3 maande gelede
Santie besluit om op haar eie huis toe te loop
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste deel van ’n lekker kortverhaal uit die pen van NORMAN EVERTSON. Hy noem dit Die Pad Huis toe Voel Langer.

Dis Vrydagaand, net voor middernag. Santie Marais en twee van haar vriendinne geniet ’n paar drankies by die Action Sports Bar.

Dis die begin van die naweek en die gewilde drinkplek wemel van die mense.

Dis ’n deurmekaar gelag en gesels, soos dit mos maar gaan by sulke plekke.

Sommiges is daar om die week se werkstres vir ’n ses te slaan met hul gunsteling-drankie.

Ander sommer net vir ’n lekker kuier saam met vriende en kollegas.

Hoe dit ook al sy, die atmosfeer is lekker lig en ontspanne.

Santie-hulle kuier al van vroegaand af en Bettie en Diena smaak nou vir huis toe gaan.

Hulle werk nog die volgende dag, wat oor sowat ’n kwartier aanbreek.

Santie wil egter niks weet van huis toe gaan nie.

“Ag, komaan, julle! Moenie sulke paartie poopers wees nie. Die aand is nog jonk,” probeer sy hulle ompraat.

Hoewel hulle baie graag wil gaan slaap, wil hulle darem ook nie vir Santie agterlaat nie.

Veral nie met die gerugte van ’n reeksverkragter in die omtes nie.

Hulle is bekommerd oor haar veiligheid.

Santie dink dis net bangmaakpraatjies, ten spyte van die feit dat dit op almal se lippe is.

Bettie en Diena neem dié gerugte egter ernstig op.

Liewer bang Jan as dooie Jan, reken hulle.

Hulle is geworry dat Santie dalk die verkragter se volgende victim kan word wanneer sy later alleen huis toe moet loop.

En as dít moet gebeur, sal hulle hulself nóóit vergewe nie. Veral nie as hulle dit kon verhoed nie.

Santie is egter kliphardegat en eiewys. Sy het klaar haar mind opgemaak.

“I’m going nowhere ... slowly,” spot sy met hulle. “Serial rapist ofte not!”

Ja-nee, die influence van die drankies op haar judgment is duidelik.

Dit maak haar braaf en dubbeld so beneuks as gewoonlik.

Diena en Bettie se gesoebat, mooi praat en dreigemente val op dowe ore.

Santie bly vasskop soos ’n steeks donkie.

Uiteindelik gee haar vriendinne maar bes en blaas die aftog ... sonder haar.

Santie bly toe agter en geniet nog ’n paar drankies ...

Agter in die bar sit ’n eensame figuur by ’n ronde tafeltjie.

Hy teug aan sy dop, maar sy oë is die meeste van die tyd op Santie gerig.

Hy is in donker klere geklee, swart jeans, ’n swart hoodie en ’n donkerbril op sy oë.

Hy het ’n baseball-pet op sy kop met die kappie van die hoodie bo-oor getrek. So ’n regte dodgy karakter.

Maar Santie is salig onbewus van dié ou wat haar so beloer.

Sy is buitendien heeltyd met haar selfoon besig. Dis Facebook, WhatsApp en selfies neem, you name it ...

Toe haar oë per abuis die tyd op haar selfoon vang, sien sy dis byna twaalfuur.

Sy sluk vinnig die laaste bietjie voggies in haar glas af en maak aanstaltes om te loop.

Toe sy opstaan, swik haar bene byna onder haar in.

Die dodgy ou is vinnig by om haar ’n helpende hand te bied.

Hy gryp haar net betyds aan albei skouers en keer só dat sy op die vloer beland.

Hy hou haar ’n oomblik vas totdat sy haar ewewig herwin.

“Oppas! Kyk nou net ...” sê hy met ’n glimlag.

“Los my uit! Ek kan self regkom!” snou sy die ou toe en ruk terselfdertyd haar arm los uit sy greep.

Hy deins terug en lig sy hande langs sy sye, amper soos wanneer iemand gehensop word.

“Oukei, oukei, oukei ... Dis nie nodig om ’n aar te bars nie. Suit yourself dan maar ...”

Hy los haar toe net so en verlaat die Sports Bar.

Santie raak bewus van ’n intense nood wat haar dwing om eers gou ’n draaitjie in die toilet te gaan maak.

Ná sowat tien minute verlaat sy toe ook die kuierplek, huiswaarts.

Dit is toe reeds ná twaalf.

Die vars oggendlug verrig wondere vir haar.

Haar verstand is sommer helderder.

Sy is ook stewiger op haar voete en voel heeltemal in beheer van haarself.

Santie stap selfvoldaan in die straat af.

Sy merk op die strate is darem vreeslik stil en verlate.

Die straatligte is flou en wyd uitmekaar versprei.

Sommige straatlampe is boonop dood of beskadig.

Dit laat die gebied waarlangs Santie moet loop plek-plek met baie donker areas.

Sy loop op die oomblik in ’n beligte gebied.

Maar kort voor lank gaan sy die eerste donker area bereik.

Dis wanneer sy voor by die stopstraat links moet draai.

Die selfvoldaanheid van ’n paar minute gelede verdwyn soos mis voor die son.

Sy loop so normaal as moontlik, maar vrees het van haar binneste besit geneem.

Sy’s bang.

Sy is bitter spyt sy het nie maar saam met Bettie-hulle geloop nie.

Dit is só onheilspellend stil.

’n Motor met swart getinte ruite kom stadig van voor af aangery en stop by die stopstraat wat sy ook nou nader.

Dit voel vir Santie of die kar onnodig lank by die stop vertoef. Waarom ry hy nie?

Sy kan nie in die motor sien nie en weet nie hoeveel insittendes in die voertuig is nie.

Ook nie of dit mans of vroue is nie. Hou hulle haar dalk dop? wonder sy.

Wag hulle dalk tot sy naby genoeg aan die motor is om haar te gryp?

Moet sy vlug, begin hardloop? Of moet sy net doodluiters aanstap?

Haar hart klop in haar keel, haar gedagtes is ’n warboel! Wat moet sy doen?

Dan merk sy op die regterflikkerlig is aan.

Die motor draai stadig na regs, vermeerder geleidelik spoed en ry verder.

Sy is verlig toe die rooi agterligte van die kar uiteindelik uit haar gesigsveld verdwyn.

Sy kom by die stopstraat aan waar sy links moet gaan, in die teenoorgestelde rigting as wat die motor gery het.

Maar dis juis hier waar die donker gedeelte begin. Daar is geen beligting nie.

Santie huiwer op die rand waar die laaste straatlamp se lig ophou skyn. Sy is bang om verder te loop.

Sy kyk om haar rond, maar daar is nie ’n lewende siel in sig nie.

Sy skraap al haar moed bymekaar en betree onseker die donker area.

  • Lees volgende Sondag verder.

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters