8 maande gelede
Moordnag ruk vele ná die oop en bloot affair
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons KEITH MEYER se Goud Weeg Swaarder as Liefde... Geniet die eerste hoofstuk.

SOMS maak die lewe maar snaakse draaie met ’n mens.

En die noodlot deel soms net uit wat jy verdien.

“Boontjie kry sy loontjie”, het die noodlot ’n bekende passie-paartjie getref.

Danny Booi en Aarika Smooth is die talk of the town toe mense van hul skelm verhouding begin uitvind.

Danny was nog wettig met Mehandra getroud toe Aarika op die toneel verskyn het.

“Wel, die ouderdom kan nie met die jeug tred hou nie,” het ’n skindertong laat klap.

Mehandra is omtrent 15 jaar ouer as Danny, en dat Danny feitlik met ’n dwaaloog gebore is, het dit vir Mehandra maar baie moeilik gemaak.

Aarika is van die aspris, obsessiewe tipe wat Danny net vir haarself wou hê.

“Waar het jy nou al gehoor van ’n getroude man wat sommer by sy skelmpie oornag net ’n straat van waar sy vrou op hom wag? En dan weet sy nie eens hy is net om die draai nie?” het Mina Skinner van haar laat hoor.

Danny en Aarika verdwyn ook gereeld vir dirty weekends away.

En hoewel Danny finansieel suffer, vat hy sommer van die geld wat vir sy eie huishouding bedoel is om sy seksspeletjies te finansier.

Hy en Mehandra hou hul geld­sake apart omdat sy skatryk is en hy maar die minor partner is, wat die kroon betref.

“Ek het besluit jy moet jou vrou nou los. Sy mors die kosbare ure wat ons bymekaar kon gewees het.

“Ek raak ouer en een van die dae kry jy weer ’n ander los bok en los my net so.

“Ek soek security. Ons moet trou so gou as wat jou divorce klaar is,” sak Aarika af.

Dit tref Danny soos ’n panga teen die nekslagaar. Hy was nie van plan om sy vrou vir Aarika te los nie.

Daarvoor was Mehandra net te diep in die kroon, en sy is een van die dorp se rykste vroue.

Dalk ’n rede waarom Danny destyds met haar getrou het?

“Jong, dit gaan difficult wees. Mehandra sal my nie ’n divorce gee nie.

“Daarvoor is sy net te grand, en sy behoort mos aan die high so­ciety. Dit gaan ’n moerse insult vir haar wees.

“Maar ek wil jou nie verloor nie,” sug Danny.

Weens Aarika se demanding style­ weet Danny die skrif is aan die muur.

Hy sal maar vir Mehandra so moet laat weet.

Sommer per WhatsApp het hy haar die vernietigende boodskap gestuur terwyl sy as die hospitaal-hoof by die plaaslike hospitaal gewerk het.

Daar en dan laat Mehandra haar inboek by die Pers Dakkies, ’n psigiatriese hospitaal in die Suid-Kaap.

Dit pas Aarika en Danny soos ’n handskoen.

Vir die hele maand dat Mehandra in die hospitaal is, lewe hulle soos getroudes.

Dit nogal in Mehandra en Danny se joint.

“Het die meid geen skaamte nie? Dis deur haar dat die sagmoedige Mehandra in die Pers Dakkies beland het. Nou bad sy in Mehan­dra se bad en slaap in Mehandra se kooi. O, sies!” is van die bure se praatjies.

Maar die twee lovebirds is soos nat wasgoed – min ge-spin.

Dan breek die uur aan wanneer Mehandra ontslaan word en huis toe moet gaan.

Die psigiater se aanbeveling is dat Mehandra, Danny en Aarika vir berading gaan.

“Aarika is te onnosel en hardegat. Sy wil jou mos hê. Sy sal nie vir berading gaan nie, nè Danny? Jy ken haar mos so,” verklaar Mehandra.

“Sy wil jou hê en niemand anders sal haar tot ander insigte kan bring nie. So, sy moet jou maar vat.

“Ek dink ek is in die kliniek genoeg weerbaar gemaak.

“Pak jou goed en gooi ’n lange,” is Mehandra se duidelike instruksie aan Danny.

Danny maak byna sy broek nat toe Mehandra hom vir ’n ses slaan, maar hy try om sy pose te hou.

“Ag flip, dit maak nie saak nie.

Ek sal met Aarika trou. Hou jou geld.

“Dit sal jou tog nie mooier en sexier as my Aarika maak nie,” kwes hy vir oulaas.

’n Maand ná die egskeiding trou Danny en Aarika, al suffer hulle.

Danny belowe dit sal binnekort finansieel beter gaan.

’n Goeie polis sal binnekort uitbetaal.

Twee maande later is die maanskyn en rose ook uit hul huwelik, soos dit maar met skelm verhoudings is. Gesteelde vrugte is mos nice.

Nou is dit nie meer gesteelde vrugte nie en dit smaak maar bitter. En hul geld raak op.

Een Saterdagnag net ná middernag staan die cops voor Aarika se huis.

Geel linte sper ’n misdaadtoneel af. Nuuskierige bure staan nader.

Die forensiese span daag op en ’n draagbaar met ’n liggaam verlaat Aarika se huis. Almal wonder wie dood is.

Asof dit nie genoeg is nie, versprei­ Fakebook nuus van ’n tweede moord.

Dié keer is die moord net om die draai in die huis van Mehandra, wat alleen gewoon het sedert Danny die huis verlaat het.

Geel linte en polisievoertuie is ook op dié toneel.

’n Liggaam word ook uit dié huis gedra.

’n Dubbele moord, wonder die inwoners.

Dalk een moordenaar? Maar wie is die slagoffers?

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) weier om meer besonderhede aan die koerante te gee.

“Die ondersoek is in ’n sensitiewe stadium,” is ál wat AO Sweetness Ngoro sê.

Teen daardie Saterdagmiddag begin die legkaart uiteindelik in plek val.

Die SAPD trek weer in die woonbuurt op.

’n Arrestasie gaan uitgevoer word wanneer die vên by ’n jaart in-reverse.

’n Persoon met ’n jersey oor die kop verlaat die huis.

“Dis Danny daai, ek sweer.

“Ek ken sy klere en sy stappie,” skree ’n nuuskierige omstander-antie.

“Nee, dis Mehandra daai! Die straatspeurders arresteer die een na die ander.”

Die verdagte word in ’n vên na die cop shop geneem.

Ook hier is daar reeds ’n skare nuuskieriges wat wil weet wie die dubbele moord gepleeg het.

Melvin White, ’n skerp joernalis, snuffel self verder rond.

’n Dag later is White se berig die hoofberig in Die Towernaar: “Minnares-erfgenaam” vas: twee polisse opgeëis!”
) Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters