14 dae gelede
Vy kry iets vir ’n baie spesiale huweliksnag
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal uit die pen van MARIANA LOOTS. Julle moet lekker lees!

VY KYK in die spieël. ’n Moeë vrou kyk terug. Sy leun nader totdat haar neus die koue raak, maar dit maak haar oë deurmekaar. Sy kom regop. Met sagte vingers probeer sy die dekades van haar frons wegstryk.

Dis te laat. Die jare sit in die grein. Vy gee ’n tree terug dat sy haar in haar entirety kan sien.

Sy het al beter prentjies gesien, maar kyk, kyk sy.

Haar skouers het ingegee onder die droefheid, en weerskante van die verspoelde grondpad onder haar ken rem uitgekalfde klepels teen die krag van die Aarde.

Haar berge van begeerte is deesdae baie nader aan haar vallei van verleidelikheid as in haar jongmeisiedae. Alles het ’n bietjie weggesak en verby die nate getrek, amper asof sy te lank in die son was en begin smelt het.

Vy sug weer. Want sy was. Te lank in die son. Haar afgesloof toe Hennie oorle is. Wat anders kon sy doen?

Die kinders was klein en hulle moes eet. Werk moes sy werk.

“Vytjie, is jy orrait?” kom dit van anderkant die deur.

Vy wip van die skrik. “Ja, ja, dankie,” stamel sy. “Ek’s nou daar.”

Vererg gryp Vy die Lux. Die water spat toe sy koekie in die kom laat skuim maak. Seep haar in asof sy haar gedagtes ook wil weg was.

Dis alles Hettie se skuld dat sy te bang is om by die deur uit te gaan. Want daar’s ’n man aan die ander kant. Haar nuwe man. En om by hom uit te kom, moet sy verby die flentertjie nagklere agter die deur verbykom.

Jislaik, ’n mens sal sweer sy’s ’n bogkind, so giggel sy wanneer sy terugdink aan toe hulle die ding gaan koop het.

Haar oorle mammie draai in haar graf om as sy moet weet in watse shop haar dogter dáái dag was. Hettie het nog ewe uitgevra oor al die, ’m, modelletjies wat uitgestal word, toe’s Vy en haar asmapompie al buite.

Dit het twee spuite gekos voordat die donker kolle voor haar oë gewyk het. Die sakdoek was later sopnat soos sy die sweet probeer wegvee het wat net die trane van haar moeder kon wees, want sy was yskoud geskrik.

“En nou, Vy?” het Hettie onskuldig kom vra. Asof sy nie geweet het nie!

“Jy dink jy’s blerrie snaaks, Hettie! Jy weet mos ’n ordentlike vrou soos ek hang nie in sulke plekke uit nie!”

Hettie stut haar eintlik met ’n krom arm teen die muur soos sy lag. “Vrou, uit watse era kom jy? Dis deesdae die in ding, dié. En jy’t seker nie gedink jou ou skoolmaat kom kuier omdat hy wil gesels nie?”

“Tsk,” is al wat Vy tussen die gehyg deur uitkry. “Ek sal nog in my graf beland oor jou stuitigheid. Albêr is goed grootgemaak.”

Dít het Hettie laat kraai van die lag. “O, nè? Hy bly ’n man. Oukei, ek maak jou ’n deal: Ek doen volgende week jou strykwerk as jy die ding nog ’n kans gee. Ek weet van ’n, wel, skaf­liker plek.”

Asof die rumatiek ore het, het haar hande begin klop van die pyn. Die rug neuk ook nog. “ ’n Week se strykwerk sê jy?”

“’n Week.”

So is dit afgespreek. Hulle is toe na die boetiekie toe en op die ou end is hulle met Flentertjie daar weg.

Sy het eintlik vergeet van die ding, want Albêr kon toe nie meer daai naweek gekom kuier het nie. Hy moes sy mammie begrawe; die mammie wat hom so goed grootgemaak het.

Dáároor was sy darem reg. Want toe Albêr wel kom kuier, het hy hom soos ’n jintelman gedra. Dis hoekom sy ja gesê het toe sy die ringetjie aan die roos se steel sien.

En nou is dit hulle huweliksnag. Dis waar Flentertjie inkom. Nou moet hy aankom. Daai dag in die boetiekie kon nóg hande help inprop en platdruk, maar vanaand is sy op haar eie. Anders is die surprise mos nou daarmee heen.

Vy droog haar af. Sy dep ’n druppel Elizabeth Arden agter elke oor aan. 5th Avenue in 11de Laan, verbeel jou. Dis nou wel ’n sample, maar steeds.

Hulle sê mos jy moet dit aansit waar jy gesoen wil wees, maar nou net gee dit haar ’n uitslag en dáái gesprek met Oudok sal nie sy of hy oorleef nie.

Flentertjie is mooi, ja. Flentertjie is net so klein. Vy verlang na haar pienk gown.

Ruk jou reg, Vy, sê sy vir haarself toe sy Flentertjie van die hanger af gryp.

Hoe’t sy nou weer daai dag die ding aangekry – van bo of van onder af? Agter is net genoeg lap om twee skoenveters mee te vleg, maar op die kantflappie onder is drie klinknaels om die lunsriem mee vas te knip.

Oukei, so, hy kom van bo af aan. Arms in die lug probeer Vy Flentertjie oor haar kop kry. Halfpad oor die arms haak hy. Vy kan nie roer nie. Flentertjie wil nie skiet gee nie. Op wil hy nie, af wil hy nie.

’n Druppel sweet gly van haar voorkop af. Hoe nou gemaak?

Wikkel die goeie skouer. Dit werk. Wikkel nog en haak die bandjie agter die blad. Trek die ander kant met die vry hand af.

Haar borste lyk soos twee muise wat in valletjies beland het. Donner! Sy’t die ding verkeerdom aan.

Vy hoela teen dubbel die spoed om Flentertjie weer uit te kry. Albêr beter haar vir ’n naweek Kaap toe vat ná al hierdie moeite.

Dié keer gaan dit makliker, en die borste lyk beter noudat hulle in die regte stukkie lap lê. Nou net die klinknaels. Sy leun oor op die sterk been en lig die ander knie. Klik-klik-klik. Toe.

Met die voet-neersit-slag weet Vy die aand is moer toe. Haar voet kap teen die kom se rand. Hy tiep. ’n Tsoenami waswater spoed onderdeur die deur kamer toe. Seepwater, water waarop jy nie kan vastrap nie. Die horrelvoet glip, en toe die sterk een. Die goeie skouer kap teen die deur en toe’s die deur nie meer daar nie. Die bedlampie verblind Vy.

“Vy!” Albêr spring spookwit op. “Het jy seergekry?”

Vy oorweeg dit om te maak of sy dood is. Maar dan gaan Oudok haar in Flentertjie sien. Haar oë vlieg oop. “Ja, ek’s orrait.”

“En dié?” Albêr vergaap hom aan Flentertjie.

Die oomblik is te groot. Die huil bars uit. “Ek wou jou spoil met dié dat dit ons wedding night is, weet jy,” snik sy. Aarde, sluk haar in.

Iets sags gly oor haar. Haar pienk gown. “Kom, Vy. Kom sit hier op die bed,” sê Albêr. Vy skuifel toe-oë nader. Sy arm is nog ’n rukkie warm om haar skouer, toe vat hy haar gesig met albei hande vas.

“Kyk vir my, Vy.”

Met haar laaste skraapsel moed kyk sy op.

“Vytjie, jy’t nie tierlantyntjies nodig nie. Jy’s vir my die mooiste blom in die wye bossieveld.”

En toe plant hy ’n soen op haar voorkop. En haar mond.

En skielik gee Vy nie ’n flenter om dat sy met die deur in die huis geval het nie.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters