9 maande gelede
Lien kry sommer ’n dubbele dosis se verleentheid
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede van drie hoofstukke van MARIANA­ LOOTS se verhaal Die Wedloop. Dié storie gaan oor Lien wat ná haar ma se dood by ’n nuwe skool moet aanpas.

DAAI Vrydag net voor tweede pouse sukkel hulle nog met die eerste hoofstuk van die geskiedenisboek toe ’n stem oor die interkom opklink.

As juffrou Smit geskrik het vir die skielike gekrys bo haar kop, wys sy dit nie. Sy haal net haar bril af en leun terug teen haar tafel.

“Aandag, aandag, alle leerders,” krys die stem. Dis die skoolhoof.

“Sal almal asseblief die laaste tien minute van die dag by die saal bymekaarkom? Ek moet ’n belangrike aankondiging doen. Dankie.”

Ineens klink dit asof ’n brommerplaag die klas binne gevlieg het.

Almal wonder wat die aankondiging gaan wees.

“Oukei, oukei, rustig nou maar. Ons sal later hoor waaroor dit gaan,” sê juffrou Smit terwyl sy die bril weer regskuif op haar neus. “Nou waar was ons?”

Maar voordat sy weer haar plek in die handboek gekry het, loei die sirene.

Pouse knaag die wonder ook aan Lien. Sy sit alleen onder die boom aan die linkerkant van die sportterrein. Daar’s niemand met wie sy oor die saak gedagtes kan uitruil nie.

’n Entjie verder kan sy duidelik aan Hester en haar vriendinne se wippende boksterte agterkom hulle dink dis iets groots.

Selfs die eerstespanspelers, wat gewoonlik te cool is om enigiemand buiten die mooiste meisies se bestaan te erken, waag raaiskote oor waaroor die hoof wil praat.

Dan en wan waai die middagbries frases na Lien se ore toe aan. Sy wil nie hê hulle moet dink sy luister af nie en bepaal haar by die handboek wat sy op haar skoot hou sodat mense dink sy sit aspris alleen.

“Hiert!” Lien moet keer of ’n parmantige windjie pluk haar rok op. Vererg besluit sy om op te staan.

Tussen die opsukkel deur kom sy agter iemand kyk vir haar. Sy loer in die rigting van die rugby­spelers en wragtag: Daar staan Warren met die karamelbruin vel en liggroen oë.

Warren wat beter lyk as ’n karameldoproomys op die warmste somermiddag by die see.

Lien kyk vinnig weg, maar nie voordat sy die halfskewe glimlag op sy gesig sien nie.

Die laaste twee periodes van die dag is ’n stryd – veral vir die onderwysers – en in die saal kry nie eens die kwaaiste kyk die gegons stil nie. Dis eers toe mnr. Joubert saam met ’n ouerige man met goud om sy nek en pols by die saal inkom dat dit effe bedaar.

Mnr. Joubert gaan staan agter die podium en wys hulle kan sit.

Toe die gekriewel bedaar, praat hy: “Kinders, dis mnr. Swannie Swanepoel van die drankwinkel. Ons is baie bevoorreg om hom vandag hier te hê.

“Nie net het hy aangebied om die Lentedag Ope Atletiekbyeenkoms te borg nie, hy skenk ook vir die o. 18-rugby- en -netbalspan hul balkies en sweetpakke vir die jaar. Dis vir ons ’n wonderlike eer. Dankie, mnr. Swanepoel,” sê mnr. Joubert terwyl hy terugkyk na die man op die heel linkerkantste stoel. “En ek vra dat ons vir hom lekker applous gee.”

Die man glimlag en lig sy hande effens terwyl die kinders geesdriftig klap. Hy staan op toe mnr. Joubert weer praat.

“Kan die spanne asseblief vorentoe kom sodat mnr. Swanepoel jul balkies en nuwe sweetpakke kan oorhandig?”

Hester spring op asof sy op ’n drukspyker gaan sit het en sou seker eerste op die verhoog gewees het as die gr. 11’s nie so ver agter in die saal gesit het nie.

Nie eens die son kan so straal soos sy daar op die verhoog toe sy mnr. Swanepoel se hand skud nie. Lien voel ’n stekie jaloesie toe sy sien hoe Haakneus Hester die nuwe balkie onder haar ene vir atletiek aansteek. By haar vorige skool was sý die ster-atleet, en sy sou ook nou op die verhoog gestaan het, was dit nie dat haar ma ...

Sy knyp haar oë toe om die trane te keer en is dankbaar toe die skoolhoof sê hulle kan maar hul tasse gaan kry en huis toe gaan.

Sy wil net by die naaste deur uitglip toe mnr. Joubert skielik iets onthou. Hard roep hy oor die mikrofoon: “Guavalien, Guavalien Jooste, is jy nog hier? Kom asseblief gou na die verhoog toe.”

Lien wens die aarde gaan oop en sluk haar net daar in. Móés die hoof nou haar doopnaam gebruik? Toe sy jonger was, het dit haar nie gepla nie. Inteendeel, van haar beste herinneringe is van hoe haar ma haar vertel waar haar naam vandaan kom.

Die bus het nie so geloop dat ouma Lien vir haar geboorte daar kon wees nie, maar toe sy die Woensdagoggend daarna by hul huis instap, het Lien net mooi wakker geword. Ouma Lien was dadelik verlief, en kon haar verkyk aan die bondeltjie met die pienk wange. Pienk soos koejawels.

Dit het vasgesteek, en met ouma Lien se naam by, is sy Guavalien gedoop.

Kleintyd het sy niks daarvan gedink nie, maar toe sy ouer word en ander mense se kyke en snydende, terloopse woorde haar anders laat voel het oor haar eenvoudige herkoms, het sy besluit om haar onsigbaar te maak. En stap een was om vir mense te sê haar naam is Lien, net Lien.

Mnr. Joubert lyk salig onbewus van haar penarie.

“A, Guavalien, hier’s jy!” Lien staan sonder ’n woord nader.

“Hier is die vorms wat jou pappie moet invul vir afslag op die skoolgeld. Hy moet dit terugstuur so gou hy kan, oukei? Toe, toe, maak dat jy by die huis kom.”

Nog ’n vlaag skaamte trek deur Lien. Sy weet hulle het dit nie te breed nie, maar beteken dit hulle is nou brandarm? Wat gaan van haar en haar pa word, en Basjan?

Haar gedagtes hardloop nog ’n marathon in haar kop toe sy by die vierkant aankom om haar tas te kry. In die skadu staan die rugby- en netbalspan nog die nuwe sweetpakke en bekyk.

“Dit ook nog,” kreun Lien, en probeer gou ongesiens wegkom.

Dis ’n fout. In haar haas sien sy nie die uitstaanbaksteen nie.

Haar toon haak en die gewankel laat haar volgestopte tas van haar skouer af glip. Dit laat haar nog meer slinger. Sy gil. Sy gaan val.

Sy val. Oor haar tas. Klippies maak vuur in haar hande. Lien wil huil, want dóér trek die papiere wat ingevul moet word en die bries wat sy voel, sê vir haar die wind het haar rok opgewaai.

Paniekbevange hoop sy niemand het gesien nie, maar Hester se geskater vertel haar sy gryp na grashalms. En toe gebeur dit.

Hester skree oor die vierkant: “Lien, lyk so pristien, daa’ gat sy gat oor kop, dat jy net guava sien!”

’n Koor kraai van die lag vir Hester se opmerking. Lien pluk haar regop, kry haar goed en stap doelgerig skoolhek toe.

  • “Vir jou, Hester,” dink sy stomend, “gaan ek nog op jou haakneus laat kyk!” Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters