8 maande gelede
Die giftong-antie wil die rykgat se planne bedinges
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n splinternuwe kortverhaal in twee dele deur MARIANA LOOTS. Dit gaan oor ’n ryk man wat met sy erfporsie ’n eiland koop en besluit om ontslae te raak van die plaaslike stam wat daar woon. Maar gaan hy dit regkry? Gaan hy nog miljoene kan maak met sy ontwikkeling op die eiland? Of gaan die verrimpelde vroutjie wat hom teen sy planne waarsku, hom kan keer om hul eilandtuiste vir ewig af te vat. Geniet hierdie kortverhaal wat sy “Die Vloek” noem.

‘AG, MAN, dit is mos nou loutere twak,” maak Laurent die verrimpelde ou feeks op die dorpsplein stil.

“Ek weet nie vir wat julle agter­like spul eilandmense julle nog aan al daardie soort ouvroustories steur nie.

“’n Mens sou waaragtig nooit sê daar is ’n beskawing net anderkant die grense van hierdie eiland nie.

“Hier is dit asof die mense nog diep in die Middeleeue vasgevang is... Gaan weg!”

“Maar, Meneer... ” begin die ou vrou weer.

Hy waai haar egter soos ’n lastige vlieg weg en gee ’n skop in die rigting van die uil wat altyd om haar draai.

Haar geteem oor die kastige vloek van die verlore skat het hom sommer dadelik spyt gemaak dat hy nou juis vandag gekies het om die eiland te verken wat hy met ’n deel van sy erfporsie aangeskaf het.

As dit van hom afgehang het, het hy die inheemse gespuis met die intrapslag van die eiland afgesit en dadelik met sy luukse vakansieontwikkeling begin.

Die bepalings van die trust het egter sy groot planne ietwat gekortwiek.

Hy hoef gelukkig nog net ’n paar dae geduldig te wees.

Sy prokureur het eindelik ’n skuiwergat gevind wat hulle in staat sal stel om van die stam ontslae te raak.

’n Aardige bedraggie is natuurlik onder die tafel aangegee.

Hoe meer hy egter met die mense van sy nuwe eiland te doen het, hoe meer glo hy dit is waarskynlik elke laaste sent werd.

Die eilandbewoners laat hom sommer gril.

Hulle stink ondraaglik van die modder waarmee hulle hul halfkaal lywe bedek.

Die braaksel stamp teen sy kiewe vas elke keer wanneer hy daai reuk ruik.

Hoe dié gebroedsel dit met stank en al nog regkry om so geesdriftig aan te teel, gaan sy verstand te bowe.

Dalk is dit ’n newe-effek van daardie onmenslike brousel wat hulle van die plaaslike gewasse maak.

Pure bokpis, as jy hom vra, maar die spul kan nie genoeg daarvan kry nie.

Al wanneer hy dit dalk nog kan uitstaan om naby hulle te kom, is wanneer hulle met die volmaan offers bring aan die god wat oor die sogenaamde skat in die kuil waak.

Die bangmaakstories oor wat sal gebeur as die eiland se bewoners dit nie doen nie, wissel van onvrugbaarheid en droogte tot siektes en vreeslike epidemies.

So, dit is basies enigiets wat die een of ander tyd in enige gemiddelde ­samelewing voorkom.

Maar dié klomp is heeltemal te dom om dit te besef.

Hy moet seker dankbaar wees; offertyd word die lywe skoon gewas en is die reuk gangbaar – tot en met donkermaan, wanneer die moddersmeerdery en bierbrouery weer begin.

Laurent kyk aandagtig in die rigting waarin die kuil veronderstel is om te lê.

Al is dit in die middel van die dag, lyk daardie deel van die eiland donker.

Vloek – gmf! Dit sal nou die dag wees.

Die een of ander ou kluisenaar het hom seker maar destyds daar afgesonder en toe die storie van die vervloekte skat uitgedink om nuuskierige agies van sy blyplek af weg te hou.

Hy sal net wag totdat die uitsettingsbevel bekragtig word.

Daarna sal hy op sy tyd gaan ondersoek instel.

Maar nóú kan ’n mens dit nie waag nie.

As die inwoners nie ’n bohaai opskop wanneer ’n mens te na aan die woud beweeg nie, swiep die uile wat daar hou, so gevaarlik naby jou verby dat ’n mens sommer gou die aftog blaas.

Hy sal nog ’n plan maak met die uile.

Daar is genoeg handelaars wat maar alte gretig sal wees om hulle van sy hande af te neem.

SKAARS ’n week later staan en hou Laurent die uitsetting van sy balkon af dop.

Die genoegdoening oor wat hy met sy slinksheid vermag het, laat dit vir hom omtrent voel asof hy gloei.

Oormôre kom die stootskrapers en word ál die mense se hutjies platgestoot.

En dan kan die bouwerk in alle erns begin.

Die meeste mense stap gedwee na die bote.

Hulle is oorbluf dat hulle moet skoert.

Laurent wil net weer glimlag oor sy groot sukses, maar toe gewaar hy die geplooide ou giftong van die plein waar sy nou eenkant staan.

Hy herken haar aan die kierie wat sy altyd by haar het.

Net agter haar sit daardie vervlakste uil.

Sy staan met haar rug na die hawe; haar gesig is in die rigting van die kuil gedraai.

Sy lig haar arms hoog op en die wind dra haar woorde tot by hom.

Dit is nie dieselfde eentonige gebed wat op volmaan-aande opklink nie.

Hierdie keer klink dit dreigender, dierliker.

Laurent skrik toe die ou vroutjie haar kierie neersit en haar hande kliphard begin klap.

Terselfdertyd begin die vrou met haar regtervoet op die grond stamp. Ritmies, terwyl sy ál harder dreunsing.

Met ’n onaardse grom val die ou vroutjie vooroor en lê ’n lang ruk so.

Die uil sprei sy vlerke, gly deur die lug en kies koers woud se kant toe.

“Tsk!” sê Laurent en draai hom gevoelloos om om vir hom ’n sjerrie te gaan gooi.

Toe hy terugkom, is die ver­rimpelde ou vroutjie weg.

Dankie tog, dink hy verlig, en ver­lustig hom weer aan die ongereptheid van die eiland waaruit hy hoop om binnekort miljoene der mil­joene te maak.

Daardie nag slaap Laurent baie onrustig.

In ’n droom sien hy die ou vroutjie van die plein voor hom stap.

Sy lei hom reguit na die kuil toe. Die vroutjie draai haar kort-kort om om te kyk of hy wat Laurent is, nog agter haar aankom ...

) Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters