9 dae gelede
Vir Martha is die moment of truth amper te groot
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede aflewering van die kortverhaal “Die Matrikulant” uit die pen van NORMAN EVERTSON.

Laas Sondag het ons kennis gemaak met Martha Adonis, wat haar bekommer oor haar matriekdogter, Mandy. Martha probeer Mandy bel, maar die foon slaan elke keer oor na voicemail.

Intussen sit Mandy langs ’n afgrond en oorweeg dit om af te spring omdat sy gr. 12 gedruip het.

Haar ma wou graag gehad het sy moet regte studeer, maar nou voel sy soos ’n mislukking.

Radeloos bel Martha die cops om haar te help om haar dogter op te spoor. Sy neem daai nag ’n slaappil om te probeer slaap.

Die volgende oggend is sers. Kleyn voor die deur. Voordat hy haar enige nuus oor Mandy kan gee, word hy weggeroep na ’n gewapende rooftog. Lees nou verder.

MARTHA is ontsteld, maar sy het ook begrip vir die polisie se werk.

Dis immers ’n baie ernstige voorval wat prioriteit moet geniet. Menselewens is dalk in gevaar.

En wie weet, dalk het sers. Kleyn goeie nuus vir haar? Sy moet net positief bly. En anyway, hulle sê mos “no news is good news”, troos sy haarself.

Sy maak vir haar ’n koppie sterk koffie om haar senuwees te kalmeer en gaan sit op die sitkamerbank. Sy neem klein slukkies van die koffie en hoop sers. Kleyn word nie te lank besig gehou by die roof-insident nie.

Sowat ’n uur later hoor Martha ’n voertuig buite stop. Sy loer deur die venster en sien dit is ’n polisiemotor. Sy storm uit en ontmoet sers. Kleyn op die stoep.

“Het jy enige nuus oor my dogter, Sersant?” val sy sommer sonder om te groet met die deur in die huis.

“Asseblief, Sersant, die onsekerheid vreet my op! Waar is my kind?” vra Martha terwyl die trane vlak in haar oë lê.

“ ’n Tienermeisie is vanoggend vroeg bo-op Duiwelskop gevind, mev. Adonis,” sê die beampte saaklik. Martha se hart klop vinniger.

“Langs haar is ’n selfoon gevind. Die screensaver-foto daarop toon ooreenkomste met die foto wat u gisteraand vir my gegee het.”

Martha raak kortasem. Haar tong voel dik.

“Water … Water, asseblief?” vra sy terwyl sy met haar hande benoud na die kombuis se kant toe beduie.

Sers. Kleyn sien hoe bleek sy raak. Hy glip vinnig die huis in en is binne sekondes terug met ’n glas water wat hy sommer uit die kraan getap het.

Martha het intussen neergesak op ’n kampstoel wat op die stoep staan.

Sers. Kleyn hou die glas na haar toe uit. Sy neem ’n paar slukkies van die water.

“Voel u beter, Mevrou?” vra hy. Sy lyk nie goed nie.

“Waar … waar is my kind nou?” ignoreer Martha sy vraag.

“Wat het haar oorgekom? Wat het gebeur? Is sy … Is sy …”

Martha voel skielik te moeg om verder te praat.

Sy gee ’n sug en toe raak dit swart om haar.

MARTHA se oë flikker oop. Sy kom agter sy sit in ’n gemakstoel. Voor haar staan ’n bed.

Iemand lê en slaap op die bed. Waar is sy? Watse plek is dit dié?

Dan dring dit stadig tot haar deur: Sy is in ’n hospitaal.

Maar hoekom? Wat de duiwel gaan aan? En wie is die persoon op die hospitaalbed met die rug na haar gekeer?

Martha kyk om. Dan sien sy hom: sers. Kleyn.

Hy staan met ’n breë glimlag in die hospitaalkamer se deur.

Hy sien die frons op Martha se gesig en stap nader.

“Wat gaan aan, Sersant? Wat maak ek hier? In die hospitaal?” vra sy verward.

“Terwyl ek jou van jou dogter vertel het, mev. Adonis, het jy ’n paniekaanval gekry.

“Ek het jou hospitaal toe gebring, en ná behandeling is jy hiernatoe gebring,” verduidelik hy.

“Maar hoekom juis na hierdie spesi-”

“Mammie!”

Martha se kop ruk om.

“Dít is hoekom,” antwoord sers. Kleyn en lag.

“Mandy? Is dit sowaar jy?” sêvra Martha opgewonde en vlieg van die stoel af op. Sy druk Mandy lank teen haar vas.

Dan draai Martha na sers. Kleyn.

“Waar het jy haar gekry, Sersant?”

“Nie ek nie, Mevrou. ’n Groep bergklimmers het haar vroeg vanoggend bewusteloos op Duiwelskop gevind.

“Dis al wat ek weet. En nou moet julle my asseblief verskoon; ek moet gaan,” sê hy.

“Wag, wag voordat jy gaan. Dankie vir alles. Ek waardeer opreg wat jy vir my gedoen het. Jy’s ’n polisieman duisend, hoor!”

Sers. Kleyn knik net glimlaggend, draai om en verlaat die kamer.

Toe Martha terugdraai na Mandy, loop dié se trane oor haar wange.

“En nou, my kind? Wat dit ook al is, alles gaan oukei wees,” troos sy. “Mammie is mos nou hier.”

Martha se gerusstellende woorde gee Mandy die vrymoedigheid om haar te vertel wat gebeur het.

Sy vertel hoe geskok en teleur­gesteld sy was toe sy haar matriekuitslae ontvang.

“Ek was een van die 2% druipelinge aan ons skool.

“Ek wou Mammie die vernedering en teleurstelling spaar.

“Ek het soos ’n mislukking gevoel, en … en toe … toe …”

Mandy se emosies kry die oorhand. Sy gaan hartverskeurend aan die huil. “Ek … wou myself … om die lewe bring, Mammie,” sê sy huilend. “Ek het tot op Duiwelskop geklim.”

Sy bedaar effens en vertel verder: “Ek was op die punt om te spring, toe kom daar skielik ’n rukwind op en waai my van my voete af. Weg van die afgrond af.

“Toe ek op die grond te lande kom, het my kop ’n klip getref. Verder kan ek nie veel onthou nie.”

“My arme, arme kind! Ek kan my indink hoe jy moes gevoel het.

“Om te druip is nie lekker nie. Dis vernederend en maak seer.

“Maar dis nie die einde van die wêreld nie,” bemoedig Martha haar dogter.

“Dankie dat Mammie verstaan,” sê Mandy skamerig. Dit voel of ’n berg van haar skouers afgly.

’N PAAR maande later – met Martha se aanmoediging en ondersteuning – lê Mandy die aanvullende matriekeksamen af. Sy slaag met vlieënde vaandels en gaan studeer teologie. Sy bekwaam haar as predikant en word die eerste vroulike predikant van hulle dorp.

Tussen haar kerklike pligte deur hou sy motiveringspraatjies by skole. Sy lê veral klem op die geestesgesondheid van leerders – hoe om die terugslae en mislukking van die lewe te verwerk en te bowe te kom.

Ja, haar ma was toe reg. Alles is nie verlore as jy matriek druip nie. Sien dit eerder as ’n tydelike terugslag.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters