2 maande gelede
Wayne wil ma uit donker put help ontsnap
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n nuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Dit gaan oor ’n negejarige laitie wat sien hoe sy drankverslaafde pa sy ma verinneweer. Hy wonder wat hy kan doen om haar te help. Die skrywer noem dié een ’n Skoolseun Se Nagmerrie. Lekker lees!

‘MA, KAN ek en Ma nie wegloop en sonder Pa in ’n ander dorp ’n nuwe lewe begin nie?” vra ek Maandagoggend voor skool.

Ek het pas ’n bord vol mieliepap sonder suiker of melk afgewurg en wag net vir die reën om te bedaar voordat ek in die pad val.

Ek moet my roer, want ons streng prinsipaal hou niks van laatkommers nie.

Ma staan met haar rug na my toe gekeer, doenig met die skottelgoed.

Ek brand om te hoor wat haar antwoord gaan wees.

Sy verdedig mos gedurig vir Pa, al is hy hóé verkeerd.

Terwyl ek my voete teen mekaar vryf, wens ek die somer kan aanbreek.

My skoene is weer stukkend en ek moet elke keer hoor daar is nie geld om nuwes aan te skaf nie.

As Pa maar net weer ’n werkie kan kry ...

Ek weet nie hoekom hy weg is by die poskantoor nie, maar ek vermoed dis oor sy drinkery.

Ek is net nege, maar selfs ek kan sien Pa het ’n drankprobleem.

Om elke hoek en draai drink hy hom dronk en dan is dit glad nie ’n plesier om saam met hom in dieselfde huis te wees nie.

Hy raas met Ma en kom haar gereeld met sy vuiste by.

Hy maak van Ma sy slaansak, maar die volgende dag lyk dit of botter nie in sy mond kan smelt nie.

En Ma maak maar net asof niks gebeur het nie.

Hulle dink verniet ek is dom. Ek weet wat om my aangaan.

Met vuur in haar oë gluur Ma my aan. “Wegloop, Wayne? Is jy reg in jou kop?

“Wie dink jy gaan jou pa se klere was en vir hom kosmaak as ek nie hier is nie?

“Hy het my nodig. ’n Vrou loop nie net weg van haar man af nie.”

“Ek is bang vir Pa, Ma.”

“En dit is hoe dit hoort,” kies sy skaamteloos Pa se kant. “Kinders is veronderstel om bang te wees vir hulle ouers, anders vat hulle kanse.”

“Ek is bang vir wat Pa aan Ma kan doen. Hy is baie kwaai as hy so dronk is.”

“Jy praat nie so van jou pa nie, Wayne. Hy gaan op die oomblik deur ’n moeilike tyd.

“Hy is seker geregtig om af en toe ’n drankie te geniet.”

Af en toe se voet. Pa is deesdae meer besope as nugter.

As hy eers by die deur ingewaggel kom en nie behoorlik op sy bene kan staan nie, weet ek hier kom moeilikheid.

Ek is seker nog te jonk om te verstaan hoe grootmense se koppe werk.

Hoe kan daar geld wees vir drank, maar nie vir ’n paar skoolskoene nie?

Is ’n kind se belange dan nie ernstig genoeg nie?

Ek oorweeg dit om vir Ma van my nagmerrie te vertel, maar besluit daarteen.

Soos ek haar ken, sal sy sê ek jaag onnodig spoke op.

En tog kan ek nie anders as om te wonder waar alles gaan eindig nie.

Is dit maar net omdat ek my oor Ma bekommer dat ek gisteraand gedroom het ek staan langs ’n graf met trane in my oë?

Of was dit dalk ’n waarskuwing dat iets gaan gebeur?

“Hoekom werk Pa nie meer by die poskantoor nie, Ma?”

Die vraag is uit voordat ek dit kan keer.

Ek sien hoe Ma haar vererg.

“Hoe moet ek weet?” vaar sy uit. “Wat vra jy vanoggend so ’n klomp vrae? Loop liewer voordat ek jou met die besemstok oor jou kop slaan. Jy hou jou te groot vir jou skoene.”

Ek gryp my boeksak en maak my uit die voete.

Ma wil niks van Pa weet nie. Al behandel hy haar so sleg, sien sy nie sy foute raak nie. Kan ’n mens so blind wees?

Op die hoek loop ek vir Andrew raak.

“Jis, Wayne, kry jou voete nie koud nie?” wil hy weet.

“Nie eintlik nie,” probeer ek my dapper hou, maar ek kan sien Andrew glo my nie.

“Ek sal verkluim as ek in dié koue kaalvoet en met ’n kortbroek aan skool toe moet stap.”

“Ag, ek is dit nou al gewoond. Ek voel nie eintlik meer die koue so erg nie.”

As Andrew maar net weet hoe graag ek ’n paar skoolskoene wil hê. Maar ek moet seker maar my beurt afwag.

Die hele dag is my gedagtes by Ma. Ek kry haar so jammer.

Sy doen haar bes, maar selfs dit is nie goed genoeg vir Pa nie.

Hy het nou die aand sy bord kos van die tafel af gegooi omdat daar volgens hom nie genoeg sout in was nie.

“Watse soort vrou is jy?” het hy sleeptong gevra. “Jy kan nie eens ordentlik kosmaak nie.”

As ek groter en sterker was, sou ek nie toegelaat het dat my pa my ma aanrand nie.

Maar wat kan ek met my maer armpies tog doen?

Ek beteken niks.

Kort voor tweede pouse kry ek ’n blink idee.

Ek kan mos met juffrou Conradie gaan gesels.

Sy is soos ’n moeder vir almal en baie van die kinders gaan na haar toe met hulle probleme.

“Dankie dat jy met my kom praat het, Wayne,” sê juffrou Conradie nadat ek die aaklige situasie by die huis aan haar verduidelik het.

“Jy kan ná skool ’n geleentheid saam met my kry.

“Ek wil graag hoor wat jou ma te sê het.

“ ’n Negejarige seun behoort nie aan sulke geweld blootgestel te word nie.”

Toe ons by die huis kom, voel ek gerus.

As daar een persoon is wat sin in Ma se kop kan praat, is dit juffrou Conradie.

Miskien kan sy Ma uit hierdie donker put help en haar laat besef daar is lig aan die einde van die tonnel.

Geen vrou verdien om so verinneweer te word nie.

Iewers moet daar ’n streep getrek word.

Die deur is nie gesluit nie en ons loop in.

Ons albei steek verbaas vas.

My pa lê roerloos plat op die kombuisvloer in ’n groot plas bloed.

My ma staan eenkant met ’n mes in haar hand.

Haar hare is wild, haar klere geskeur.

“Ek ... kon dit net nie meer vat nie,” sê sy bewend. “Alles het skielik net te veel geraak.

“Ek moes iets doen om myself te verdedig, anders was ek vandag ’n lyk.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? Stuur ’n SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters