Verlede maand
Klein Jessie se ma panic toe sy witweg raak
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n splinternuwe kortverhaal uit die pen van Norman Evertson. Hy noem dit Soos Mis Voor die Son. Lekker lees!

PAULINE kuier saam met twee vriende, Sandy en Jan, op ’n yard waar daar drank gesmokkel word.

Jan het vroeër twee bottels Black Label gekoop en die drie stuks sit nou lekker en afkoel.

Pauline se driejarige dogtertjie, Jessie, sit so skuins agter hulle en speel met haar bruin teddiebeertjie. Tussen die drinkery deur vertel Jan grappe dat dit klap.

Sandy en Pauline breek hulle behoorlik vir hom.

’n Rukkie later draai Pauline na agter om te kyk of Jessie darem nog oukei is.

Haar hart gee een ruk soos sy skrik. Die kind is nie meer op die plek waar sy gespeel het nie.

Pauline is dadelik bekommerd.

“Julle, my kind is weg!” roep sy angstig uit.

“Wag... wag nou,” sê Sandy, “moenie op hol raak’ie. Miskien het sy net...”

Maar Pauline luister nie verder na wat Sandy wil sê nie. Sy vlieg van haar sitplek af op.

“Jessie! Waa’s jy, poplap?” roep sy.

Geen reaksie nie. Pauline loop reg rondom die huis. Sy fynkam die hele werf en tuin. Niks. Jessie is nêrens te vind nie.

Toe begin sy panic.

“Jessie! Jessieeee!” roep sy byna histeries.

Steeds geen reaksie nie.

Sandy en Jan het in die huis en garage gaan kyk. Hulle sluit hulle weer by Pauline aan.

Ook hul kortstondige soektog het niks opgelewer nie.

“Sorry, Pollie, dit lyk’ie of Jessie oppie yard issie,” sê Sandy, wat nou óók bekommerd is.

Pauline se oë skiet vol trane.

“Maa’ waa’ kan sy wees?” vra sy huilend en gooi haar hande moedeloos in die lug.

Sandy plaas haar arms vertroostend om Pauline se skouers en hou haar ’n rukkie vas.

“Ons sal haa’ kry, tjommie. Moenie worry nie,” probeer sy haar moed inpraat.

“Ek dink ons moet dadelik in die strate begin soek,” stel Jan voor.

Pauline en Sandy dink ook dis ’n goeie plan en hulle vaar sommer dadelik die strate in.

Iewers in ’n systraat, nie ver van die smokkel-yard af nie, stop ’n wit Toyota Corolla.

Die bestuurder is iets in die 50 en is ’n netjies geklede man. Hy klim uit en stap ’n meisietjie met ’n bruin teddiebeer tegemoet wat houtgerus op die sypaadjie wandel.

Dis Jessie. Sy’t vroeër by die yard se hek uitgeglip. Ongemerk.

Toe die man haar nader, kyk hy rond. So asof hy probeer vasstel of daar iemand saam met die kind is.

Net ’n paar kinders speel ’n entjie verder af in die pad. Hy besef die kind is alleen.

“En waarheen is jy op pad, prinsessie?” vra hy met ’n stem wat drup van die heuning.

“Hys toe,” antwoord sy skamerig.

“En hoe is jou naampie?” vra die man.

“Jethie...”

“Jessie?”

Sy knik.

“Oe, maa’ dis ’n mooi naam,” sê hy. “Hou Jessie van lekkers?”

Sy knik weer bevestigend. “Nou, kom saam met my. Ek het sommer baie tjokkelits by die huis.”

Die man kyk weer vlugtig op en af in die pad. Toe tel hy haar op en dra haar na sy motor.

Haar beertjie glip egter uit haar hand en val op die grond. Nie hy of Jessie kom dit agter nie.

Hy sit haar voor op die passasiersitplek neer, maak die veiligheidsgordel vas en ry dan verder.

Minute nadat die wit Toyota weggetrek het, kom Pauline-hulle om die draai gestap. Hulle beweeg in dieselfde straat op waar Jessie so flussies opgelaai is.

Pauline-hulle stap verder op in die straat. Dan vang haar oog die bruin teddiebeertjie wat op die sypaadjie lê. Sy tel dit op. Die oortjies is effens verniel.

Jessie was lief daarvoor om aan haar teddie se oortjies te kou.

Dis beslis háár beertjie dié, besef Pauline. Nou is sy éérs bekommerd! Sy raak angsbevange. Haar keel voel asof dit wil toe trek.

Ag, Here, asseblief bewaar my kind! Moenie dat sy in verkeerde hande beland nie! Asseblief, bid Pauline smekend in haar binneste en druk die beertjie teen haar bors vas.

As sy iets oorgekom het... Ek sal nie met myself kan saamleef nie. Die selfverwyt woed in haar.

“Ons moet cops toe,” sê Pauline dan beslis.

Die wit Toyota stop voor ’n motorhuis, vermoedelik by die man se huis.

Hy druk die afstandbeheerder en die motorhuisdeur lig op.

Hy ry in, parkeer en laat sak weer die garagedeur.

Hy neem Jessie by ’n deur in wat uit die garage na die kombuis lei. Daarvandaan neem hy haar deur na die sitkamer en laat haar op ’n bank sit.

Hy skakel die TV aan en soek ’n kanaal met ’n kinderprogram. Dan gaan hy na sy kamer en kom terug met ’n handvol sjokkolade-lekkers.

Hy sit die lekkers langs haar op die bank neer en sê sy kan maar daarvan eet.

Sy neem van die lekkers en smul alte lekker daaraan.

Toe verlaat hy weer die vertrek en skakel ’n nommer op sy selfoon. ’n Manstem antwoord aan die ander kant...

Sers. David Swanepoel van die plaaslike polisie het net in sy polisiemotor geklim toe twee vroue en ’n man haastig nader stap.

Hy klim weer uit om te hoor of daar ’n probleem is.

Pauline is skoon uitasem toe sy die cop bereik.

Dit neem haar ’n paar minute om haar asem terug te kry.

Sers. Swanepoel trap ongeduldig rond. “Verskoon my, dame, maar u sal moet vinnig praat. Ek is dringend op pad na ’n adres waar ’n jong kind ’n rukkie gelede...”

“O, nee! Nee! Nie my kind...” is ál wat Pauline kon uitkry voordat sy meteens inmekaarsak.

Jan vang haar net betyds voordat sy die grond tref.

Sers. Swanepoel sê hulle moet haar in die polisiestasie kry waar sy kollega hulle verder behulpsaam sal wees. Hy móét ongelukkig nou dadelik belangrike inligting opvolg.

“Verskoon my, asseblief.” En met dié woorde trek sers. Swanepoel met ’n spoed daar weg.

Pauline het ’n angsaanval gekry. Sy is nog besig om te herstel toe Swanepoel by die aanklagkantoor instap. By hom is ’n meisiekind.

“Mammie! Mammie!” roep die kind uit toe sy Pauline gewaar.

Pauline lê op ’n rusbank. Die kind hardloop na haar toe. Pauline beur stadig op. Daar is ’n verdwaasde uitdrukking op haar gesig.

“Jessie? Hoe is dit moontlik? Ek dink dan...”

Sy buk af en tel haar op. Trane rol oor haar wange. Sy druk Jessie ’n ruk styf teen haar vas.

“Dankie tog jy’s veilig, poplap,” sê sy. Dan draai sy haar na sers. Swanepoel en bedank hom dat hy haar kind terugbesorg het.

“Jy moet eintlik mnr. Peter Johnson, die maatskaplike werker, bedank,” sê hy. “Hy’s die een wat haar langs die pad gekry het. Sy was stoksielalleen.

“Hy het haar toe na sy huis geneem en die polisiestasie gebel.”

’n Skuldgevoel pak Pauline beet...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters