7 maande gelede
Sy wil Haakneus haakskene in die 400 m-resies wys
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die laaste van die drie hoofstukke van MARIANA LOOTS se verhaal Die Wedloop. Die storie gaan oor Lien wat ná haar ma se dood by ’n nuwe skool moet aanpas. Sommer op haar eerste dag het sy swaarde gekruis met een van haar klasmaats, en dit lyk of dié rivalry op iets afstuur. Sal Lien ook hierdie uitdaging te bowe kan kom?

DIS sterk op pad vieruur toe.

Lien lê nog net so in haar skoolklere op haar enkelbed.

Die gestopte tas wat haar so verraai het, het sy daar doer in die hoek gesmyt. Sy het nog nie weer daaraan geraak nie. Die kwaadgeid van vroeër het effens bedaar.

Nou wil sy net huil. As sy genoeg geld gehad het, het sy weggeloop.

Sy dink nie sy kan haar gesig ooit weer buite die huis wys nie, wat nog te sê van by die skool!

Die vernedering is dood­eenvoudig te groot.

Dalk sal ouma Lien se familie in Upington haar invat. Die kwartaal het nog nie so ver gevorder nie; sy sal die skoolwerk maklik kan inhaal.

SLAAPTYD

Dadelik voel Lien skuldig. Wat van haar pa?

Vandat hulle hierheen getrek het, is dit asof hy nóg stiller is. Hy sê net saans hallo, vra wat hulle eet, vra die seën vir die kos en sê dankie wanneer sy afdek. Dis maar al.

Verder sit hy tot slaaptyd op die stoep. Soms luister hy draadloos; meestal nie.

Hy slaap darem nou weer in die hoofslaapkamer.

’n Diep sug stoot in Lien op. Wegloop kan sy nie; dis nou net sy en haar pa.

Sy draai op haar maag en druk die kussing onder haar in.

Nee, weghardloop is nie hierdie slag ’n opsie nie.

Die geluid van pootjies kom in die gang af. Swaaistert kom Basjan om die hoek en kom lek haar hand.

“Ja, Ounooi, se honne, wat maak jy? Het jy al weer onder die doringboom gelê? Sies, kyk hoe vol gemors is jy!”

Sy trek hier en daar iets van sy pels af.

Dis duidelik die hond kort ’n bad, maar daarvoor sien sy nie nou kans nie. Dalk môre.

Basjan is so opgewonde toe sy opstaan, sy kan nie anders as om gewone klere aan te trek en sy leiband te gaan kry dat hulle ’n draai gaan stap nie.

Lien kies koers na die buitewyke van die dorp en sy en Basjan hyg ewe hard toe hulle eindelik bo-op een van die steil rantjies staan. Daarvandaan het ’n mens ’n mooi uitsig op die dorp.

Lien draai stadig om te kyk na wat agter haar lê, en dis toe dat die idee by haar posvat.

Aan die ander kant van dié rantjie is die leë dorpsdam. Wyd, plat en oop.

Perfek vir as ’n mens alleen wil oefen sodat jy teen Lentedag goed fiks kan wees en ou Haakneus hakskene wys!

Daardie eerste dag bars Lien behoorlik.

Sy kan nie glo hoe onfiks sy geword het nie.

Dit voel of die baan wat sy vir haar afgetree het, met elke rondte groter word.

Sommer by die eerste groot klip fluit haar bors al soos ’n kleinerige trein en die stof kom sit dik in haar neus.

Sleepvoet stap sy huis toe, maar die volgende middag is sy terug.

Die uit-die-hoogte-kyke wat sy van haar klasmaats kry, en Hester en haar vriendinne se gesnuif in die lug wanneer sy verbystap, dryf haar voort.

Iemand vra dan altyd of die ander ook guavas ruik, en soos altyd volg ’n gegiggel. Tewe!

Maar elke week word haar bene sterker, en tevrede sien Lien hoe die tyd op die ou stophorlosie uit die laai nader kruip aan die skool se rekord.

Toe die seisoen draai, het sy nog gô wanneer sy by haar eindstreep die horlosie se wysertjie stop.

Eindelik breek die Lentedag­atletiekbyeenkoms aan.

Lien se lyf tintel terwyl sy wag dat dit tyd word vir die 400 m. Sy weet sy kan dit doen, sy weet sy kan Hester klop.

Die maande se geoefen het vrugte afgewerp en die vorige naweek al het sy haar atletiekklere silwerskoon gewas sodat niks haar aandag kan aftrek nie.

Dit word tyd. Hester is ook in die groep, en nog een of twee van haar getrouste volgelinge.

Lien kan eintlik voel hoe geskok die ander atlete is om haar daar te sien.

Niemand het geweet sy gaan deelneem nie – net juf. Smit, want sy het die name opgeskryf.

Mnr. Joubert sê hulle moet aantree.

Lien se hart dawer so in haar ore en sy wonder of sy ooit die wegspringskoot gaan kan hoor. “Op jul merke, gereed, gaan!”

Die knal bars uit die afsitpistool en kragtig skiet die meisies uit die blokke.

Lien se lyf weet wat dit moet doen. Sy raak skaars aan die grond terwyl sy met lang hale wenstreep toe nael.

Ver links van haar kan sy Hester se geel T-hemp uitmaak, maar dit bly wegraak.

Dit beteken ... Sy’s voor! Iewers vandaan kry sy nog spoed en sy haal alles uit toe sy die laaste draai nader.

Die skare gaan mal; dit gebeur nie aldag dat iemand Hester September troef nie.

Te laat sien sy die los gruis­klippies in haar baan.

SNIKKE

Lien plant haar linkervoet daarop.

Dis glad nie stewig nie, en haar verweerde tekkie kan nie klou nie. Sy gaan val!

Sy slaag net-net daarin om nie die meisies weerskante van haar te laat struikel nie.

Lien bly net lê. Snikke stoot in haar op, en sy kan voel haar been is vel-af.

Om nie te praat van hoe vol stof sy is nie!

Die grootste snik ontsnap toe sy daar van die jillende skare se kant af hoor: “Lien, Lien, lyk so pristien, daa’ gat sy gat oor kop, dat jy net guava sien!”

Met ’n vuil arm vee sy die nattigheid aan haar gesig weg.

Duskant haar kop kan sy ’n hand uitmaak. ’n Hand wat vas is aan ’n karamelbruin arm. ’n Pragtige, gespierde arm.

“Is jy orraait, Lien? Jy’t so mooi gehol; ek dog jy gaan wen.”

Die snikke verdamp meteens en sy kyk op. Die uitgestrekte arm rank op tot by twee liggroen oë waarin ’n lig gloei wat Lien nog nooit gesien het nie.

“Ja, ek dink so, dankie,” antwoord sy terwyl sy haar orent druk.

Haar elmboog protesteer, en sy vat die hand voor haar om haar te stut terwyl sy opstaan.

Aan die gejuig kan sy hoor Hester het toe wel die wedloop gewen. Sy los die hand en begin die stof uit haar klere klap.

Warren beweeg nie weg nie. Een elmboog word uitgestoot na haar kant toe.

“Shall we?”

Hy glimlag, en toe hulle oor die steiltetjie om die atletiekbaan beur, dwarrel die laaste stowwerigheid van Lien af.

  • DIE EINDE

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters