4 maande gelede
Die verkragter forseer Santie van die pad af
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die laaste deel van NORMAN EVERTSON se verhaal Die Pad Huis Toe Voel Langer. In die vorige twee aflewerings het ons kennis gemaak met Santie Marais, wat tipsy raak in die sportkroeg en later in die nag sonder haar vriende huis toe moet loop. Sy raak bang toe sy in die donker aan die rumour van ’n reeksverkragter dink. En skielik in die donker sit ’n man sy hand oor haar mond. Lees nou verder...

‘MAAK oop jou oë,” hoor sy hom sê.

Hy haal sy hand van haar mond af.

Sy blaas haar asem uit, maak dan bang-bang eers die een oog oop en toe die ander een.

Geen wapen nie. Sy’s verlig.

Hy hou egter iets in sy hand wat nes ’n besigheidskaartjie lyk.

Sy kan nie lekker uitmaak wat dit is nie. Die lig van die straatlamp is te flou.

Boonop staan hulle in die donker verskuil agter die boom.

“Lees,” sê hy.

Sy frons. Hy sien sy sukkel om te lees wat daarop staan.

Hy hou die kaartjie effens in die lig wat van die flou straatlamp af skyn.

Sy kyk weer. Toe herken sy die kenteken van die polisie – die polisie-ster.

Sy lees onder meer die woorde “speursersant Otto Cupido” daarop. Verligting spoel oor haar.

Sy begin ontspan.

“So, jy’s ’n polie–”

“Nie so hard nie!” onderbreek hy haar sag maar dringend.

Hy plaas sy linkerwysvinger op sy lippe om te wys sy moet stilbly. Hy beduie nog iets met sy hande en wys in die rigting waarvandaan sy gekom het. Sy verstaan nie en kyk hom verward aan.

“Laat ek verduidelik. Luister jy net en doen wat ek sê. Verstaan?”

Sy knik instemmend.

“Jy word agtervolg,” praat hy saggies fluisterend.

“Ons vermoed dit is daai Jack-vent, die reeksverkragter.

“Maak nou presies soos ek sê. Jy hoef niks te vrees nie.

“My kollegas is hier naby op strategiese plekke verskuil.”

Santie voel nou sommer stukke beter.

“Nou goed, dít is wat jy moet doen ...” Sers. Cupido verduidelik toe vir haar wat hy van haar verlang.

Toe hy tevrede is dat sy verstaan, sê hy sy moet nou normaalweg verder stap.

Ook nie lank nadat sy weg is nie, kom ta verby gesuiker. Sy hoodie se kappie is oor ’n bofbalpet getrek. Donkerbril op die oë.

Hy is haastig, op ’n drafstap.

Sers. Cupido lig sy kollegas per radio in van die nuwe verwikkelinge.

Toe begin hy die hoodie-man volg – ongemerk, op ’n veilige afstand.

Hoodie-man is besig om Santie in te haal.

Hulle nader ’n wit motor wat langs die pad geparkeer staan. Die ruite is swart getint!

Is dit dieselfde motor van vroeër? Sy is nie seker nie. Sy gaan haar nie verder aan die motor steur nie.

Sers. Cupido het haar mos ver­seker sy hoef nie te worry nie, sy manne is in die nabyheid.

Santie fokus eerder op Hoodie-man, wat hier knap op haar hakke is. Sy weet al ’n rukkie dat hy haar volg, maar sy maak asof sy nie van hom weet nie. Sy kyk nie eens om nie.

Agter die motor maak die pad ’n draai. Santie en haar agtervolger is nou om die draai.

Hoodie-man kyk nog een keer vlugtig om hom rond voordat hy sy move maak.

Santie is nie meer so bang nie.

Sy weet iewers hier naby skuil polisiebeamptes, gereed om haar te hulp te snel.

Toe gebeur dit. Hy gryp haar skielik vas.

“Een piep en jy’s vrek!” sis hy deur sy tande. Hy forseer haar in tussen die lang gras wat welig langs die pad groei.

Toe hulle ver genoeg van die pad af is, stoot hy haar dat sy op haar rug val. Hy sak op sy knieë neer en druk haar hande bokant haar kop op die grond vas.

“As jy skree, maak ek jou vrek!” dreig hy weer.

Santie begin panic. Waar draai die polisie dan nou?

Moet die man haar dan eers seermaak voordat hulle gaan toeslaan?

Hy kom sit wydsbeen oor haar, maak sy belt en broek los.

Sy is te bang om haar teë te sit. Netnou voer hy sy dreigement uit.

Hy gryp haar bloes met albei hande vas en skeur dit met geweld van haar lyf af. Hy glimlag terwyl hy haar borste betas, bo-oor die bra wat sy aan het.

Sy voel gewalg deur sy aanraking. Dan pluk hy die bra ook met een rukbeweging van haar liggaam af.

Waar is die polisie?

Santie begin skielik twyfel aan dié sers. Cupido.

Hoe weet sy hy is regtig ’n polisieman? ’n Mens hoor so dikwels van korrupte polisie­beamptes wat saam met skelms werk en op druglords se payroll is.

Wie sê daai polisie-ID wat hy vir haar gewys het, is eg?

O, genade, nee! Sê nou hy’s kop in een mus met dié skurk!

En dalk is dit so, want waar is sers. Cupido en sy sogenaamde kollegas dan nou?

Die maniak is op die punt om my te verkrag, dink sy benoud! En hulle is missing in action!

Sy besluit: te hel met alles. Sy gaan haar nie soos ’n lam ter slagting laat lei nie.

As sy dan moet sterf, gaan dit nie sonder ’n geveg wees nie.

Sy skop met haar bene en probeer hom van haar afgooi.

Sy slaan haar lang naels in sy gesig en probeer sy gesigvel letter aftrek soos sy hom krap!

Hy skree van die pyn en klap haar deur die gesig: “Jou bitch! Ek sal jou wys!”

Toe ruk hy haar jeans oop en wikkel dit van haar boude af ...

Dan vries hy meteens! Hy voel iets kouds teen die kant van sy kop. Hy begin sy kop draai om te sien wat dit is ...

“Moenie!” bulder sers. Cupido se stem agter hom. “As jy soveel as ’n vinger verroer, is jy dood, Jack Daniëls!

“Op jou agterpote is jy!” beveel hy die skurk terwyl sy vuurwapen steeds op hom gerig is.

Santie trek vinnig haar jeans, wat halfpad afgetrek was, op en probeer om haar ontblote borste met die geskeurde bloes te bedek.

Toe spring sy op en gaan skuil agter speurder Cupido.

Hy trek sy baadjie uit – sonder om die vuurwapen van Jack af te neem – en gee dit vir Santie om haarself mee te bedek.

“Ek het begin twyfel toe jy so lank draai,” sê sy ontsteld.

“Jammer daaroor, maar ek moes hom op heter daad betrap om te verseker ons saak teen hom is waterdig. Ek sou egter nooit toelaat dat hy sy vieslike daad uitvoer nie.”

Sy twee kollegas het intussen ook hul opwagting gemaak. Hy beveel hulle om die mees gesoekte mis­dadiger te boei en in die patrollievoertuig te laai.

Santie ry saam met sers. Cupido na die polisiestasie sodat hy haar verklaring kan afneem. Die gevreesde Jack Daniëls, reeksverkragter, se geluk het uitgeloop...

Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters