5 maande gelede
Dít sou niemand van Marguerita kon voorspel nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n lekker kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit Die Liefdevolste Gebaar. Lekker lees!

WAAR die pragtige Marguerita aan daardie lawwe idee gekom het, is iets waaroor die inwoners van ons Karoodorpie vandag nog wonder.

Niemand van ons was só iets van háár te wagte nie.

Nie eens in ons wildste of stoutste nagmerries nie.

Sy was ’n slim, oopkop, nugterdenkende vrou wat in ’n godsdienstige huis met goeie lewenswaardes grootgeword het.

“Wat het haar besiel?” het van die inwoners agterna gevra. “Dis mos nie hoe oom Frik en tannie Magda haar grootgemaak het nie.”

Ander het weer gevoel dis die duiwel wat op haar skouer kom sit en haar gedagtes vol muisneste geprop het.

Die klomp geld wat sy van haar ouers geërf het, kon ook ’n rol in haar besluit gespeel het.

Het sy dalk toegelaat dat haar kop omgepraat word?

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek oordeel nie.

Ek, Gielman Zoesvogel, was heimlik verlief op Marguerita, maar van jongs af was daar vir haar net een spesiale vriend: Kornelius Hoornhoff.

Teen hom sou ek nooit ’n kans hê nie. Hy was die skool se atletiekkampioen en ’n uitblinker op die rugbyveld. Boonop kon hy net so mooi soos Elvis Presley sing.

Ek, met my bakore en oorgewig lyf, was altyd net ’n toeskouer by sportbyeenkomste.

En die enkele kere dat ek ’n poging aangewend het om te sing, het Snoesie, ons huiskat, onder die bed gaan inkruip.

Dit was ’n uitgemaakte saak dat Marguerita eendag mev. Hoornhoff sou word. Hul ouers het gereeld oor en weer gekuier.

Soos verwag, was hul troue omtrent spoggerig. Marguerita het soos ’n aktrise uit ’n liefdesfliek gelyk. Ek was skoon jaloers toe die predikant vir Kornelius afsak: “You may kiss the bride.”

Op die oog af was Marguerita en Kornelius ’n gelukkige paartjie.

Die bure het hulle nooit gehoor stry of baklei nie. Hulle was lief daarvoor om op ’n Saterdagoggend saam inkopies te gaan doen, op ’n Sondag saam kerk toe te gaan en soms ook deur die week, as daar ’n spesiale erediens aan die gang was.

Hulle het graag vriende onthaal, want niemand kon lekkerder wortelkoek bak as Marguerita nie.

Aan sterk drank of nikotien het dié twee nie hul mond gesit nie. “ ’n Onnodige verkwisting van geld,” het ek Kornelius op ’n keer gehoor sê.

Wat bedsake betref, het dit geblyk Kornelius sukkel redelik om die wa deur die drif te trek.

Hul huwelik was al sewe jaar oud sonder dat ’n erfgenaam sy of haar verskyning gemaak het.

Vanselfsprekend het van die inwoners hul eie afleidings begin maak. Wat anders verwag jy van ’n plattelandse dorpie soos ons s’n, waar almal alles van mekaar weet?

Dat Marguerita se besluit ’n impulsiewe een was, glo ek g’n oomblik nie.

Ek reken dit was goed deurdink en deeglik beplan. Sy het immers die verskil tussen reg en verkeerd geken.

Maar voordat ek die lesers verwar, kom ek vertel die storie in die korrekte volgorde.

Daar was gerugte dat diaken Langeveldt ’n ogie op Marguerita het. Hy was ongetroud en nuut in ons midde.

Marguerita, aan die ander kant, was nege jaar ouer as Langeveldt. Die mense het die feit dat die Hoornhoff-egpaar nog kinderloos was as die “sewe maer jare” bestempel. Daar is gesê: “Hulle vind seker nog hul voete.”

Niemand het dit gewaag om hardop te sê dat Kornelius in daardie afdeling dalk nie so ge­seënd was nie.

Kyk, op ons ou dorpie bly niks lank ’n geheim nie en vir my wat Gielman Zoesvogel is, draai jy nie sommer ’n rat voor die oë nie.

Op my eie tyd snuffel ek elke stukkie detail uit, net soos in die dae toe ek nog ’n ondersoekbeampte was.

Jy kan ’n keer of wat die waarheid van my weerhou, maar sodra ek agterkom jy steek iets weg, bly ek soos ’n snuffelhond op jou spoor.

Ek sal so krap en karring en so op jou senuwees werk dat jy later met die hele sak patats vorendag sal kom.

Maar wag, die storie gaan oor meer as ’n jakkals wat sy eie stert prys.

Vanselfsprekend het Kornelius van die nuwe diaken te hore gekom.

Soos enige goeie eggenoot het hy hom glad nie aan die gerugte gesteur nie.

“Ek wens die mense wil iets anders kry om te doen as skinder,” het hy dit afgelag. “My Marguerita sal haar nooit ophou met ’n bogsnuiter soos Langeveldt nie.”

Eers toe Kornelius een middag by die huis kom en verneem Marguerita en Langeveldt het die dorp saam-saam verlaat, het hy hond se gedagte gekry.

Hy het hom begin afsonder en teruggetrokke geraak.

Vriende en familie was nie meer welkom by sy woning nie.

Elf jaar nadat sy weg is, het Marguerita een middag uit die bloute weer haar verskyning in die dorp gemaak.

Sy was asvaal en verslete en van diaken Langeveldt was daar geen teken nie. Aan elke hand het sy ’n kind met verskrikte oë gehad.

Die inwoners het haar almal net ’n vuil kyk gegee en weggeloop van waar sy op die sypaadjie gesit en bedel het.

Ek kon dit nie oor my hart kry om haar net so aan haar genade oor te laat nie.

Daar was immers ’n tyd toe my hart warm geklop het vir haar.

Ek het haar en die kinders toe maar in my motor gelaai en saamgeneem huis toe.

Ek was nog besig om iets te ete aanmekaar te slaan toe ek die gehamer aan my voordeur hoor.

Toe ek oopmaak, sien ek Korne­lius voor my staan.

Sonder ’n woord het hy verby my geskuur tot in die voorkamer, waar Marguerita en die kinders televisie gekyk het.

Hier kom groot moeilikheid, het dit deur my gedagtes gegaan.

Ek hoop nie Kornelius gaan die vrou te lyf nie.

Tot my verbasing het ek Korne­lius gehoor sê: “Het jy nie ’n huis nie, Marguerita? Vandat jy weg is, het ek elke aand gebid dat jy moet terugkeer, en vandag is my gebede verhoor.

“Onthou, ek het jou nooit verwerp nie. In die oë van die Here is ons steeds man en vrou.”

My hart het gebreek toe Korne­lius sy arms uitsteek en Marguerita omhels.

Die trane het vanaf nêrens hul verskyning gemaak. Ek weet nie wie van ons die hardste gehuil het nie: ek, Kornelius of Marguerita.

Toe hy die twee kleintjies styf teen hom vasdruk asof hulle sy eie vlees en bloed is, het dit gelyk of die jare tussenin nooit werklik bestaan het nie. Dit was die liefdevolste gebaar wat ek in my hele lewe aanskou het.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters