5 maande gelede
Gertruida hoor slegte nuus oor haar laaitietjie
 ~ 

VOOR die Paasnaweek – in die eerste deel van SALMON SMITH se kortverhaal “Jou Kind, My Kind– het ons kennis gemaak met Gertruida Maans. Sy is diep bekommerd oor Henkie, haar seun, wat voor haar buurvrou Pienkie deur ’n vreemdeling opgelaai en weggevat is. Pienkie is ongeërg en meen dis nie haar plig om oor Henkie te worry nie. Die soektog na die kind lewer niks op nie – totdat twee polisiebeamptes die oggend met bewoë gesigte aan Gertruida se deur kom klop... Lees nou verder aan die laaste deel van dié verhaal.

‘MEVROU Maans, kan ons binnekom, asseblief?” vra die een met die ad­judant-rang op sy skouers.

Gertruida voel hoe haar keel dreig om toe te trek.

“I-is daar f-fout, menere?” vra sy versigtig. Sy staan opsy dat hulle kan inkom.

In die voorhuis haal die polisiebeamptes hul pette van hul kop af en plaas dit op hul bors.

Dié gebaar laat Getruida besef die manne van die gereg is met ’n doodstyding hier.

Haar bene voel asof hulle onder haar wil meegee. “N-nee …!” hyg sy dit uit.

Vir ondersteuning reik sy na die rugleuning van die rusbank.

Die adjudant kyk vlugtig na sy kollega en toe hy na Getruida kyk, is daar simpatie in sy oë.

“Mevrou Maans,” sê hy, “ek is bevrees ons het baie slegte nuus: Klein Henkie se liggaam is ontdek in ’n …”

Dít is al wat Getruida hoor voordat die donkerte meteens om haar toevou.

DIE dag van Henkie se begrafnis is die kerk tjokkenblok vol.

Die predikant, ds. Kotze, se oë rus ’n wyle simpatiek op die hartseer Gertruida, wat hier heel voor in ’n swart gewaad sit.

Van haar vervreemde man is geen teken nie.

Ds. Kotze slaan sy Bybel oop by Lukas 18 vers 16.

Hy lees: “Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.’ ”

Daar is ’n ernstige uitdrukking op sy gesig toe hy van sy Bybel af opkyk en sy oë oor die begrafnisgangers dwaal.

“Geliefdes, die duiwel is besig in ons gemeenskappe,” sê hy met ’n ferm stem.

“Ons kinders is deesdae die teiken van die gewetenlose misdadigers daar buite.

“Ons moet almal saamstaan en ons kinders beskerm. ’n Kind is almal se verantwoordelikheid.

“Ons as volwassenes moet kyk na mekaar se kinders. Ons moet weer die destydse reël van ‘my kind is jou kind en jou kind is my kind’ terugbring in ons samelewing.

“Moenie jou kop wegdraai as jy sien jou buurvrou se kind kry seer nie. Moenie stilbly as jy sien jou buurvrou se kind fouteer nie.”

TOE die slippedraers Henkie se kis by die kerk uitdra, val Gertruida reg agter hulle in.

Terwyl hulle in die kerk se gangetjie afstap, kyk sy vlugtig of sy Pienkie in die kerk gewaar.

Maar van haar buurvrou is daar geen teken nie.

Ná die teraardebestelling en die seremoniële plegtighede in die begraafplaas vang ’n beweging eenkant tussen die sipresbome Gertruida se oë terwyl sy na haar motor loop.

Sy draai haar kop in daardie rigting en sien dis Pienkie wat so alleen daar staan.

Gertruida kan nie die skielike onverklaarbare kalmte verstaan wat oor haar kom nie.

Sy is dan veronderstel om nog woedend te wees vir haar buurvrou oor Henkie se verdwyning en grusame moord. Sy besluit om nader te stap. Sy sien die effense ongemak in Pienkie se houding.

Toe sy voor haar gaan staan, sien sy tot haar verbasing trane rol oor haar buurvrou se wange.

“Hoekom huil jy, Pienkie?” vra sy kalm.

Pienkie se betraande oë ontwyk Gertruida s’n.

“Praat met my, Pienkie,” sê Gertruida saggies.

Die vrou vind dit moeilik om in Gertruida se gesig te kyk.

“E-ek kan nie m-met my gewete saamleef nie,” stotter Pinkie dit snikkend uit.

“Henkie is dood oor my eie selfsugtigheid – oor ek ’n grudge teen jou het.

“Jy het so ’n tyd gelede my dogter berispe omdat sy op die straathoek met ’n vreemde jong gevry het.

“Toe sy my daarvan kom vertel, het ek gedog jy wou jou neus in ons sake steek.

“Maar vandag het ek besef jy het dit net goed bedoel. Jy het dit gedoen omdat jy omgee. Jy wou Tries graag beskerm.”

Met die sneesdoekie in haar hand vee Pienkie die trane uit haar oë.

“E-ek is s-so jammer, Gertruida. Vergewe my.”

Gertruida se hart raak week toe sy haar buurvrou so broos sien.

“Pienkie, wat gebeur het, het gebeur. Ons kan dit nie verander nie,” sê sy.

“Henkie is dood, en niks gaan hom terugbring nie. Maar ons lewe gaan voort en ons kry nou die geleentheid om dinge tussen ons reg te maak.

“Ek wou eintlik kwaad wees vir jou, maar kan nie.

“Ek voel ’n onverklaarbare kalmte hier binne my.

“Ek glo dit is God wat aan my hart werk.

“Ds. Kotze se preek het my laat besef hoekom ons gemeenskappe só lyk soos dit dáár lyk.

“Hoekom daar plakkaatopskrifte oor die verkragting en ontvoering van en moord op ons kinders op ons lamppale pryk.

“Ons faal ons kinders oor ons nie meer vir mekaar omgee nie.

“Ons norme en waardestelsel het verander.

“Ons kyk nie meer na mekaar se kinders nie.”

Sy sit haar hande op Pienkie se skouers as ’n gebaar van vergifnis. “Ek dra jou in die hart, my buurvrou,” gaan sy voort.

“Dit wat met Henkie gebeur het, is ’n eye-opener vir ons almal. Ons moet dít gebruik om ons gemeenskappe op te voed.

“Ons twee kan begin deur ’n organisasie te stig wat veg om weer daardie ou waardestelsel terug te bring in ons gemeenskappe.

“Ons kan dit noem Jou Kind, My Kind.

“Ons kinders se veiligheid moet weer ons almal se prioriteit raak.

“Ons kan praatjies in ons gemeenskappe en skole hou en mense se mindset teenoor ons kinders verander. Sien jy kans?”

Trane stroom behoorlik oor Pienkie se wange toe sy Gertruida eindelik in die oë kyk.

“Ja, my buurvrou, ek sien kans,” sê sy beslis.

Toe slaan die twee vroue hul arms om mekaar en die damwal in hul gemoed breek los.

Trane vloei oor hul wange terwyl hulle mekaar vasdruk.

Nie een van hulle is bewus van die begrafnisgangers wat ’n kring om hulle kom vorm het en spontaan begin hande klap nie.

¦ Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters