6 maande gelede
Tip oor dubbele moord val net in kaptein se skoot
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede hoofstuk van KEITH MEYER se Goud Weeg Swaarder as Liefde .. . Geniet dit.

DIE affair tussen Danny Booi en Aarika Smooth was oop en bloot.
Hulle het die gesteelde liefde bloots gery.

Dit terwyl Danny se vrou, Mehandra, die hoof van die plaaslike hospitaal was en die res van die gemeenskap van die affair geweet het.

Nadat Danny en Mehandra uiteindelik in die skeihof beland het, het Aarika haar sin gekry en vir Danny met ’n ring in sy linkerringvinger gesteek.

Die noodlot het egter besluit goud weeg swaarder as die liefde.

Twee liggame, dié van Danny en Mehandra, is kort na mekaar gevind. Alle vingers het na die sexy Aarika gewys. Die gemeenskap was in rep en roer.

“Dis reg so. Boontjie kry sy loontjie. Danny het sy loontjie gekry, die sleg ding.

“En nou gaan Aarika ook aan die pen ry.

“Ek kry net die arme Mehandra baie jammer. Sy het dit nie verdien om ook vermoor te word net omdat daai twee nie hul lus agter zips kon hou nie,” het pastoor Niemand die woord gespreek.

Berigte in Die Towernaar, geskryf deur die misdaadjoernalis Melvin White, het gelui dat Aarika vir die moord op Danny en Mehandra gearresteer is.

Dit was die omstandigheidsgetuienis wat daarop gedui het Aarika is die dubbele moordenaar.

Met-surance, die versekeringsmaatskappy, het aan White bevestig Aarika is die begunstigde van ’n polis van Danny. En omdat Mehandra nog nie haar polis­begunstigde verander het nie, was Danny die begunstigde.

Dit het Aarika dus die langs­lewende in daardie polis gemaak.

Die hofsaak teen Aarika het uiteindelik begin.

Haar lawyer, die hotshot Freek Morris, het in die hof ge-shine.

“Edelagbare, dit is beslis nie moontlik dat my kliënt, Aarika, die moordenaar is nie. Sy het ’n waterdigte alibi.

“Daardie noodlottige nag van die moorde was sy in Polokwane en nie in die Wes-Kaap nie.

“Hier is al die evidence. U kan dit gerus met Hotel Zion verify. Dit is dus duidelik dat daar ’n ander moordenaar moet wees.”

Aarika kry borgtog en smaail al die pad bank toe.

Sy begin reeds organise dat sy haar trek na haar suster in Botswana gaan neem.

Maar eers moet sy twee polisse opeis – die R2,5 miljoen van Danny en die R3 miljoen van Mehandra, waarvan sy volgens reg die langs­lewende is.

Mehandra se pa, dokter Jannie Oerson, ruik egter ’n rot en stel kapt. Conor September, ’n privaat speurder, aan.

September spring aan die werk.

Hy sit die stuk in op na Polo­kwane en Hotel Zion.

Alle aanduidings is dat geen persoon met die naam Aarika daar ingeboek was nie.

“Maar hoe het sy en haar lawyer dit reggekry?

“Ek sal nie rus voordat ek hierdie kitsmiljoenêr agter tralies laat sit nie,” sweer kapt. September.

Fyn speurwerk plaas kapt. September op die spoor van Aarika se lawyer.

Die joernalis White kom hiervan te hore.

“Swart Weduwee weer in hof. Prokkie nou ook beskuldigde,” skryf White.

Die koerante verkoop behoorlik soos soetkoek.

Die hofsaal is gepak en vele kry nie sitplek nie.

Peter Reed, die staatsaanklaer, perform like hell.

“Aarika en Morris lieg soos die spreekwoordelike tandetrekker.

“Dit is duidelik Aarika is nie die enigste suspect nie. Sy moes hulp gehad het.

“Net ’n man kon Danny daardie wonde gegee het. Mehandra het soveel naelmerke teen haar nek en gesig gehad, dit kon net die werk van ’n evil vrou gewees het,” het Reed die hof staan gemaak.

Die landdros weier borgtog. “Julle het wederregtelik saamgesweer om ter wille van geld twee mense se lewens te beëindig.

“Daar is die moontlikheid dat julle met die polisgeld landuit kan escape as die insurance uitbetaal.

“Jul volgende hofverskyning is oor drie maande. Tot dan bly julle in aanhouding.”

’n Oproerige skare in die galery juig van blydskap.

Die families van die slagoffers is doodtevrede.

Nou moet kapt. September vinnig speel voordat die insurance company dalk die geld by Aarika se account inbetaal.

Die insurance company se verklaring lui: “Die insurance regula­tions bepaal die hand wat bloed aan het, mag nie erf nie.

“En dit blyk nou moontlik die geval te wees.

“As die hof vir Aarika nie aan moord skuldig bevind nie, kan sy steeds erf. Ons wag vir die hof se uitspraak.”

Dan kry kapt. September uit die bloute ’n call.

“Ek is ’n eyewitness van die happenings om altwee daai moorde.

“Ek is ’n bergie van wie niemand note vat nie. As ek piemp-money kan kry, sal ek evidence gee wat die moordenaar in die tronk sal laat beland.

“Ek het ’n cellphone, nie ’n slim phone nie, maar dit kan darem pics vat.

“Betaal my en jy kry die phone en die pics,” sê ’n bewerige stem oor die foon aan September.

Die kaptein stem in om die bergie agter die ou skoolkoshuis te kry.

’n Halfuur later weet September hy het ’n prima facie-saak.

Cellphone pics wat in die hof toelaatbaar is, gaan die staat se saak suksesvol maak.

Die hof is met die volgende hofverskyning weer volgepak.

Staatsaanklaer Reed is aan die woord: “Edelagbare, ek het onweerlegbare bewyse wat sal toon wie die twee persone vermoor het.

“Dis duidelik dat dieselfde persoon vir albei moorde verantwoordelik was en dat dit nie twee persone was nie. Die moordenaar was slu genoeg om dit te laat lyk asof een moord deur ’n man en die ander deur ’n vrou gepleeg is.

“Ek stel dit aan die hof dat die moordenaar prokureur Freek Morris is.

“Aarika was wel in Polokwane, by Hotel Zion, het ek ná ’n tweede ondersoek vasgestel.

“Ongelukkig is daar geen bewyse dat sy met Morris saamgesweer het ter wille van die helfte van die polisgeld nie.

“Morris is dus alleen aanspreeklik vir die moorde.

“Ek vra dat u lewenslange gevangenisstraf aan hom sal oplê.”

Die landdros gaan akkoord en vonnis Morris tot twee keer lewenslank.

Aarika, wat heeltemal in pers geklee is, smaail breed in goud ...

  • Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters