6 maande gelede
Woonstelmaat is toe sommer groot surprise
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit Dingetjie. Lekker lees!

’N KLOP aan die deur. Ek maak oop. Voor my staan ’n jong vrou met die mooiste blougroen oë. Sy is klein en ek skat haar 1,5 meter lank. Haar goed versorgde hare hang los oor haar skouers.

Ek hou dadelik van haar glimlag en die geur van haar lyfsproei.

Sy het ’n rooi sokkerhemp en ’n stywe swart jean aan en in elke hand hou sy ’n bruin reistas vas.

“Iets waarmee ek kan help?”

In ’n oogwink verdwyn haar glimlag.

“Weet jy nie van middag sê nie?!” trap sy my uit. “Ek is seker jou ma het jou maniere geleer.”

Ek wil my vererg vir haar voorbarigheid, maar ek besluit om liewer sarkasties te wees.

“Ek is verskriklik jammer, dame. ’n Hartlike goeiemiddag.”

“Dis beter,” sê sy sonder om terug te groet. “Ek hoor jy is op soek na ’n woonstelmaat. Iemand wat jou kan help om die huur te betaal.”

“Dis korrek. Stel jy belang?”

“Natuurlik, domkop! Dis juis hoekom ek hier is. Ek trek sommer dadelik in.”

Sy stamp my byna uit die pad. Wie is nou die een met die slegte maniere?

“Gedra jou soos ’n gentleman en bring my tasse in.”

Ek kan maar net my kop skud. Lyk nie of ek veel van ’n keuse het nie.

“Van waar is jy?” vra ek nadat sy haar gemaklik gemaak het in ’n stoel voor die TV.

“Up country, maar ek het ’n job in die stad gekry en soek dringend blyplek.”

Haar aksent klink soos dié van ’n Kapenaar, beslis nie iemand wat op die platteland gebore is nie.

“Wat is jou naam?” vra ek.

“Noem my sommer Dingetjie.”

“Dingetjie? Is dit jou doopnaam?”

“Jy vra te veel vrae. Sit liewer die ketel aan. Ek sal nie nee sê vir ’n koppie tee nie. Rooibos, as jy het.”

Nadat ek haar gewys het waar haar kamer is, gee ek haar ’n huurkontrak. Sy onderteken dit sonder om dit deur te lees.

“Waar werk jy?” wil ek weet.

“By ’n strip club in Sea Point.”

“O,” is ál wat ek kan uitkry.

“Jy hoef nie so verbaas te lyk nie. Ek is maar net die receptionist. Ek doen ál die bookings. Ek trek nie my klere uit soos die ander girls nie.”

Wat ’n verligting. ’n Oomblik het ek gewonder waarvoor ek my ingelaat het.

Nie dat ek ’n probleem met ontkleedanseresse het nie. Hoe ander mense hul inkomste verdien, het absoluut niks met my uit te waai nie.

Soos die weke vorder, leer ek Dingetjie stadig maar seker beter ken. Anders as die meeste vroue hou sy nie baie van televisie kyk nie. Sy is mal oor lees.

Veral koerante en dik misdaadboeke. Nie uitgedinkte stories nie. Nee, ware lewensdramas.

“Die verhale fassineer my,” antwoord sy toe ek vra wat so lekker aan dié tipe boeke is.

“Niemand sal ooit ’n ander mens se donker kant verstaan nie.

“En die speurders wat die moorde ontrafel, vir hulle het ek die grootste respek.”

Ek wens ek het geweet hoe Dingetjie se kop werk.

Dis nie aldag dat ’n ontvangs­dame by ’n strip club gaande oor speurverhale is nie. Is tydskrifte vir volwassenes dan nie eerder die tipe leesstof wat haar belangstelling sal prikkel nie?

Dingetjie is nou nie juis wat ek of baie ander mense die perfekte woonstelmaat sal noem nie.

Sy is ure in die badkamer, asof sy die enigste een is wat dit gebruik. Haar klere (veral onderklere) lê die hele wêreld vol en as ek daaroor praat, tuit sy haar lippe en waai soentjies in my rigting.

Ons stamp gedurig kop oor wie se beurt dit is om aandete te maak. Ons argumente is gelukkig darem nie van só ’n aard dat ek haar wil uitskop nie.

Eintlik, al sal ek dit nooit aan haar erken nie, begin ek van haar hou.

Een Donderdagaand in die winter gebeur iets onverwags.

Sonder enige waarskuwing kruip Dingetjie agter my rug in. My hart begin onmiddellik wild en vinnig klop. Wat het sy in gedagte?

“Moenie eers daaraan dink nie,” keer sy haastig toe ek my arms om haar wil slaan.

“Ek is nie ’n goedkoop tert wat myself op ’n skinkbord aan jou bied nie.

“Dis vrek koud in my kamer en ek soek net ’n bietjie hitte. Draai jou om en slaap verder. En hou jou hande tuis.”

Toe sy die volgende oggend uitstap, kyk ek haar lank agterna.

Die besef tref my skielik: Dingetjie is besig om diep in my hart te kruip ...


EK SIT-LÊ op die duvet en luister hoe die reën heerlik teen my kamervenster tik.

Die buurvrou se kat het hom kom tuismaak op my bed, maar dit is die minste van my bekommernisse.

Ek twyfel in elk geval of ek vanaand ’n oog gaan toemaak, al slaap ek gewoonlik soos ’n klip in hierdie weer.

In my hand hou ek ’n verbleikte koerantuitknipsel vas. Ek staar verlangend na die gesig van die mooi vrou op die foto.

Moedig probeer ek teen die trane veg, maar ek besef dit gaan nog lank neem vir die wond om te genees.

Vandag is dit presies een jaar gelede; twaalf maande is verby sedert sy weg is.

Dit maak seer om te dink ek gaan nooit weer haar klokhelder lag in hierdie eenvoudige woonstel hoor nie.

Ek moet deel van die blaam voor my eie deur lê.

As ek net oplettender was, kon ek dalk die gevaartekens betyds raakgesien het, dan kon ek meer gedoen het om haar te beskerm.

Nou word ek dag en nag deur selfverwyte en skuldgevoelens geteister.

En al wens ek dit was moontlik om die tyd terug te draai, sal ek moet leer om vrede te maak en vorentoe te kyk.

Hoe moes ek geweet het Dingetjie is nie die mens wat ek gedink het sy is nie? Sy het my nooit ’n rede gegee om haar woord in twyfel te trek nie.

In alles wat sy my vertel het, het sy altyd so oortuigend geklink. Miskien was dit deel van haar opleiding om mense om die bos te lei.

Sy kon my ten minste in haar vertroue geneem het. Ons was immers woonstelmaats.

Hoe moes ek geraai het haar regte naam is Dinolene Croucamp?

En sy was toe nie ook net ’n gewone ontvangsdame nie, maar ’n under­cover cop wat met haar lewe moes boet omdat sy warm op die spoor was van ’n dwelmsindikaat wat jong meisies aan buitelanders verkoop.

) Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters