8 maande gelede
Hy loop rieme styf toe hy self skat gaan soek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede aflewering van MARIANA LOOTS se kortverhaal met die titel Die Vloek. Die verhaal handel oor Laurent, ’n ryk man wat met sy erfporsie ’n eiland koop en dan besluit om ontslae te raak van die inheemse stam wat daar woon. Hy wil groot geld maak met ’n vakansie-ontwikkeling op die eiland. ’n Verrimpelde ou vroutjie waarsku Laurent teen sy self­sugtige planne. Toe al die lede van die stam van die eiland verwyder is, is Laurent baie verlig. Daardie nag slaap hy egter onrustig. Hy droom van die ou vroutjie wat hom na ’n geheimsinnige kuil in die bosse lei ...

DAARDIE nag slaap die skatryk erfgenaam baie onrustig.

In ’n droom sien hy die vrou van die plein voor hom stap.

Sy lei hom na die kuil toe, en draai kort-kort om om te kyk of hy nog agter haar is.

Dieper en dieper stap hulle die donker in.

Net hier en daar is sonlig; en hy ril van die klam koue wat hom beetpak.

Meteens gaan staan die ou vrou stil. Sy wink na hom en glimlag.

Voetjie vir voetjie beweeg hy nader; die oewer is baie glibberig hier.

Oor haar skouer sien hy riete, en hy beur verby haar tot by die koel kuilwater.

Dan bestaan dit wragtig; die maaifoedies het toe nie daaroor gejok nie!

Teen die rand van die water sak hy op sy knieë neer, en staar na die glans wat van onder die water kom.

Dan sien hy dit – hordes goue muntstukke, en sommer baie van hulle.

Eintlik ’n hele see van hulle. Hy kan sy oë nie glo nie!

Met ’n ruk kyk hy na die vrou se kant toe, maar sy glimlag net en knik.

Sy lig haar hand asof sy hom wil aanpor om die munte op te eis.

® ® ®

Laurent is yskoud toe hy wakker skrik.

Die môre wil-wil nog net breek, maar hy is te opgewonde om tot ligdag te wag.

Haastig spring hy uit die bed en trek ’n warm uitrusting en waterstewels aan.

Hy gryp ’n leë rugsak en gooi biltong, water en ’n paar plastieksakke in.

Net voordat hy by die agterdeur uitglip, gryp hy ’n stapstok – ­in­geval die uile hom weer opdraande gee.

As die skat werklik in die kuil versteek lê, gaan hy dit vanoggend nog daar uithaal.

Hy alleen.

Dit moet ’n fortuin wees, en hy is beslis nie van plan om so ’n vonds te deel nie.

Hy stap deur die agterstrate tot by die woud.

Moenie laf wees nie, sê hy vir homself toe die haartjies in sy nek begin kriewel.

De laaste dorpenaar is weg, en sy personeel sal besig wees met hul oggendtake; salig onbewus daarvan dat hul baas lankal uit die vere is.

Op ’n amperse drafstap nader hy die opening wat die ou vroutjie hom in sy droom gewys het.

Vreemd; die woud is stil.

Hy sien ook geen teken meer van die uile nie.

Dalk het gister se gewerskaf ál die lastige uile berg se kant toe gedryf.

Net ’n oomblik lank wonder hy of hy nie nou ’n mal perd opgesaal het nie – was die droom nie bloot ’n uitvloeisel van die vorige dag se gebeure nie?

Maar hy weet sy siel sal nooit rus as hy nie gaan kyk nie; dis nou of nooit.

Dieper en dieper stap hy.

Dit is glibberig, en kort voor lank sweet hy behoorlik van die inspanning om nie te val nie.

Die son sit hogerig toe hy ’n kaalte tussen die bome bereik.

Sy hart gee ’n ruk.

Dis die kuil – net soos in sy droom!

Die laaste paar treë hardloop hy, en hy ignoreer die pyn wat deur sy een knie skiet toe hy vervaard langs die water neerplof.

’n Oomblik lank kan hy maar net staar.

Hy kyk skielik om om te sien of die vrou nie agter hom staan nie, maar daar is niks.

Net die munte, en so, so baie van hulle.

Hy begin lag, en lag en lag so dat hy later op sy rug lê.

Nie net is hy nou ontslae van die inwoners nie, hy het hul skat ontdek en hoef dit met niemand te deel nie.

Vanaand maak hy sy duurste bottel vonkelwyn oop – met hierdie fortuin sal hy bokse en bokse daarvan kan laat koop!

Toe hy tot bedaring gekom het, trek hy sy rugsak nader.

Hy begin die munte nader skraap. Vrag ná vrag oes hy uit die water.

Dit wil lyk asof sy sakke te min gaan wees, maar hy eien gou ’n boomstomp waarin hy dié kan wegsteek wat hy nie nou kan saamdra nie.

Dit is toe hy die laaste hopie munte wil optel dat ’n skadu oor hom val.

Gesteurd kyk hy op, en keer net betyds dat ’n groot mannetjiesuil hom lelik met sy kloue in die gesig krap.

Sy stok – verdomp! Dit lê op die oewer.

Weer en weer duik die uil op hom af.

Hy slaag daarin om sy baadjie oor sy kop te trek.

Sodra hy daardie laaste hopie munte het, sal hy onder die bome gaan skuiling soek totdat die ding bedaar het.

Laurent reik na die munte, maar verstar toe hy die geel oë onder die water sien.

Hy wil sy hand wegruk, maar is te laat.

Die geel oë vlieg uit die water, en terselfdertyd klem vyf groen vingers sy pols in ’n ystergreep vas.

Hy ruk en ruk om sy hand los te kry, maar die kuilgod klou daaraan vas.

Die gat wat sy mond moet wees, sper wyd oop asof in ’n lag, en dan begin hy stadig verder agteroor leun.

Laurent voel hy hoe sy balans verloor en tref die water met ’n harde slag.

Hoe meer hy probeer wegkom, hoe dieper trek die god hom die kuil in.

Die arms kry hom om die lyf beet. Laurent se longe brand verskriklik.

Hy swaai om in ’n desperate poging om asem te kry.

Hy sit vas in die kuilgras, maar kry vastrapplek en slaag ’n oomblik daarin om sy gesig bo die water te lig.

Asem!

Die water vou weer oor sy gesig, maar nie voordat hy die swerm uile sien nie.

In hul kloue het hulle sy sakke, en soos die munte op hom neer­reën, sak hy dieper en dieper weg – in sy donker watergraf uitgevoer met pragtige goud.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters