2 maande gelede
Pontius se eie liggaam word nou sy mang
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n sci-fi-kortverhaal deur JOE BOTHA. Hy noem dit Vonnis.

DIE droom is elke aand dieselfde. Tot in die kleinste detail. Hy lei ’n lewe van diens en liefde vir sy medemens, vir sy gesin. ’n Aangename, geordende lewe. Die lewe wat hy kón gehad het ...

Maar selfs in sy slaap voel Pon­tius Stansfield aan iets is fout. Want dis nie hý nie. In dié droom kan hy homself nie herken nie.

Dié geblikte drome is die werk van die Wes-Kaapse gevangenisdiens. Die psigiater het dit aan Pontius verduidelik. ’n Bietjie stimulasie van sekere areas van die brein in REM-slaap gee gevoelens van vrede en naasteliefde. Dan vul die brein self die details in.

“Kunsmatige geheue-engrams,” het die witjas dit genoem.

Die droom is deel van sy rehabilitasie. Of soos Pontius dit noem, sy herprogrammering.

Die droom speel oor en oor af totdat die polisie se nanorobots in sy bloedstroom hom elke oggend klokslag 05:00 wakker maak om sy burgerlike pligte te gaan uitvoer.

Daar’s nie ’n alarm wat afgaan of ligte wat aanskakel nie. Hy skrik net wakker.

Pontius se straf is 90 dae vir die besit van stroom. Dis ’n programmeerbare, digitale dwelm wat die gebruiker se sintuie oorlaai met WiFi-geraas. Terwyl die stroom-kode loop, is ’n mens salig onbewus van die biososiale netwerk se alewige nuus, advertensies, foto’s en statusse van vriende, kollegas en kennisse.

In die stroom is jy alleen.

Voor die dae van die biososiale netwerk was dinge anders. Daar was geen behoefte aan stroom nie, want jy kon net jou rekenaar afskakel of jou selfoon neersit.

Maar toe biotegnologie in die vroeë 2040’s in die liggaam los­gelaat is, het alles verander. Die opgradering van sosiale netwerke na ’n biososiale netwerk het be­teken almal was altyd aanlyn.

’n Paar het gekies om nie by die bionet se alewige gezoem van inligting te integreer nie. Vir hulle het dit dadelik ’n groter wordende agterstand beteken. Die tegnologie was net te nuttig om nie te gebruik nie. En só het die mens sy siel in die naam van vooruitgang aan die masjien verkoop.

Terwyl Pontius aantrek, onthou hy sy pa se stories oor sy jong dae, toe gevangenes nog soos krioelende miere in geboue aangehou was. Die mang, het hy dit genoem.

Daar het niemand verantwoordelikhede gehad nie en die staat het vir almal gesorg. Klink nogal na ’n jol.

Dit was die goeie ou dae. Vandag werk dinge anders. Vandag word ’n mens nie tussen vier hoeke toegesluit nie. Al die tronke is oopgestel en word nou vir ander doeleindes gebruik.

Noudat die cops nanotegnologie gebruik, is jou eie liggaam jou gevangenis. Selfs jou denke word gepolisieer – soos met die droom.

Pontius bekyk homself in die spieël en wonder of iemand saam kyk. Die nano’s neem alles op wat sy oë sien en sy ore hoor. Alles gaan via die biososiale netwerk na die SAPD se sentrale monitorkantore in Buitenkantstraat.

Daar ontleed masjiene die data en bepaal of sy gedrag afwykend is. Konstabels mag net van tyd tot tyd op veroordeelde misdadigers se voere inloer. Die masjien is jou paroolbeampte.

Pontius bestudeer sy polisie-tjappie. In die halflig gloei die syfer 89 bo sy linkerwenkbrou ’n dowwe SAPD-blou – 89 dae ... Môre sal sy vonnis verstryk. Sy toegang tot die biososiale netwerk sal verbreed om weer sportkanale, forums en die netwerk in die algemeen in te sluit. Die polisietatoe bo sy oog sal verdwyn en saam met al die ander nano’s in sy rektum vergader vir uitskeiding. Hy oorweeg die woord: ontlasting. Inderdaad … Dit gaan ’n moerse load off wees.

“Laaste dag,” sê hy plegtig aan die Pontius in die spieël, wat baie ingenome met homself lyk.

Uit die kombuis trek die sagte gezoem van die voedseldrukker sy aandag. Terwyl hy sy vonnis uitdien, is daar net twee files op die spyskaart: Weet-Bix en mieliepap.

Dis die staatsgewaarborgde oggend­ete. Ander keuses, soos spek en eiers en wafels, sal eers weer op die menu verskyn wanneer sy vonnis klaar is.

Vir middagete en aandete is daar ook nie juis veel wat Pontius noodwendig self sou kies nie – net voedsame, gebalanseerde, verbeeldinglose kos.

Ná ontbyt vang Pontius tussen die miernes van aktiwiteit in Town Centre, Mitchells Plain, ’n taxikopter na die George and Annie Starck Homes­ in Bellville, waar hy gekies het om sy gemeenskapsdiens te verrig.

Sy take behels om kos aan te dra, bedlêende bejaardes te help afwas en diegene geselskap te hou wat al so oud en hulpeloos is dat hulle nie meer die biososiale netwerk kan gebruik nie.

Die werk is nie veeleisend nie, maar Pontius het ’n ander rede om hier diens te doen. Dis waar Gerber sy laaste dae slyt.

Gerber was in die 2060’s ’n kolonel in die polisie. Maar hy het ook ’n talent vir korrupsie gehad en sy ander voet was vierkant in die Kaapse onderwêreld geplant.

Wapens, dwelms, prostitusie, noem maar op – Gerber het ’n vinger in elke pastei gehad. Hy ken nog baie van die ou garde aan albei kante van die gereg. Dus, ’n nuttige man om mee vriende te wees, selfs op sy oudag.

Nadat Pontius die oumensies met hul oggendete gehelp het, kies hy koers na waar Gerber op die stoep sit. Oënskynlik speel hulle skaak, maar wat hulle eintlik doen, is om op ’n subtiele manier deur hul skuiwe en die aanraking van sekere stukke te kommunikeer.

Die polisie se stelsel weet nie van die bestaan van dié spesifieke kodetaal nie. Dit laat ou gangsters soos hy en Gerber toe om hul planne ongehinderd te smee.

[Is jy gereed vir môre?] sein Gerber deur middel van die skaakspel toe Pontius oorkant hom inskuif.

[Ja, ek het die adres gememoriseer] antwoord Pontius en tik met sy wysvinger teen sy voorkop soos iemand wat hard oor sy volgende skuif dink. [Ek sal 09:00 daar wees om die stroom vir Uncle op te tel. Dis 6 000 datapakkies, nè?]

Gerber knik.

Daardie aand droom Pontius vir oulaas van sy gestruktureerde andermanslewe binne die law. Toe hy die volgende oggend 06:20 wakker skrik, voel hy vir die eerste keer weer soos homself.

Hy kyk gou na die files op sy WiFi-netwerk en sien hoe prentjies van heerlike spek en eiers, wafels, muesli en al die ander in die hoek van sy oog opdoem. Sy vonnis is verby en dis tyd dat hy weer sy klein, onbeduidende plekkie in die tegno-maatskaplike gemeenskap inneem.

Maar hy is nie ’n onnadenkende mier in dié samelewing nie. Hy is Pontius Stansfield, dwelmmuil vir Johnny Gerber, vegter vir die verspreiding van stroom, kam­pioen vir menslike vryheid – en hy was nog nooit so lief vir die biososiale netwerk nie.

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters