7 maande gelede
’n Klop aan die voordeur dop ’n aand op sy kop
 ~ 

DIÉ storie handel oor ’n man in sy laat 50’s wat die manuskripte van aspirant-skrywers proeflees. Van die inwoners beweer hy het nie ál sy varkies op hok nie, maar hy maak dit af as skinderpraatjies. Kom ons vind nou maar self uit wie die verkeerde party is in “Die Proefleser”, ’n kortverhaal deur CHRISTO MEYER.

EK SIT in my studeerkamer, my aandag by ’n manuskrip van ’n onbekende skrywer uit Kimberley se wêreld.

Ek het nog nooit van hom gehoor nie, maar voorspel sy naam gaan een van die dae op almal se lippe wees. Daar bestaan by my geen twyfel dat die man oor uitsonder­like skryftalent beskik nie.

Hy verstaan die tegniek om spanning te skep, sy karakters in te kleur en die leser gedurig aan die raai te hou.

Wanneer laas het ’n storie my sommer uit die staanspoor geboei?

En die struikelblokke wat hy oor sy hoofkarakter se pad laat kom, maak dit moeilik om te glo hy het nog nooit voorheen enigiets ge­publiseer nie.

Te oordeel na dit wat ek tot nou gelees het, gaan dié debuut­roman ’n wegholsukses wees.

Met die regte bemarking behoort hy in die eerste maand van publikasie die topverkoperlys te haal.

Ek sal die skrywer graag persoonlik wil ontmoet en van my jare lange kennis met hom wil deel. Ek dink nie hy besef hoe talentvol hy werklik is nie.

Hy’t my ’n tyd gelede gekontak om te hoor of ek kans sien om sy manuskrip te proeflees.

“Teen vergoeding, natuurlik,” het hy bygevoeg.

Aangesien ek nie meer naastenby so baie manuskripte soos voorheen ontvang nie, het ek dadelik ingestem. Wat het ek in elk geval om te verloor?

Waarom voornemende skrywers nie meer so gereeld van my dienste gebruik maak nie, weet nugter alleen. Ek was nog altyd eerlik in my kommentaar.

Hulle verwag tog nie ek moet lieg en hul middelmatige pogings goedpraat en maak asof dit nie wemel van foute nie?

Tot dusver is ek beïndruk. Die eerste paar hoofstukke toon potensiaal en dit sal interessant wees om te sien wat volgende gebeur.

Soms daag hier tekste op waar ek sommer in die eerste paragraaf al agterkom die persoon kan nie skryf nie.

Hoekom sulke mense hul geld op proeflesers mors, sal seker net hulle weet.

Die voordeurklokkie lui. Ek haal my leesbril af en sit dit versigtig op die lessenaar neer.

Ek sluit my oë ’n rukkie en haal diep asem. Miskien is dit tyd vir ’n blaaskans.

Dis seker weer my buurman wat ’n hamer of skroewedraaier kom leen. Hy moet leer om sy eie gereedskap aan te skaf; my huis is nie ’n ysterwarewinkel nie.

Ek maak die deur oop en dit voel of my brein vries toe ek sien wie voor my staan.

Kan dit hy wees? Is my oë nie besig om my te bedrieg nie?

Die inwoners hier rond sê reeds ek het nie al my varkies op hok nie. Hulle hou vol my kop haak partykeer uit en dat ek my gereeld dinge verbeel.

Verdomde skinderbekke. Natuurlik jaloers omdat ek nie juis met hulle meng nie.

Ek makeer niks. Net omdat ek in my laat 50’s is, beteken nie ek is van lotjie getik nie. Ek weet wat om my aangaan.

“Naand, Oupa,” groet Dewald. Die wind sny deur murg en been, maar die kind is sowaar kaalvoet.

Hy het net ’n kortbroek en T-hemp aan. Kry die seun dan nie koud nie?

“Naand, my kind. Het jou ma jou gestuur?”

“Nee, Oupa. Ek het sommer kom kyk hoe dit met Oupa gaan.”

“Nou kom binne. Lyk my julle kinders voel nie die koue nie.”

Hy kom in en maak hom kop onderstebo op die naaste bank tuis.

Ek wonder wat dit is wat aan hom krap. Hy is nooit so stil nie.

Het sy ma hom dalk kwaad gemaak? Ek weet ook dit gaan my niks baat om te probeer uitvis nie.

Dewald is ’n ander tipe kind. Hy sal self praat wanneer hy so voel.

“Ek het boontjiesop gemaak. Wil jy hê?”

Hy skud sy kop.

“Ek is nie honger nie.”

“Jy weet nie wat jy misloop nie. Hoe gaan dit by die skool?”

“Skoolgaan is boring.”

“Hoe so?”

“Sommer net.”

“Skool is belangrik, Dewald. As jy mooi leer, kan jy eendag universiteit toe gaan en iets van jou lewe maak.

“Hoekom kom kuier jou ma glad nie meer vir my nie?”

Hy trek sy skouers op.

“Kan ek vir jou ’n storie lees?”

“As Oupa wil.”

“Nou maar goed, wag net hier. Ek kry gou ’n boek.”

Ek sal sy ma moet bel en hoor waarom die kind so omgekrap is. En waarom hy laataand so alleen hier aangewals kom.

Al is dit rustig hier by ons op die platteland, beteken dit nie hy kan maak soos hy wil nie. Dis ’n hele ent terug huis toe. Hy moet liewer vanaand hier slaap. Ek gaan nie toelaat dat hy in dié weer alleen huis toe loop nie.

Wat het hom in die eerste plek besiel om op ’n Maandagaand hierheen te kom? Hy kon mos tot die naweek gewag het.

In my boekrak kry ek ’n kinderboek. Met die boek in my hand loop ek terug sitkamer toe. Daar is geen teken van Dewald nie.

Wat het van hom geword? Het hy sowaar die pad terug huis toe alleen aangedurf?

Ek gaan kyk in die badkamer, maar hy is nie daar nie. Ek drafstap tot by die voordeur, pluk dit oop en roep hom op sy naam. Geen antwoord. Waarheen het hy so skielik verdwyn?

Terug in die huis bel ek sy ma.

“Ans, hier het nou ’n snaakse ding gebeur. Dewald was hier, maar toe ek weer kyk, is hy weg.

“Laat weet asseblief sodra hy daar aankom, anders bekommer ek my morsdood.”

’n Lang stilte hang in die lug. “Ans, is jy daar? Het jy gehoor wat ek sê?”

“Pa moet by ’n dokter kom,” sê sy sag.

“Vir wat? Ek makeer niks.”

“Pa is nie gesond nie. Ek het altyd gedink die mense oordryf, maar nou vind ek self uit daar is iets fout met Pa se brein.”

“My brein, nogal. Watse snert praat jy?”

“Ek praat van Dewald, Pa.”

“Wat van Dewald?”

“Dewald was nie vanaand naby Pa se huis nie. Dis alles Pa se verbeelding,” verduidelik sy.

“My magtig, Ans! Hoe durf jy van my ’n leuenaar maak? Die kind is dan nou-nou hier weg.”

“Dis vandag sewe jaar, Pa. Sewe jaar vandat Dewald nie meer met ons is nie.”

“Maar Ans, dit is tog nie moontlik nie.”

“Gaan sien ’n dokter, Pa. So gou as wat Pa ’n kans kry. Dewald en ’n paar van sy klasmaats het in die busongeluk omgekom. Onthou Pa dan nie?”

Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters