2 maande gelede
Derick wonder hoe hy ’n bergie geword het
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n kortverhaal uit die pen van NORMAN EVERTSON. Dit handel oor ’n man wat ’n lewensles leer om te waardeer wat hy het. Die skrywer noem dit Met Nuwe Oë. Lekker lees!

DERICK Jonker het so pas wakker geword. Dit was ’n koue nag.

Sy lyf is seer. Die sementvloer is hard en koud.

Die “bed” waarop hy geslaap het, bestaan uit ’n paar stukke karton; so twee, drie stukke op mekaar.

Dit het nie juis gehelp teen die koue, harde oppervlak nie.

Die dik, grys jas wat hy oor sy ander klere aan het, was ook maar skrale troos teen die snerpende koue.

Derick se slaapplek is die agterstoep van Kom Weer Kafee op die hoek van Kerk- en Waterkantstraat.

Hy knip-knip sy oë om aan die skerp daglig gewoond te raak.

Hy vryf die slaap uit sy oë en gee ’n lang gaap met die mond wawyd oop en die arms bokant die kop uitgestrek.

Terwyl hy hom so uitrek, wonder hy vir die soveelste keer hoe hy in hierdie situasie beland het.

Hy was eens op ’n tyd ’n baie suksesvolle sakeman, maar nou leef hy soos ’n boemelaar.

Hy slaap op winkelstoepe en krap in vullishouers vir kos.

Hy is afhanklik van aalmoese van goedhartige mense.

Hoe het hy tot dié vlak gedaal? Dit voel so onwerklik.

Hy hoor hoe die dorp se kerkklok die ure aftel.

Ná die vyfde slag word die klok stil. Dit beteken dis nou vyfuur in die môre.

Hy raak skielik bewus van die hongerpyne wat aan hom knaag.

Hy trek homself regop tot in ’n sittende posisie met sy rug teen die kafee se muur.

Hy kyk om hom rond vir iets om te eet.

Hy kon sweer hy het nog ’n stukkie brood van gisteraand oorgehou.

Net voor toemaaktyd het oom Pietie, eienaar van die kafee, vir hom ’n halwe bruinbrood en ’n koeldrank gegee.

Hy het van die brood geëet en met ’n bietjie koeldrank afgesluk. Die res het hy gebêre.

Maar dis nou skoonveld. Net die 500 mF-plastiekbottel lê op die stoep. Halfvol.

Die brood is egter weg.

Dalk het daai rondloperbrak deur die nag hier kom snuffel en die brood opgevreet. Verdomp!

Hy’s vrek as ek hom in die hande kry, dink Derick vies. Hy dood van die honger!

Hy staan moeisaam op. Tel die Coke-bottel op en drink die bietjie koeldrank wat oor is.

Miskien help dit om die ergste hongerpyne te stil. Hy ledig die bottel met een lang teug.

Dan loop hy na die vullisdrom wat op die sypaadjie staan, lig die deksel op en gooi die leë koeldrankbottel daarin.

Sy oog val op ’n stuk papier. Vir een of ander rede bly sy oë vasgenael op dié stuk papier.

Dis amper asof iets hom dwing om die woorde daarop te lees: “Be nice to people on your way up. You might need them on your way down.”

Hy frons. Wonder wat dit sou beteken. Hy lees weer. Laat die woorde insink. Dink ’n oomblik na. Probeer sin maak daarvan.

Nee wat, dit beteken niks vir hom nie. Dan besluit hy basta daarmee! Hoekom sal hy nou sy kop breek oor ’n stuk papier in ’n vullisdrom? Hy moet liewer iets in sy maag kry.

Hy krap verder in die vullisdrom vir iets te ete. Hy vind egter niks eetbaars nie.

Sy gedagtes dwaal na die tyd toe hy ’n baie suksesvolle sakeman was. Hy het ’n florerende besigheid gehad met takke in byna ál nege provinsies van die land.

En nou ... ’n boemelaar? Hoe is dit moontlik?

Hy moet egter eerlik wees met homself. Hy was onverbiddelik.

Wanneer dit kom by sake doen, het hy niks en niemand ontsien nie. Nie eens sy vrou of familie het sy ongenaakbaarheid vrygespring nie. Sukses en rykdom was sy grootste prioriteit.

Hy was ’n regte slawedrywer.

Sy gedagtegang word weer onderbreek deur die knaende hongerpyne. Hy móét eenvoudig iets kry om te eet anders gaan hy flou val van hongerte!

Hy stap verder in die pad af. Hy sien ’n wheelie bin voor ’n massiewe woning met ’n dubbeldeurmotorhuis.

Die huis lyk baie bekend ...

Hy tip die wheelie bin effens vooroor. Begin daarin krap. Hy grou en grou tussen die gemors.

Hy vind ’n boksie Kentucky met twee stukkies half geëte hoendervleis. Gulsig verslind hy die stukkies weggooi-hoender.

Toe hy klaar geëet het, besluit hy om by die groot huis te gaan aanklop vir ’n los werkie. Hy maak die tuinhekkie oop. Stap met die trappe op en lui die deurklokkie.

’n Pragtige jong vrou maak die deur oop. Sy lyk op ’n druppel nes sy eie vrou. Dié het hom egter ’n tyd gelede in sy peetjie gestuur.

Maar eienaardig genoeg – hy kan nie onthou wanneer en hoe dit gebeur het nie.

“Môre. Kan ek help?” vra die aantreklike vrou vriendelik.

Derick vra om met haar man te praat, want hy’s op soek na werk.

“Net ’n oomblik,” sê sy.

Sy draai haar om en roep in die gang af. “Derick!”

Hy reageer nie dadelik nie. Dan roep sy weer. “Derick!”

Vaagweg hoor Derick iemand roep na hom.

“Derick, word wakker!”

Sy oë flikker oop.

Hy knip-knip hulle ’n paar keer.

Hy kyk verward om hom rond.

“Jy gaan laat wees vir werk, my man,” sê sy. “Ontbyt is gereed, jy sal moet wikkel.

“Jy’t gisteraand gepraat van ’n belangrike sake-afspraak vanoggend vroeg.”

Dan raak alles vir hom duidelik.

Hy lê in sy bed. Hy is nie ’n boemelaar nie.

En hier voor hom staan sy vrou in lewende lywe! Sy het hom ook nie verlaat nie.

Verligting spoel soos ’n verfrissende seebriesie oor hom. Dit was alles net ’n nare droom! Of wag ...

’n Frons verskyn op sy voorkop. Daai woorde? “Be nice to people on your way up. You might need them on your way down.”

Dit beteken tóg iets.

Baie gedagtes gaan nou deur Derick se kop.

Hy dink terug. Oor sy lewe. Oor hoe hy met mense omgaan. Sy werkswyses. Sy gejaag na roem en rykdom.

Hy dink aan hoe hy soms mense se waardigheid vertrap om sy doelwitte te bereik.

Miskien was dit ’n soort waarskuwing.

Hy kyk na sy vrou. Sy het ’n verdwaasde uitdrukking op haar gesig.

Sy verstaan nie hoekom hy so bedremmeld lyk nie.

“En nou, my man? Wat broei nou weer in daai kop van jou?”

Hy sê niks. Glimlag net.

Dan trek hy haar speels nader tot op die bed en soen haar liefderik op die voorkop.

Sy uitkyk op die lewe het nou heeltemal verander ...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters