9 maande gelede
Chad kies om op die pad na vrede te dans
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dié ene Dans vir Vrede. Salmon sê dit moet saam met sy bydrae op bl. 8 gelees word. Geniet dit!

‘EK ... EK’T djou gefail, my laitie … kug … E-ek’s sorry! Vir my is dit nou te l-laat... maar... maar djy kan nog dinge fix innie lewe.”

Dié laaste woorde van sy sterwende pa maal deur Chad Minnaar se kop terwyl hy terugdink aan daardie dag toe die bendes sy pa in hulle huis kom doodskiet het.

Lede van die Bloedspatterbende van Avonwood, Elsiesrivier, was daarvoor verantwoordelik.

Sommer net so, Boem! Boem! twee shots in die bors.

Sy pa was op sy beurt weer ’n lid van die Gruwelbende hier in Leonsdale.

Hy en sy pa was daardie noodlottige dag alleen tuis.

Hulle het nog in die voorhuis gesit, waar sy pa besig was om tik in pakkies op te maak om te verkoop. Toe storm die twee skollies daar in.

Hulle het nie nog gepraat nie. Een het net die vuurwapen uitgehaal en die sneller getrek, waarna hulle toe vinnig die hasepad gekies het.

En hulle was min gespin oor hom wat Chad is en wat daar eenkant met groot oë gesit het.

En dít alles oor drug turf.

“Gaan jy eet, Boeta?” onderbreek sy ma sy gedagtegang.

Hy kyk op van waar hy op sy bed sit.

“Nee, Ma, ek issie honger nie,” antwoord hy.

Cathy Minnaar kyk haar seun bekommerd aan.

“Jy eet deesdae baie sleg. Is daar problems, Boeta?”

Sy sien hoe hy vinnig die foto van sy pa terugplaas in die laai voor sy bed.

Haar hart vermurwe.

“Ek weet dit gaan nou wreed klink, Boeta, maar dis nou byna ’n jaar dat jou pa dood is.

“Dis tyd dat jy let go en aangaan met jou lewe.”

“Ma, dit gaan nie werklik oor my pa nie!” kap Chad terug.

“Hy was in elk geval nie vir my ’n voorbeeld nie. Nooit tyd vir my gehad nie.

“Hy was ’n lae klas gangster wat dwelms verkoop en lewens verwoes het. Hy’t eintlik maar verdien om te sterf.

“As dit nie vir Ma was wat my in die huis van die Here grootgemaak het nie, waar sou ek vandag gewees het?

“Ek sou nie vandag in matriek gewees het nie en tien teen een dieselfde pad as hy geloop het. Ma was my steunpilaar.”

Daar is ’n teer uitdrukking op Cathy se gesig terwyl sy haar seun aankyk.

“Ja, my kind, jou pa was nou wel ’n slegte voorbeeld, maar hy bly jou pa. Jy is sy seun en jy kan nog dinge fix waar hy verbrou het.”

“Dís juis waaraan ek nou dink, Mammie.

“Toe Pa sterf, toe sê hy presies dieselfde ding aan my. Maar hoe doen ek dit?

“Kyk waar woon ons. Geweld is besig om ons gemeenskappe oor te neem. Daar is nie meer vrede nie!”

Dit klink asof Chad se stem wil breek.

“Die dwelms is besig om ons jong laities te vernietig en gangsters oes onder hulle.

“Hoe gaan ek dit kan fix?

“Ek kan nie baklei teen ’n oormag bendes of dwelmsmokkelaars nie.”

Daar is ’n vreemde uitdrukking op Cathy se gesig toe sy haar seun aankyk.

“Boeta, my kind, jy kan tóg ’n bydrae lewer.”

Toe Chad dít hoor, verskyn daar ’n frons op sy gesig.

“Hoe, Mammie?”

“Jy is mos ’n danser wat al baie kompetisies gewen het.

“Wat’s daai tipe dans wat jy so kwaai doen? Daai een waarin jy nou die dag nog ’n trofee gewen het?”

“Krump, Mammie!” antwoord Chad.

“Ja, ditsem! Nou, kyk hoe sit die jong laities hier ledig op die winkelstoepe en op die straathoeke rond.

“Jy kan mos ’n dansklub hier in ons cul de sac begin.

“Kry daardie laities van die straathoeke en winkelstoepe af en leer hulle die moves. Hou kompetisies en deel trofeë uit.

“Ek ken iemand wat by Son werk en ’n artikel daaroor kan plaas sodat jy borgskappe kan kry.

“Dít sal die laities iets gee om na uit te sien, in plaas daarvan dat die gangsters hulle gebruik.”

Chad se gesig helder op.

“Jissou, Mammie, daai’s mos ’n kwaai gedagte!” gil hy dit uit.

DIS nou reeds drie maande later en Chad se dansklub, die Dans vir Vrede-Akademie, trek baie belangstelling. Die ledetal is al oor die sewentig.

Die plaaslike besighede skenk mildelik geld vir die spannetjie se dansuitrustings en -uitgawes.

Maar eendag, terwyl Chad met sy spannetjie in die cul de sac oefen, kom steek die duiwel uit …

Die duiwel verskyn in die vorm van die groot druglord en leier van die Gruwelbende – Boeta Ghoen.

Boeta Ghoen en drie van sy holborsels trek met skreeuende bande reg langs die dansende laities op.

“Ek sê, what kind hie’?!” vra hy en klim uit sy spoggerige kar.

Almal kyk met opgehoue asems na die groot druglord.

Boeta Ghoen stoot Chad voor die bors.

“Hey, djy, ek vra what kind hie’!”

“O-Ons is besig om te oe-oefen, Boeta Ghoen!” stotter Chad dit bangerig uit.

“Oefen?! Watte’ nwatas is dit dié?!” ontplof boeta Ghoen.

“Daa’s bietere dinge waa’voo’ ekke die laities ka’ gebruik!

“Djy moetie dit moeilik maak vi’ my hie’ nie, hoor djy my?!”

Hy klap Chad drie keer op die regterwang.

“Djy los die k*k waa’mee djy biesag is, of anne’s is djy sat!”

Boeta Ghoen en sy holborsels spring weer terug in sy kar en trek met skreeuende bande weg.

Maar die gangsters kom nie baie ver nie.

Toe hulle in Norwood Road uitry, kom ’n groot bus op spoed aan en tref hulle van die kant af.

Die slag laat die kar in ’n bol vuur opgaan en dit verlos die gemeenskap van Leonsdale van ’n nuttelose, lastige etter.

Chad se dans-akademie groei teen ’n snelle pas voort en hulle oefen in die gemeenskapsaal.

Aan die einde van die jaar kry Chad ’n medalje van die mayor van Kaapstad vir sy bydrae tot vrede en die opbou van die gemeenskap.

“My pa het gesterf omdat hy die verkeerde pad gekies het,” begin Chad sy toespraak.

“Die pad van bendes en dwelms is nie die uitweg nie. Dit lei tot die dood.

“Ons jong mense is die toekoms. En ons moet vandag begin werk aan ’n toekoms vol vrede en harmonie,” sluit hy af.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters