3 maande gelede
Lauren bly vra wie dan eintlik haar daddy is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n splinternuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit Om Nie te Weet Nie.

HAAR naam was Lauren. Sy is met ses tone aan haar linkervoet en net vier vingers aan haar regterhand gebore.

Twee van die verpleegsters wat daardie oggend met haar geboorte by was, het ’n koers ingehardloop en nooit teruggekeer nie.

Hulle kon seker nie verstaan hoekom die een kant van die baba se gesig ligter was as die ander kant nie.

En hoekom die ma net die hele tyd gehuil het sonder om iets te sê.

“Die gebreklike kind,” het die mense haar genoem.

Hulle was onder die indruk dat sy nie mooi kan hoor nie omdat haar een oor heelwat kleiner was as die ander een.

Wat hulle nie geweet het nie, was dat daar niks fout was met Lauren se gehoor nie.

Sy kon fyner luister as die meeste ander kinders.

Sy het vrede gemaak met hoe sy lyk en haar nie veel aan die skinderbekke gesteur nie.

Sy was swaksiende en reeds op vyf het die oogarts ’n diklensbril aanbeveel.

Boonop was Lauren ’n asmalyer wat swaar asemgehaal het.

In Lauren se laerskooldae het sy haar baie aande aan die slaap gehuil.

Sy was nie ’n stout kind nie, maar sy het gebrand om te weet wie haar daddy is.

Elke keer dat sy daaroor uitgevra het, het haar ma doelbewus die onderwerp verander.

Sy het die idee gekry haar ma steek iets weg.

Lauren het begin wonder of haar pa dalk getroud was.

Dalk was hy iemand met wie haar ma ’n skelm verhouding gehad het.

Iemand wat nie bereid was om sy gesin prys te gee vir ’n buite­egtelike kind nie.

Maar al was dit ook die geval, het hy steeds teenoor haar ’n verantwoordelikheid gehad, het Lauren geredeneer.

Hy het vaderlike pligte gehad om na te kom.

Lauren se ma was ’n stil vrou, ’n eenkant mens wat byna nooit geglimlag het nie.

Dit was asof sy kwaad was vir die hele wêreld. Sy het nie juis vriende gehad nie en nooit by ander mense se huis gaan sit en praatjies maak nie.

Soms het sy ure aaneen diep ingedagte voor haar uitgestaar.

Aan die uitdrukking op haar gesig kon Lauren duidelik sien haar ma dra ’n groot geheim in haar binneste.

Was dit moontlik dat hy nog in haar ma se gedagtes was?

Hy, die man wat sy veronderstel was om “Daddy” te noem?

Het haar ma nog kontak gehad met hom?

Dít was van die vrae waarmee Lauren geworstel het.

Tog het Lauren uitstekend gevaar op skool.

Sedert haar eerste skooljaar was sy keer op keer onder die boonste drie uitblinkers.

Sy het nie toegelaat dat die verlange na die pa wat sy nooit geken het, in haar pad na sukses staan nie.

Haar groot droom was om eendag ’n maatskaplike werker te word en ’n verskil in ander se lewe te maak.

Tog het sy bly hoop dat haar pa op ’n dag sy verskyning sou maak.

Sy sou graag wou hoor wat sy verskoning is waarom hy sy rug op haar gedraai het.

Hy moes tog geweet het hoe belangrik dit vir ’n meisiekind sal wees om ’n vaderfiguur in haar lewe te hê.

Toe, een Vadersdag, staan ’n onbekende man met ’n grys pak klere aan in hul voordeur.

Lauren skrik so groot dat sy byna die glas koeldrank uit haar hand laat val.

Terselfdertyd sukkel sy om haar opgewondenheid weg te steek.

“Dis hy,” sê sy vir haarself. “Dis my daddy. Hy het uiteindelik tot sy sinne gekom en vir my kom kuier.”

Sy het haar bril reggeskuif en haar gereed gekry vir die groot kennismaking.

As haar ma nie op daardie oomblik kom hoor het wie by die deur is nie, het Lauren seker ’n gek van haarself gemaak.

Die arme kind het op die punt gestaan om in die vreemde man se arms te hardloop en hom teen haar vas te druk.

Sy was diep teleurgesteld toe sy hoor dit is sommer ’n agent wat lewensversekering verkoop.

Sy het so gehoop dit is haar daddy.

Kort voor haar 18de verjaardag sit Lauren en haar ma een aand voor die televisie.

Lauren kon sien haar ma se aandag is op ’n ander plek.

“Waaraan dink Mammie?” het sy gevra.

Haar stem het haar ma uit haar droomwêreld geruk.

“Dink Mammie miskien aan my daddy?”

Haar ma het opgevlieg en was op die punt om kamer toe te storm toe Lauren se volgende woorde haar in haar spore stuit: “Wat is dit wat Mammie vir my wegsteek? Het ek nie die reg om die waarheid te weet nie?”

Haar ma het langs haar kom sit. Daar was meteens ’n moegheid op haar gesig.

“Soms is dit beter om nie te weet nie, my kind.”

“Nee, Mammie, ek wil weet wie my daddy is.”

Toe begin Lauren se ma huil.

Dit was asof die trane wat sy jare lank binnegehou het, eenvoudig moes uit.

Lauren het haar laat begaan en geduldig gewag totdat sy haar hart uitgehuil het.

“Was Mammie lief vir hom?” het sy ná ’n ruk gevra.

’n Heftige kopskud het haar vraag beantwoord.

“Wat het dan gebeur, Mammie? Wie is my daddy?”

“Ek ... Ek weet nie, my kind,” het sy die woorde uitgewurg. “Ek weet nie wie jou pa is nie.”

Lauren het haar verbeel sy hoor verkeerd.

“Hoe bedoel Mammie dat Mammie nie weet nie? ’n Vrou behoort tog so iets te weet.”

“Ek kan nie met sekerheid sê nie,” het haar ma gesê.

Oopmond het Lauren haar ma aangegaap. Sy kon dit nie glo nie. Was haar ma dan só ’n tipe meisie?

“Moet my nie so snaaks aankyk nie, Lauren,” het haar ma bewerig gesê. “Dit is nie wat jy dink nie.”

“Nou wat is dit, Mammie? Hoekom moet ek so sukkel om die waarheid uit Mammie te kry?”

“Omdat dit nie maklik is om daaroor te praat nie. Ek is een Vrydagaand op pad huis toe van ’n jeugbyeenkoms af deur drie mans oorval.

“Hulle het beurte gemaak om my te verkrag.

“Ek wou vir ’n aborsie gaan, maar kon dit nie oor my hart kry nie. In my oë is aborsie net so goed soos moord.”

En met ’n knop in haar keel het Lauren besef wat haar ma bedoel het met: “Soms is dit beter om nie te weet nie.”

¦ Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters