAF  ~ 

ASOF Abdullah “AB” Samsodien nie klaar oor sy gesondheid worry nie, gaan sy jonger broer, Nazeem, se skielike terugkeer na Ruiterbosch sy bloeddruk verder die hoogte laat inskiet.

Nazeem, wat deur Irvine van der Merwe vertolk word, maak aan die einde van Januarie sy eerste verskyning in Suidooster.

Maar Nazeem het baie lank in Johannesburg gewoon en sy manier van leef is in skrille kontras met dié van sy familie­.

Hy en sy broer AB (Cedric Joel), wat die woorde “morals” en “va­lues” in elke tweede sin gebruik, verskil soos dag en nag.

Maar waar was Nazeem heeltyd?

“Hy en sy toppie het nie om een vuur gesit nie en hy is weg Johannesburg toe waar hy ’n kafee op die been gebring het,” vertel Irvine aan Son op Sondag.

“Kyk, die man is ’n hustler. Hy weet hoe om geld te maak. Hy kom met lekker geld terug ook. Hy’s skelm, man, maar ek dink hy’s misunderstood ook, in ’n way.”

Irvine beskryf sy karakter as gesofistikeerd en ’n love-to-hate-tipe ou, amper soos die destydse Stefano DiMera van Days of our Lives.

Irvine sê Nazeem se terugkeer na Ruiterbosch het te doen met hom wat kom claim wat syne is – en in die proses gaan baie secrets nog uitgelap word.

Irvine is reeds bekend aan sepie- en kykNET-kykers. Hy het die rol van die hitman Dennis in Binnelanders gespeel.

Hy is natuurlik 100% bewus daarvan dat hy al ’n paar bad guys gespeel het, maar hy sê dis ’n geval van hom wat die beste van elke script maak.

“Ek het al baie gemorste speel, maar dis my training. As ek ’n script aangebied word, sal ek jou die waarheid gee. As iemand na jou toe kom en sê ‘jy, jou, dié en dat’, dan weet jy jy het jou job gedoen.

“Bring vir my Romeo & Juliet ook en ek sal ’n mooi Romeo maak.”

Irvine, wat in Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore is en sy skoolloopbaan by St. Andrew’s in Bloemfontein voltooi het, het reeds in November aan sy tonele begin skiet.

Klaargemaak

“Almal was baie welcoming en baie vriendelik en daai het baie gehelp met wat van my verwag word. Ek moes aanpas.

“Ek het die Vrydag klaargemaak met my tonele in Lockdown en die Maandag hier begin.

“Daar was nie tyd om met my script te sit en voor te berei nie. Ek moes 01:00 opstaan en regdeur daarmee sit om dan te gaan skiet.

“Dit was baie hectic. Daar was ’n tyd dat ek gevoel het ek gaan uitbrand, maar gelukkig het mense verstaan.”

Irvine, wat baie dankbaar is vir wat hy by Binnelanders geleer het, sê as akteur waardeer hy die standaard wat Suidooster stel en die moeite wat hulle doen om die realiteit van die karakter uit te bring.

Hy sê dis ’n eer om met mense soos Denise Newman (Bridgette) en Cedric te werk.

  • Suidooster word weeksdae van 18:30 op kykNET uitgesaai.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters