27 dae gelede
Lisa se ellende raak net erger toe sy wegloop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal van JASMINE UYS. Sy noem dit “So Wreed die Noodlot”.

DIE laatmiddagson val sag op die koringblonde hare van die eensame figuur by die twee vars grafte.

Haar skouers ruk en sy vee met die agterkant van haar hand die trane weg wat oor haar wange rol.

Sy kan nie glo die twee mense vir wie sy die liefste was, is so skielik van haar weggeruk nie. En dit deur ’n dronk bestuurder...

Hoe wens sy nie sy was liewers saam met hulle in die kar nie! Sy wil nie lewe sonder hulle nie.

Sy ruk soos sy skrik toe ’n sagte hand liggies op haar skouer tik. “Lisa, my kind, kom ons moet gaan. Dit raak laat en die pad is lank.”

Dis haar ma se suster, Louise, by wie sy voortaan gaan bly.

Lisa Green kyk vir oulaas na die twee grafte en stap gedwee saam.

DIS al twee maande dat Lisa by haar tante Louise en oom Ian Pick in Bothasig bly.

Sy skryf haar matriekeksamen en sien min van haar tante, wat baie betrokke is by die gemeenskap en allerhande welsynsorganisasies.

Haar oom is ’n bekende skrywer en skilder.

Omdat sy so hard studeer, trek dit haar aandag van haar hartseer oor haar ouers af.

Sy voel ongemaklik in haar oom se geselskap. Daar is iets aan hom wat haar pla. Sy sien hoe hy na haar staar as hy dink sy kyk nie.

Lisa het pas haar laaste vraestel geskryf toe sy opgewonde tuis kom. Die vraestel was maklik en sy is seker sy gaan slaag. Die huis is grafstil toe sy die deur oopsluit.

Sy gaan na haar kamer en wil net haar skoolklere uittrek, toe haar deur saggies oopgaan. Sy kyk verskrik op toe haar oom binnekom en die deur agter hom toedruk.

“Wat doen Oom in my kamer?”

Hy antwoord nie, maar kom stadig na haar toe. Sy hardloop na die deur, maar dis gesluit.

Sy stoot hom met ál haar krag weg toe hy haar probeer soen.

Hy klap haar hard deur die gesig.

“Lisa, Lisa, moet my nou nie kwaad maak nie!”

Sy gil verskrik en begin huil.

“Niemand gaan jou hoor nie. Hier’s niemand nie! Jy moes tog al gesien het hoe ek oor jou voel ...”

“Asseblief, Oom. Los my!”

Al haar gesoebat en gespartel help niks nie. Hy is te sterk vir haar. Hy ruk haar klere van haar lyf af en gooi haar met geweld op die bed neer.

Daardie nag huil Lisa haar aan die slaap. Sy voel vuil en skuldig, asof dit haar skuld is. Sy kan ook nie haar tante in die oë kyk nie.

Ná weke se abuse besluit Lisa sy gaan wegloop. Waarheen, weet sy nie. Dalk terug Weskus toe.

Enige plek sal beter wees as waar sy nou is. Sy kan nie meer haar oom se abuse vat nie en haar tante sal haar nie glo as sy uitpraat nie.

Sy wag tot als stil is en pak net die nodigste. Toe val sy in die pad.

Gelukkig het sy nog geld van haar ouers om haar ’n tydjie aan die gang te hou. Lisa se voete is seer toe sy uitgeput langs die pad gaan sit.

Sy’t g’n idee waar sy is nie. Die trane vloei oor haar wange. Sy het nog nooit so eensaam en verlore gevoel nie.

Sy skrik toe ’n motor by haar stop. ’n Aantreklike ou met sagte bruin oë en donker hare klim uit.

“Haai, is als oukei?”

Sy kyk net na hom en huil.

“Wat is verkeerd? Kan ek help?”

Die manier waarop hy praat en sy sagte oë maak haar gerus. Sy staan stadig op.

“Kan ek jou ’n lift gee?” vra hy en kyk haar afwagtend aan.

Sy klim gedwee in sy bloedrooi Nissan Micra.

“Ek is Johan Meyer. Ek bly in Noordhoek.”

Sy vat sy uitgestrekte hand en vertel hom haar hele storie. Die trane verblind haar sodat sy nie die glinstering in Johan se oë sien terwyl hy na haar luister nie.

Hy druk haar hand liggies. “Ek is regtig jammer dat jy so baie moes deurmaak. Ek het ’n groot huis. Jy kan solank by my kom bly tot jy uitgesort is – as jy wil.”

Sy kyk hom dankbaar aan. “Baie dankie, Johan. Ek belowe ek sal so gou moontlik werk soek en ander blyplek kry.”

“No problem. Bly so lank jy wil.”

Verbeel sy haar of is daar ’n vreemde skynsel in Johan se oë? Dis seker my verbeelding, dink sy.

Dis byna 21:00 toe hulle voor ’n groot, imposante woning stilhou. Die mure om die huis is hoog en geëlektrifiseer. By ’n groot hek staan twee gewapende wagte.

“Hoekom ál die security?” vra Lisa onrustig.

Johan vat haar liggies aan die arm. “Kom, Lisa, dis voorlopig jou tuiste. Jy sal veilig wees hier met al die security.”

Lisa verkyk haar aan al die weelde.

Johan neem haar na haar kamer. Nadat sy haar goed neergesit het, gaan shower sy.

Sy is besig om haar hare droog te vryf, toe ’n jong meisie inkom met pizza en koeldrank. Lisa sluk dit gulsig af. Sy’t nie besef hoe honger sy is nie.

Sy wonder wie die meisie is wat haar kos gebring het? Sy’t amper soos ’n zombie gelyk. Sy sidder liggies en klim in die bed.

Daai aand slaap Lisa soos ’n klip. In die nanag verbeel sy haar sy hoor deure klap en iemand gil, maar sy is so moeg dat sy dit as haar verbeelding afmaak.

LISA is al drie dae in die groot huis. Johan is ’n regte gentleman. Sy wonder egter hoekom sy gedurig moeg en gedisoriënteer voel ...

Die son skyn helder deur die venster toe Lisa opstaan. Sy is net klaar aangetrek toe die deur oopswaai en Johan ongenooi inkom.

Voordat sy kan iets sê, ruk hy haar aan die hand. “Kom, iemand wag om jou te sien!”

Sy’s so geskok dat sy willoos gehoorsaam. In ’n groot portaal sit talle mans met stink sigare.

Nege verskrikte meisies in skrapse klere staan voor hulle. Johan stoot haar tot by hulle. Een van die mans roep Johan nader en fluister iets in sy oor.

Sonder ’n woord draai Johan om en stap op Lisa en nóg ’n girl af. Hy vat hulle na ’n kamertjie met ’n venstertjie sonder burglar bars.

Lisa kyk verskrik na die ander meisie. “Wat gaan hulle met ons maak?” wil sy huilend weet.

Die meisie sê: “Ek is Suzette. Hulle het my laas week gehijack.

“Hulle drug ons met koeldrank en hou ons gevange totdat hulle buyers kom. Ek het agtergekom van die koeldrank en dit stilletjies uitgegooi. Ek het my aan die slaap gehou as hulle kom opcheck.

“Hulle gaan ons oor twee dae verkoop. Dan kom daar nóg ’n trok met meisies om ons te vervang.

“Hulle vat ons dan na ’n boot om ons landuit te neem.”

Lisa lyk paniekerig. “Suzette, wat gaan ons doen?!”

Suzette sê: “Ons moet vanaand by die hek probeer kom. Daar is digte struike. Sodra die lorrie met meisies inkom, sluip ons uit en vlug hoofpad toe. Moet niks eet of drink wat hulle bring nie.”

Lisa bid saggies: “Liewe Vader, help ons asseblief. Laat ’n wonderwerk geskied dat ons die ander meisies ook kan help.”

Kort voor 20:00 begin hulle regmaak om te ontsnap. Hulle klim ongemerk by die venster uit en sluip deur die welige struike.

Klokslag 20:00 hou ’n trok voor die hek stil. Toe die hekke oopswaai, is als eensklaps pikdonker!

“Amen! Load shedding! Vir een keer doen Eksdom iets goeds,” fluister Suzette. “Dis ons kans – voordat die generator inskop.”

Hulle vlieg langs die trok by die hek uit en nael grootpad toe.

“Thank you, Lord,” prewel Lisa toe ’n samaritaan hulle veilig voor die cop shop afgelaai.

Twee dae later basuin Son dit uit: “Sindikaat in mensehandel aangekeer danksy twee dapper girls wat uit hulle kloue ontsnap.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS dit gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters