5 maande gelede
Estelle in haar eina-rokkie is alte verleidelik
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n lekker kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit Gesteelde Ure. Lekker lees!

TOE die voordeur oopgaan, hang die reuk van haar lyfsproei in die groot vertrek.

Skielik staan sy voor my met ’n eina-rokkie aan.

In haar bruin oë sien ek ’n ondeunde kyk.

Verbeel ek my of kan dit dalk wellus wees?

Met haar wysvinger beduie sy ek moet inkom.

“Hallo, Estelle.”

Sy beantwoord my groet met ’n stoute glimlag.

Dan, onverwags, druk sy my teen die muur vas. Haar hande begin met my hemp se knope vroetel.

Ek kry dit nie oor my hart om haar weg te stoot nie.

Met watter speletjie is sy nou besig?

Sy het gevra ek moet kom inloer omdat sy ’n verrassing vir Moira, die liefde van my lewe, se verjaardag beplan.

Moira verjaar oor drie weke. Ek sal enigiets doen om die geleentheid ekstra spesiaal te maak.

Alles gebeur so vinnig. Toe ek my weer kom kry, is ons in mekaar se arms.

Haar lippe raak teen myne, my tong glip in haar mond. Ek soen haar met oorgawe.

Sy druk my stywer teen haar vas. Ek kyk in haar flou oë en dis asof sy my smeek om enigiets te doen waarvoor ek kans sien. My vingers streel liggies oor haar rug.

Sy neem my hand en lei my slaapkamer toe.

“Ek het nie ’n kondoom nie,” fluister ek.

“Dis oukei,” sê sy saggies. “Jy het niks om oor te worry nie.”

Binne sekondes is sy op die dubbelbed, ek bo-op haar.

In my agterkop hoor ek waarskuwingsklokkies, maar daaraan steur ek my nie.

’n Kans soos dié kom nie elke dag oor my pad nie.

Ek ken haar nie so nie. Sy is altyd so stil en teruggetrokke. So goedgemanierd.

Ek het nie geweet sy het ’n wilde kant nie.

“Be gentle with me,” sê sy toe ons albei sonder klere is. “I want to enjoy every single minute.”

My hart klop opgewonde. Ek kort geen verdere aansporing nie.

Al weet ek dis verkeerd, gaan ek nogtans oor tot die daad.

Dit voel of ek tot in die sewende hemel sweef. Sy maak sagte kreungeluidjies.

Toe alles oor is, trek ek haastig my klere aan.

Daar is nie nou tyd vir stort nie. Ek moet by die huis kom voor iemand my hier kom betrap.

Ek soen haar vir oulaas, draai om en stap weg.

“You are damn good,” sak sy af. “We must do it again sometime.”

Dit mag nooit weer gebeur nie, wil ek sê, maar die woorde kom nie uit nie.

Kan dit wees dat ek nog ’n keer van die verbode vrug wil proe? Ek weet dan hoe verslawend seks kan wees; dis erger as ’n dwelmmiddel.

Hoe meer jy kry, hoe meer wil jy hê.

Ek trek die deur agter my toe en haas my na my motor.

Ek klim in en trek weg.

Steeds verward sit ek agter die stuurwiel.

Wat het in Estelle gevaar? Is sy en Alfonso nie meer in ’n verhouding nie?

Dalk het sy uitgevind hy is ’n player en hom in die pad gesteek.

Ek het nog nooit van hom gehou nie. Hy is te voor op die wa. Maar sy.

In my oë was sy nog nooit ’n maklike meisie nie.

Dis laataand. Ek lê op my sy en staar nikssiende na die oorkantste muur.

Boonop het ek ’n hoofpyn wat weier om die hasepad te kies.

Die laaste ding wat ek nou nodig het, is Klaas Vakie se skielike vyandiggesindheid.

Ander aande dié tyd het hy lankal sy verskyning gemaak. Waar draai hy vanaand?

Langs my hoor ek Moira se ritmiese asemhaling. Ek brand van jaloesie.

Sy slaap so vas dat ek twyfel of sy ’n inbreker sal hoor inkom.

Ek sal wat wou gee om ook nou in droomland te wees, veral ná die lang dag wat ek agter die rug het.

Buite fluit die herfswind so ’n treurige ou deuntjie.

Dit klink asof daar reën op pad is. Ons het dit broodnodig ná die lang, droë somer.

’n Skuldgevoel pak my beet. Ek draai op my rug.

My gedagtes is by vanmiddag.

Ek wens dit was moontlik om die tyd terug te draai. Maar ongelukkig is daar geen keer aan gedane sake nie.

Wat ek aangevang het, is onvergeeflik. Dit was ook so onverwags dat daar nie kans was om nee te sê nie. Alles het heeltemal te vinnig gebeur.

Ek moes van beter geweet het. ’n Man in ’n vaste verhouding is mos nie veronderstel om so maklik met ’n slap riem gevang te word nie.

Waarom het ek in die strik getrap? Moes ek nie die versoeking weerstaan het nie?

Hoe gaan Moira reageer as sy hiervan moet uitvind?

Ek twyfel of sy my sal vergewe. Sy sal nie meer met my wil trou nie. Ons is ses maande verloof en ons groot dag is voor die einde van die jaar.

Wat tussen my en Estelle plaasgevind het, mag nooit op die lappe kom nie.

Dit moet vir altyd ’n geheim bly, niemand mag ooit weet nie.

Estelle is 22, ek word 30. Gelukkig het Moira niks agtergekom nie.

Ek weet nie wat ek sou antwoord as sy dalk gevra het of iets verkeerd is nie. Ek haat dit om vir haar te lieg.

’n Week voor Moira se verjaardag stuur ek vir Estelle ’n Whats­App. “Wanne maak ons wee so?”

Sy antwoord onmiddellik. “Your choice.”

Dieselfde middag gaan klop ek aan haar deur. Sy nooi my in en nie lank nie of ons is op pad slaapkamer toe.

Toe ek gereed maak om te loop, sê sy: “Daar is iets wat jy moet weet. Ek is al jare lank verlief op jou. Maar ek weet Moira is die vrou vir jou en ek sal nooit joune wees nie.”

Ek trek my asem skerp in. “Ek het nooit besef nie, Estelle.”

“Het jy dan gedink ek is ‘n goedkoop flerrie om myself op ’n skinkbord vir jou te gee? Nee, ek het gevoelens vir jou.”

Ek kan ongelukkig nie sê ek voel dieselfde nie. Vir my is Estelle net onskuldige pret. Moira is die vrou vir my. Ek dink dit sal beter wees as ek my afstand behou.

“En as jy dink ek sal jou net so laat gaan, maak jy ’n groot fout. Al is jy ook getroud, sal ek jou dwing om minstens een keer ’n week vir my te kom kuier.

“Ek sal tevrede wees met gesteelde ure.

“As jy net wegbly, sal ek geen ander keuse hê as om vir Moira alles te vertel nie.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters