15 dae gelede
Gaolgôa vind iets wat haar oë laat strek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag begin ons kortverhaal in twee dele deur NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem dit “Sjokoladeprinses”. Lekker lees!

HENNIE se oë fladder oop. Hy skud sy kop om van die duiseligheid ontslae te raak.

Versigtig beweeg hy sy ledemate een vir een. Darem niks gebreek nie. Ongeloof op sy gesig toe hy regop beur en rondom hom kyk.

Die Cessna (of dit wat daarvan oor is) lê ’n ent van hom af. Slegs dele van die romp.

Die vlerke en ander dele lê besaai oor die woestynsand sover as wat sy oog kan sien.

Sy kop draai nog effens en hy leun terug teen die koel sand.

Ag, Vader! Nog dit óók! Is dit dan nie genoeg dat die corona-virus-pandemie hul Paasfeesplanne in die wiele gery het nie?

Meer as ’n honderd weeskinders het tevergeefs gewag op die Paashaas, wat Paasmaandag met paaseiers vir hulle sou kom kuier.

Asof dit nie reeds moeilik genoeg is om ingehok in klein koshuiskamertjies te sit nie.

Hulle kon nie eens tydens lockdown uitgeplaas word in pleegsorg nie. Die Paashaas sou ook bordspeletjies saamgebring het waarmee hulle hul tyd sou kon verwyl.

Hennie weet Martie gaan baie teleurgesteld wees.

Eers bly omdat hy darem nog lewe, maar net totdat sy besef hul plan het nie gewerk nie.

Dit was haar idee dat hulle die Cessna moet gebruik.

Hy het laas week sy plantgewasse begin bespuit en toe kom die idee by haar op dat Hennie eendag vinnig sommer so oor die halfwoestyn moet vlieg en die kinders se paaseiers gaan aflewer.

Hy sou sommer op die koshuis se sportveld land.

Hy het gedink dis dalk nie so ’n goeie idee nie, maar as daardie hardkoppige vrou van hom eers iets in haar kop kry ... En dit nogal in hierdie verdomde simpel haas- pak!

Was dit nie vir die weeshuis se kinders nie, sou hy dit nooit gedoen het nie.

Hy beur weer orent en glimlag skeef. Dis waarskynlik juis hierdie haas-pak wat gemaak het dat sy ledemate nog heel is.

Hennie weet glad nie wat fout gegaan het nie.

Die Cessna se enjin het net skielik begin ruk en hy moes alles uithaal vir ’n noodlanding.

Wel ... dit het lelik gefaal as hy so na die wrakstukke kyk.

Dank die Vader hy is darem in een stuk.

GAOLGÔA skrik vir die vreemde voël wat so hard raas.

Sy skreef haar oë teen die son om beter te kan sien.

Die voël woer, woer deur die lug en sy maag is verskriklik seer. Rook borrel uit sy agterent.

Sy frons en vryf nadenkend oor die korrels op haar kop.

Die voël gee ’n harde skree en pyl op die grond af.

Sy skrik toe dit die grond tref en dan weer opstyg. Tref en styg, tref en styg.

Sy ken die hardkoppigheid van ’n dier.

Hy is soos die xam.mi (Leeu). Die voël bons oor die vlakte en verloor sy vlerke.

Sy hardloop oor ’n duin en sien hoe dit uiteindelik doer innie verte tot stilstand kom.

Morsdood! Dit weet sy.

Met haar oë in die verte haal sy die lami!uwu (volstruiseier) uit die dassievel om haar heupe en sluk drie klein slukkies.

Water is skaars in die woestynwêreld.

Sy trek die dassievel stywer om haar heupe en begin draf.

Sy jag al drie dae en behalwe ’n dassie en ’n skilpad het sy nog niks noemenswaardig gekry nie. As dié voël lekker smaak, beteken dit genoeg vleis vir ’n lang tyd.

Die winter is amper op hande en kos is dan skaars.

Daar is nege monde om te voed.

Haar pa is nie meer so jonk nie en sy is die oudste van haar vier boeties en twee sussies.

Haar voete raak net vlugtig aan die warm woestynsand. Dis háár wêreld die.

Skielik steek sy in haar spore vas. Die khorehore (eier) lê spierwit op die sand.

Sy buk en bekyk die vreemde eier nuuskierig.

Dit is anders as die eiers wat sy ken.

Dis te groot vir ’n voëleier en te klein vir ’n volstruiseier.

Sy tik versigtig met haar vinger aan die dop.

Dit klink ook vreemd.

Sy tel dit versigtig op en ruik daaraan.

Sy ruk haar kop weg en draai die eiers om en om. Ruik dan weer.

Sy’t nog nooit só iets geruik nie. Soet soos aandblomme, maar ook nie.

Sy druk saggies daaraan.

Sonder waarskuwing breek die dop en sy gooi dit verskrik neer.

Sy hardloop ’n ent weg. Gereed vir dit wat uit die dop mag kruip.

Niks.

Sy loop tree vir tree nader en buig dan oor die oopgebreekte dop.

Dis dan dolleeg!

Sy kyk rond. Haar skerp oë fynkam die sand, maar sy sien niks wat uit die dop uit kon gekruip het nie.

Sy buk en tel versigtig die een helfte op.

Dis bruin aan die binnekant en lyk soos ...

Sy bring dit weer stadig na haar neus, maar hou dit op ’n veilige afstand.

Versigtig.

Sy ken die aaklige stank van vrot eier.

Dan rek haar oë verbaas. Dit ruik lekker!

Selfs lekkerder as die wildeperskes se bloeisels!

Huiwerend druk sy haar vinger teen die bruin binneste.

Dit kleef nat aan haar vinger­punte en onwillekeurig druk sy dit op haar tong.

Sy val op haar sitvlak van verbasing!

Nog nooit het sy so iets geproe nie! Sy breek haastig ’n stuk af en prop dit in haar mond.

Dan volg nóg ’n stuk.

Gulsig verdwyn die res in haar mond.

Dit smaak lekkerder as lhudani! (heuning). Sy lek haar vingers skoon, ’n glimlag op haar gesig.

Nóg! Sy moet nóg eiers kry.

Dit moet die vreemde voël s’n wees!

Die vreemde voël se eiers smaak soos nektar van die gode. Haar pa gaan bly wees!

Sy drafstap verder. Haar oë fynkam die vlakte.

’n Paar meter verder word sy beloon met nóg een.

Haastig breek sy dit oop.

Hierdie een eet sy sommer so in die draf.

Haar moeite word beloon. Sy kry nog een en nóg een.

Ná oorweging bêre sy die vierde een in haar dassievelsak.

’n Mens weet nie hoeveel eiers so ’n voël op ’n slag lê nie.

Gaolgôa is so verdiep in haar soektog, sy skrik haar boeglam toe sy opkyk.

  • Voor haar staan die grootste haas wat sy in haar leeftyd gesien het! Lees volgende Sondag deel 2.

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters