3 maande gelede
Lienkie se ma wonder die hele nag waar sy is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dié een Lienkie se Verdwyning.

MATILDA kyk by die kombuisvenster uit. Buite raak dit nou donker.

Dit bekommer haar, want sy het nog niks van die polisie gehoor nie.

Het hul soektog dan niks opgelewer nie? Iemand behoort iets van Lienkie te weet. Vioolvlei is tog nie so ’n groot dorp nie.

“Ons sal ons bes doen,” het sers. Le Roux haar laatmiddag belowe. “Sodra ons nuus het, sal ons jou laat weet.”

Sy trek die gordyne toe. Al het sy ’n lang dag agter die rug, twyfel Matilda of sy vanaand aan die slaap gaan raak.

Sy sal eers kan rus as sy seker is Lienkie is veilig.

Sy sit die ketel aan en haal ’n koppie uit die rak.

Haar binneste is onrustig. Wat kon van Lienkie geword het?

Die kind is seker al honger. Sy kan tog nie net weg wees nie.

Met ’n sterk koppie koffie gaan sit sy op ’n stoel.

Sy weet nie wat om te dink nie.

Lienkie is net tien jaar oud, maar is baie verantwoordelik. Sy is nie die soort kind wat sal wegloop nie.

Die volgende gedagte laat haar sidder. Het iemand dalk vir Lienkie ontvoer?

’n Mens hoor deesdae so baie stories. Daar was juis onlangs gerugte van ’n man in ’n swart Mercedes-Benz wat laerskoolmeisies op ’n afstand dophou.

Sy hoop nie Lienkie het in sy kloue beland nie.

Nee, sy moet positief bly – die negatiewe gedagtes op die agtergrond skuif.

Daar moet ’n logiese verduideliking wees. Sy moet bly glo Lienkie is ongedeerd en sal veilig by die huis opdaag.

Buite raas die wind asof iemand hom vies gemaak het.

Matilda haat dit as die wind so befoeterd is. Dit gee haar koue rillings en krap ou wonde oop. Wonde wat besig was om te genees.

Haar gedagtes gaan terug na ’n soortgelyke aand. ’n Aand toe die stormwind verwoesting gesaai het.

Geboue se dakke het in die slag gebly. Pandemonium het op die paaie losgebars.

Selfs vragmotors en busse is heen en weer geslinger.

Bome is soos veertjies uit die grond gepluk.

Sy veg teen die trane, want sy besef sy moet sterk wees vir Lienkie se onthalwe.

Die wind herinner haar aan daardie tragiese aand. Die aand toe Lienkie se pa se kop uitgehaak het.

Daar was ’n hewige argument tussen hulle.

Sy het hom gekonfronteer oor die gerugte van ’n affair tussen hom en ’n kollega.

Hy het hom bloedig vererg. “Hou op om jou aan skinderpraatjies te steur. Vertrou jy my nie?”

“As dit net praatjies is, Samuel, hoekom raak jy kwaad? Praat die waarheid, dan weet ek waar ek staan.”

Lienkie se pa het by die deur uitgestorm. Matilda het hom probeer keer, hom probeer waarsku teen die stormwind. Maar hy het in sy bakkie geklim en weggejaag.

Dit was die laaste keer dat sy en Lienkie hom lewend gesien het.

Lienkie was maar vyf. Te jonk om te verstaan.

Sy was erg oor haar pa. In haar oë sou hy niks verkeerd kon doen nie.

Vir baie maande daarna het Lienkie elke aand gevra: “Mammie, wanneer kom Pappie huis toe?”

En elke keer het dit Matilda se hart gebreek as sy vir haar kind moes sê haar pa kom nooit weer terug nie.

Die vrae het later opgehou.

Lienkie het nie weer oor haar pa gepraat nie, maar baie aande het Matilda haar oor teen Lienkie se kamerdeur gehou en die kind hoor huil. Dan het sy geweet Lienkie mis haar pa.

Soms wou sy ingaan om Lienkie te troos, maar sy wou nie inmeng nie.

Lienkie moes haar verlies op haar eie manier verwerk.

Daar was nie baie mense by die begrafnis nie.

Vioolvlei se begraafplaas lê teen ’n bult.

Dis moeite om tot daar te kom. Die pad tot daar is vol gate. Baie voertuie is al beskadig.

Kort ná haar man se dood het Matilda se ma vir haar gesê: “Soms gebeur goed wat ’n mens nie heeltemal verstaan nie, my kind.

“Dan sit jy met ’n klomp vrae en min antwoorde. Jy kan dan net wonder en jou eie afleidings maak, maar die onsekerheid kry jy nooit afgeskud nie.”

En nou het Lienkie net verdwyn. Niemand in Vioolvlei weet waar sy is nie.

Die laaste keer toe sy haar kind gesien het, was vanoggend toe sy by die deur uit is.

Soos gewoonlik het sy haar op die wang gesoen en gesê sy moet veilig skool toe stap.

Noudat sy daaraan dink, Lienkie het haar langer vasgedruk as ander oggende.

Het die kind dalk aangevoel iets gaan met haar gebeur?

Hoekom het sy niks gesê nie?

Lienkie het nooit by die skool uitgekom nie.

Haar klasonderwyser het gedink sy is siek omdat sy gister vreeslik gehoes het.

Dit was vanoggend mistig en enigiets kon gebeur het.

Het iemand dalk haar kind langs die pad opgelaai en net ’n koers ingery?

Die pyn in haar skouer laat haar op haar tande kners.

Sy laat byna die leë koppie uit haar hande val.

Dit is haar eie skuld. Sy moes nie vanmiddag by die werk daai swaar boks opgetel het nie.

Iewers in die nag hoor sy ’n kind huil. Sy vlieg op en storm blindelings by die deur uit. Sy loop teen donkerte vas.

Die koue tref haar tussen die oë, maar daaraan steur sy haar nie. Haar kind se veiligheid is ál wat tel.

“Lienkie,” roep sy. “Lienkie, is dit jy?”

Sy wag vir ’n antwoord, maar die enigste geluid is die wind se onheilspellende stem.

Matilda besef sy het haar verbeel. Teleurgesteld gaan sy weer by die huis in.

Vroeg die volgende oggend is daar ’n gehamer aan haar deur.

Sy maak oop en sug verlig toe sy vir sers. Le Roux herken.

Uiteindelik, dink Matilda. Dit het langer gevat as wat sy gehoop het, maar uiteindelik is daar nuus.

“Ons het haar opgespoor,” sê sers. Le Roux.

“Sy was by die begraafplaas.”

“Die begraafplaas?” vra Matilda verbaas. “Wat het Lienkie daar teen die bult gaan maak?”

“Sy het haar pa se graf gaan besoek. Ons het haar langs sy grafsteen aangetref. Sy was yskoud en ineengekrimp toe ons op haar afkom. Ek dink sy het verkluim.”

Matilda se bene word lam. Voordat sy inmekaarsak, hoor sy Le Roux se stem: “Jy moet saam met ons kom om haar lyk te gaan uitken.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters