6 dae gelede
Jennifer sou nie kon raai hoe als eindelik afloop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons nog ’n verhaal uit die pen van die gesoute skrywer Christo Meyer. Die titel is “Die Man met die Vuurwapen”.

IN ’N eenvoudige woning op ’n plattelandse dorpie kyk Jennifer Cleinhanz opgewonde op haar horlosie.

Toe sy sien dis byna 20:30, glimlag sy stilletjies. Dis tyd om haar stoute plan in werking te stel.

In haar kortste nagrokkie gaan Jennifer voor die televisie sit.

Daar is niks spesifieks waarna sy wil kyk nie; sy voel net lus om Ryno vanaand hier in te wag. Hy behoort nou enige oomblik oop te sluit en in te stap.

Ryno werk ongewone ure by die pakhuis in die hoofstraat en gaan altyd so uit sy pad om haar te bederf.

Hy verdien nie ’n groot salaris nie, maar ten minste is dit eerlike geld. Nie dwelmgeld, soos met haar vorige boyfriend in Bonteheuwel, nie.

Jennifer voel net dit is tyd dat sy Ryno ook spesiaal laat voel. Sy het klaar besluit wat sy gaan doen.

Sodra hy by die deur instap, gaan sy hom verlei op ’n manier wat sy asem sal wegslaan.

Hulle hoef nie te wag tot in die slaapkamer nie.

Sy sien al sy verbaasde uitdrukking wanneer hy besef sy het nie onderklere aan nie.

Jennifer kom uit ’n verhouding van erge mishandeling. Haar vorige kêrel het dwelms verkoop. Hy het ’n vloerlap van haar gemaak. Sy humeur is kort, vandaar sy bynaam, Temper.

Om elke hoek en draai het hy haar geklap. Wat seks betref, wou hy net altyd sy sin hê. En wanneer sy nie saamgestem het met sy vieslike voorstelle nie, het hy hom op haar afgedwing.

Sy kon dit nie meer vat nie. Veral toe sy hoor hy het sy vorige meisie vermoor en niks oorgekom nie. Blykbaar die polisie omgekoop om anderpad te kyk.

Dit was nie maklik om sommer net uit die verhouding te stap nie.

Op haar manier was sy aanvanklik lief vir Temper; anders sou sy nooit saam met hom in die bed geklim het nie.

Eers toe sy hom geleidelik begin haat, het sy besef sy moet wegkom voordat dit vir ewig te laat is. Sy was bang hy maak haar ook dood. Sy woede ken geen perke nie.

Toe sy vyf minute later ’n sleutel in die slot hoor knars, sug sy verlig. Haar hart begin vinniger klop. Ryno is hier. Dis tyd dat sy hom weer wys hoe sy hom waardeer.

Jennifer se blydskap is van korte duur. Dis nie Ryno wat by die voordeur ingestap kom nie, dis vyf onbekende mans. Een van hulle het ’n vuurwapen in sy hand. Hy rig dit op haar. Sy vinger krul om die sneller.

“Wie is julle? Wat wil julle hê? Wat het julle met Ryno gemaak?”

“Praat jy van daai nikswerd?” sê die een met die skietding. “Ons het hom ’n ordentlike les geleer.”

Sy wil nog vra of Ryno dood is, toe pyl twee van die boewe op haar af. “Ek sal by die deur waak en seker maak ons kry nie ongenooide gaste nie,” hoor sy die man met die vuurwapen sê.

Die ander skurke dwing Jennifer slaapkamer toe, bind haar hande vas, druk ’n lap in haar mond en skeur die stukkie nagrok in flentertjies. Daarna maak hulle beurte om haar te betas.

Hul sweterige hande beweeg oor haar lyf. Dit laat haar vuil en goedkoop voel. Waarom verneder hulle haar so? Het hulle geen respek vir haar liggaam nie?

’n Naar kol vorm op haar maag. Dis walglik, om die minste daarvan te sê. En al die honger oë op haar naakte lyf ... Sy wens die aarde kan haar insluk.

Jennifer voel so magteloos, uitgelewer aan haar eie genade. Die onsekerheid maak haar mal.

Wat is hulle van plan om met haar te doen? Sy het geen idee wie dié barbare is nie. Hul gesigte ken sy van geen kant af nie.

Tog het sy ’n idee wie hulle hierheen gestuur het. Temper het altyd gesê hy sal haar soek totdat hy haar kry as sy dit ooit waag om hom te verlaat.

Hoe het hy haar opgespoor? Sy het juis in die gramadoelas kom skuil om so ver moontlik van hom en sy humeur weg te wees.

By betasting gaan dit nie bly nie. Daarvan kan sy maar seker wees. Haar hande is nie verniet agter haar rug vasgemaak nie.

As sy lewend hier uitkom, sal dit ’n wonderwerk wees. Die boewe is erger as honger honde agter ’n sappige been aan. Hoor hoe giggel hulle nes ’n groep seuns wat albasters speel.

Dan gebeur dit wat sy die meeste gevrees het. Eers die een, daarna nog een, en so gaan hulle in die ry af.

Sy bid dat dit moet ophou. Hoekom maak hulle haar nie dood nie? Dit sal genadiger wees as dié marteling. Hulle verrinneweer haar so, sy verloor haar bewussyn.

URE later kom sy by. Verward kyk sy om haar. ’n Stilte hang in die lug. Iewers hoor sy ’n kat miaau.

Toe sy ontdek sy is kaal, onthou sy wat gebeur het. Sukkel-sukkel beur sy regop, reguit badkamer toe.

Sy draai die kraan oop, tap die bad vol water. Sy klim in, sluit haar oë, lê agteroor.

Die polisie. Sodra sy beter voel, moet sy die polisie bel. Hulle moet Ryno gaan soek. Sy glo hy lewe nog. Eers as sy ’n lyk gesien het, sal sy aanvaar hy is dood.

’n Geluid laat haar opkyk. Die man met die vuurwapen staan in die deur. Sy trek haar asem in.

“Moenie bang wees nie,” sê hy. “Ek wil jou nie seermaak nie. Ek wil net gesels.”

“Ek het niks vir jou te sê nie. Julle het klaar–”

“Ek is nie ’n verkragter nie. My opdrag is net om jou om die lewe te bring.”

“Het Temper jou gestuur?”

“Ja, hy soek jou al die afgelope drie jaar. Blykbaar het jy ’n groot som geld van hom gesteel.”

“Hy lieg. Hy is vies omdat ek hom gelos het.

“Hy hou nie daarvan om reject te word nie. Anyway, skiet my nou en kry klaar.”

“Ek ... Ek kan dit nie doen nie. Nie ná al die leed wat die ander jou aangedoen het nie.”

“Pla jou gewete jou?”

“Ek het ook susters en dogters. As Temper só iets aan jou kan doen, kan dit met hulle ook gebeur. Sodra ek in die Kaap kom, gaan ek hom doodskiet sodat ons vir altyd ontslae kan wees van hom.”

“Waar is jou vriende?”

“Toe jy flou word, het ek voor­gestel ons gaan ry ’n ent om asem te skep. Op ’n oop stuk veld het ek hulle een-een geskiet.”

“Jy het vroegaand gesê julle het Ryno erg verniel. Lewe hy nog?”

“Die ouens moes hom pap slaan om jul huis se sleutels te kry, maar hy lewe. Ek het hom hospitaal toe gevat. Ek is jammer oor als. As jy my sal verskoon, ek’t ’n afspraak met ’n sekere dwelmbaas.”

DIE water is al koud, toe sit Jennifer steeds in die bad. Sy is nie seker of dit die werklikheid of net ’n nare droom is nie. Haar lewe is gespaar. Dit klink te goed om waar te wees. Kry jy werklik ’n moordenaar met ’n gewete?

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters