6 maande gelede
Gertruida raak paniekerig oor haar seuntjie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste aflewering van ’n spannende verhaal in twee dele uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dit “Jou Kind, My Kind”. Lekker lees!

GERTRUIDA Maans loer by haar voordeur uit na die cul-de-sac aan die einde van haar straat.

Sy sien hoe die buurt se kinders uitbundig daar rondspeel.

“Henkie! Kom in voordat dit donker raak!” roep sy na haar sesjarige seuntjie.

Toe sy geen antwoord kry nie, loop sy na haar hekkie toe.

Haar oë soek-soek na die klein haasbekkie van haar.

“Henkiee!” roep sy weer.

Daar kom sit ’n benoude gevoel op Gertruida se bors toe sy nie haar seuntjie tussen die bondel kinders gewaar nie.

Sy loop haastig in die straat uit. Sy kyk op en af in die straat. “Henkiee!” roep sy weer, dié keer ietwat harder.

Wanhopig kyk sy na die kinders wat nog rustig daar in die cul-de-sac speel.

“Het julle dalk vir Henkie gesien?” vra sy in die bondel. Daar is nou paniek in haar stem.

’n Paar kinders skud hul kop ontkennend.

“Antie Gerty, Henkie het dan nog nettou hier op die sypaadjie gesit!” kom dit van Danie, een van sy maatjies.

“N-Nou w-waar’s hy dan, Danie?” stotter Gertruida.

“Ek wetie, Antie!”

Dit voel vir Gertruida asof haar bors wil toetrek. “Asseblief, Here,” prewel sy.

Sy loop tot by die hoek van die straat, waar dit in die dwarsstraat vasloop.

Sy kyk in die ander straat op en af.

“Henkieee!” roep sy weer.

Die straat is doodstil, met nie ’n enkele siel in sig nie.

Sy loop op en af in die straat. Haar emosies begin nou die oorhand kry.

Sy byt haar onderlip vas.

Henkie is dan ’n kind wat nooit op ander plekke gaan speel nie.

’n Traan begin oor haar linkerwang biggel.

“Waar is jy, my baby?”

Sy loop vinnig terug huis toe.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe haar buurvrou van oorkant die pad by haar voordeur uitloer.

“Gertruida, soek jy vir Henkie?” vra dié en kom na die hekkie aangeloop.

Gertruida skep moed en kyk hoopvol na haar buurvrou.

“Ja, Pienkie. Is hy daar by jou?” vra sy vinnig.

Haar moed sak in haar skoene toe Pienkie haar kop skud. “Nee! Hy is nie hier nie.”

Gertruida gryp haar hare vas. “Nou waar is hy dan?!” gil sy histeries.

Pienkie haal ’n sigaret uit die pakkie wat sy in haar bra versteek. Sy steek dit aan en trek die rook diep in haar longe in.

Sy blaas die rook stadig by haar mond uit.

“Ek het gesien hoe hy in ’n kar klim,” sak sy skielik af en wys in die straat af.

Dit voel omtrent vir Gertruida of iemand haar wind uitslaan toe sy dít hoor.

“Wat sê jy nou daar?!” hyg sy dit uit. “W-watter kar?”

Weer ’n trek aan die sigaret. “Dit was so ’n rooi kar.”

“ ’n Rooi kar? Ek ken niemand met ’n rooi kar nie! Wie was in die kar?” rammel Gertruida die vrae af.

Die rokende Pienkie trek ongeërg haar skouers op en sê: “Ek kennie. Daar was net ’n man in die kar.”

Gertruida se hand gaan na haar mond. “H-Hoe n-nou? My jitte, Pienkie! Hoe kan jy toelaat dat ’n wildvreemde man vir Henkie hier wegvat?!”

Pienkie blaas dié keer die rook in kringetjies by haar mond uit.

Sy sê weer ongeërg: “Henkie is mos nie my verantwoordelikheid nie. Hy’s jóú verantwoordelikheid.”

Dit voel vir Gertruida asof sy ’n aar gaan bars. “Hoe kan jy só iets sê Pienkie?!”

Die trane stroom nou oor haar wange.

“Ek sal mos nie dat ’n wildvreemde man jóú jong meisiekind oplaai nie,” snik sy.

Pienkie rol haar oë in hul kasse. Sy draai haar rug op Getruida en loop na haar voordeur.

“Jy moet dan seker maar die polisie bel,” sê Pienkie oor haar skouer voordat sy by haar huis in verdwyn.

Gertruida kyk nog vir ’n rukkie na haar buurvrou se huis voordat sy huilend na haar eie huis hardloop.

Binne ’n halfuur hou ’n polisievoertuig voor Gertruida se huis stil.

’n Dossier vir ’n vermiste persoon word onmiddellik geopen.

Pienkie word ook gevra om ’n verklaring af te lê.

Sy stem gewillig in, maar eers beskuldig sy Gertruida dat dié ’n slegte ouer is wat nie na haar kind kan kyk nie.

“En dít is hoekom jou man jou gelos het!” sak die buurvrou nog vir oulaas af.

Die polisiebeampte, sers. Grob­ler, tree vinnig tussenbeide.

Hy kyk Pienkie ernstig aan.

“Mevrou, asseblief. Dit is nie nou die tyd om enige beskuldigings rond te gooi nie. ’n Kind is weg en hy is nou ons prioriteit!” sê hy ferm.

“Vir ’n grootmens is jy ook maar baie onverantwoordelik.

“Ek mean, om toe te kyk hoedat ’n wildvreemde man een van die kinders in jou straat oplaai, is nie baie wys nie!” berispe hy haar.

Dáárdie aand word deurnag na Henkie gesoek.

Die Pink Ladies, ’n organisasie wat vermiste kinders help terugvind, stel ook sy dienste beskikbaar.

Teen die oggendure het die soektog nog heeltemal niks opge­lewer nie.

Gertruida gaan lê uitgeput op Henkie se bed en klou sy teddiebeertjie styf in haar arms vas.

Rou snikke skeur deur haar liggaam. “My baby! Mammie is so jammer!” snik sy.

Sy huil haarself aan die slaap. Sy droom sy staan op die wal van ’n rivier. Aan die oorkant staan Henkie. Hy wink vir haar.

Sy klim in die water om oor te swem, maar skielik verander die water in dik, swart slik wat haar bene vassuig.

’n Man kom skielik te voorskyn en vat Henkie aan sy handjie.

Hy forseer die kind saam met hom, terwyl die kind na haar roep.

Sy gil agter hulle aan: “Hei, waarheen vat jy my kind? Kom terug!” Sy kyk magteloos toe hoe hulle in die verte verdwyn.

Haar hart begin skielik in haar ore klop. Eers sag, en toe al hoe harder.

Sy skrik wakker, steeds met die geklop in haar ore. Sy kyk verward in Henkie se kamer rond. Die geklop hou nie op nie.

Dis toe dat sy besef die geklop kom van haar voordeur af.

Gertruida strompel deur toe.

Toe sy dit oop pluk, kyk sy vas in die bewoë gesigte van twee polisielede.

  • Lees die slot in die volgende uitgawe van Son op Sondag

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters