3 maande gelede
’n Topspeurder word ingeroep vir Robin Hood
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n splinternuwe kortverhaal oor armoede en oorlewing uit die pen van KEITH MEYER. Hy noem dit Robin Hood se Geheim.

ARMOEDE hang swaar in Die Oukas, die lokasie van die dorpie Robertson.

Die gemeenskap is meestal werkloos.

AllPay en kinder-pay is basies al wat die community laat survive. Ook maar net-net.

En die alewige crime wat die community haunt, loop hand aan hand met die alomteenwoordige drugs.

Selfs laities mert nou vir die pot en natuurlik om die big buyers aan die gang te hou.

By Kenfakkie en Stur hang ammil rond op soek na iets vir die pot.

En die “Asseblief ’n R2’tjie” hou ook nie op nie.

Die cops kan nie voorbly met die inbrake nie.

Kapt. Ralph Mostert, die stasiekommissaris, is ’n man met deernis, maar hy moet ook maar net die wet toepas.

Op die wintersaand van 10 Julie word die brandweer uitgeroep na ’n matjoks wat in Die Oukas brand.

“My hele gesin se alles is uitgebrand. Die kos wat ek net gister met my en my man se AllPay gekoop het, ons ID-boekies, ons klere, ons begrafnisboekies ...

“Ons is kaal-kaal. Nakend soos ons nou hier staan,” kla twee oumense.

Toe, drie aande later, gebeur daar iets ... Daar word twee sakke kos voor die welsyn se kantoor ontdek met die name van die oumense daarin.

Die next dag word daar ’n inbraak by een van die winkels ontdek. Dit lyk asof daar net kos gesteel is.

“Ek vermoed die kos van die oumense is daar gesteel,” laat hoor Mostert.

’n Week later versprei die nuus van ’n broodwinner wat sy arms by die werk gebreek het en die gesin wat nou suffer omdat daar niks is om te eet nie.

Weer word daar in die nag voedsel by die huis neergesit.

Niemand weet waarvandaan dit kom nie, maar dit verlig die nood van nog ’n honger familie.

En daar was weer ’n inbraak by ’n ander koswinkel.

“Ek vermoed weereens dat daardie kos van gesin nommer twee daar gesteel is.

“Ons moet die booswig wat hom as samaritaan voordoen, aankeer.

“Whether hy nou ’n golden deed doen of nie. Niemand mag die reg in eie hande neem of hom of haar bo die wet verhewe beskou nie.

“Dis tyd vir toeslaan,” spoor Mostert sy manne aan.

Die dorp is in rep en roer.

“Dis reg so. Die mense suffer. Ons sal hierdie Robin Hood nie laat vang nie.

“Ons moet saamstaan, want dis net hy wat die nood van die noodbehoeftiges aanspreek,” het past. Rademeyer, ’n gemeenskapsaktivis, laat hoor.

Die druggies steel intussen ook die kleuterskool se hele kosvoorraad wat vir die voedingskema bedoel is.

Nou is die gemeenskap weer up in arms teen die druggies.

Toe juffrou Girl Parson haar kleuterskooltjie, Besige­ Bytjies, die next oggend weer oopmaak en wonder waar die kiddies se next meal vandaan gaan kom, wag daar vir haar ’n big surprise – die hele kombuisie is toegerus met al wat kindervoedsel is – melk, pap, brood, jam, peanut butter, soya mince ... you name it en dis daar.

Juffrou Parson begin huil: “Ek weet die Here het hierdie weg vir ons kiddies gemaak.

“Maar ek weet dat hy ons eie Robin Hood gebruik as instrument om al die wesies en weduwees by te staan.

“As ons maar net geweet het wie hy is, dan het ons hom bedank,” laat hoor sy.

Die cops staan steeds met pap op die gesig, want dié Robin Hood vat hulle dan elke liewe dag vir ’n ride.

Nie eens die buurtwaglede wat die dorp se winkels oppas, kan Robin Hood aankeer nie.

Nie dat die gemeenskap wil hê hulle moet hom vang nie, want hy sorg dan so goed vir die community in need.

Dan word daar op een van die misdaadtonele ’n badge van die Suid-Afrikaanse polisie gekry.

Leidrade word nou met die spoed van wit lig opgevolg.

“Ek vermoed dis een van ons lede wat Robin Hood speel.

“Vang ek hom, kla ek hom persoonlik aan en jaag hom weg.

“Hy is ’n dief en klaar.

“Die kerke en die welsyn is veronderstel om mense in nood te help, nie ’n dief met die naam Robin­ Hood nie.

“Steel van die rykes om vir armes te gee, is steel en klaar,” raas kapt. Mostert weer met sy manne in blou.

Dan besluit die polisie se senior management dit is tyd dat die beste speurder in die Suid-Kaap opgekommandeer moet word om te kom help met die ondersoek.

Kapt. Connor September, baasspeurder, kry dié belangrike assignment: Vang Robin Hood – dead or alive.

Die gemeenskap is egter weer up in arms.

Hulle weier dat September en sy eie span hul geliefde Robin Hood kom vastrek. Daarvoor het hulle net te lief vir hierdie onbekende figuur geword wat nood verlig.

September besluit om ’n trap te stel vir die moderne, gladde en glibberige Robin Hood.

So seker is September dat sy plan gaan slaag dat hy selfs vir Mostert deel van sy plan maak.

Hierdie keer wag September geduldig vir nog ’n geval waar daar ’n nood in die gemeenskap ontstaan.

En soos die noodlot dit wil hê, word daar by die kerk ingebreek en al die musiekinstrumente gesteel.

Nou wag September dat daar by ’n musiekwinkel ingebreek moet word.

“Kapt. Mostert, jy moet alleen die winkel oppas.

“Ek sal by die kerk wag dat die musiekinstrumente daar ge-dump gaan word.

“Dan vang ons hierdie Robin Hood,” besluit September.

So gesê, so gemaak, so gedaan.

Daardie nag besluit September om sy planne te wysig.

Soos altyd volg hy sy sesde sintuig.

Hy waak saam met Mostert by die musiekwinkel, maar hy deel nie sy gewysigde strategie met Mostert nie.

Enkele minute ná middernag slaan Robin Hood toe by die musiekwinkel.

September skuil in die ceiling van die winkel.

Toe merk hy in die donkerte – want daar was skielik ’n kragonderbreking – ’n lang, lenige figuur op.

Die figuur tree met kalmte en geen haas op nie, so asof hy heeltemal in beheer is van die situasie en weet die cops is nie naby die winkel nie ...

Hy is besig om musiekinstrumente na ’n polisie­­vangwa uit te dra ...

 Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters