2 maande gelede
Cassandra is bly oor haar besluit een jaar gelede
 ~ 

HALLO, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dié ene “Een Woensdag in September”.

MET ’n koppie koffie in haar hand gaan Cassandra by die kombuistafel sit.

Die gordyn is oopgetrek en sy kyk by die venster uit.

Buite is dit lente, maar dit wil voorkom asof die winter nog hier iewers skuil.

Die hitte sal seker later dié maand sy verskyning maak.

Haar gedagtes loop wye draaie. Twaalf maande is verby. Tog voel dit nie so nie.

Sy kan amper nie glo die tyd het so vinnig verbygevlieg nie.

Dit voel soos gister en tog is dit al ’n jaar.

Sy wil so graag vergeet en net aanbeweeg, maar daardie Woensdag in September sal haar altyd bybly.

Sy draai haar kop weg van die venster en neem ’n slukkie van die koffie.

Die gebeure van daardie oggend speel weer in haar brein af.

Sy sien weer hoe John soos ’n brullende leeu op haar afstorm.

Hy het voor haar kom staan, sy wysvinger styf teen haar neus.

“As jy dit net waag om van die huis af weg te hardloop terwyl ek by die werk is, sal jy sien wat met jou gebeur!

“Ek sal jou soek totdat ek jou kry. En dan sal jy bitter spyt wees jy het nie na my geluister nie.”

Cassandra het geskrik. Kon John dan haar gedagtes lees? Hoe het hy geweet wat sy beplan?

Wat hy daar gesê het, was presies wat sy haar voorgeneem het om te doen. Sy wou haar klere pak en hom verlaat.

Sy het nie langer kans gesien om mishandel te word nie.

Sy was moeg daarvan John dat gemaak het asof sy ’n vloerlap is.

In die openbaar het hy voorgegee hulle is die gelukkigste paartjie op aarde en sy moes elke keer net saamspeel.

Sodra hulle alleen was, het hy sy ware kleure gewys.

Die koue kyk in sy oë het haar oortuig hy bedoel elke woord.

Hy sou nie skroom om haar te vermoor en dit te laat lyk asof iemand anders dit gedoen het nie.

As speurder het hy baie vyande gehad. Dit kon enige een van hulle gewees het. Hy is immers al met die dood gedreig.

Hoeveel bendeleiers en dwelmbase het hy al agter tralies laat beland?

Hy het vir sy werk gelewe. As hy eers ’n verdagte se spoor gevat het, het hy hom nie gelos voordat hy die antwoorde gekry het waarna hy op soek was nie.

Cassandra het nie die krag gehad om met haar man te stry nie.

Haar lyf was nog seer van die vorige aand se bakleiery. John het haar behoorlik gekarnuffel.

Hy het haar die lelikste woorde toegesnou terwyl hy haar met sy vuiste bygedam het.

Hoe meer sy gesmeek het hy moet ophou, hoe harder het hy haar geslaan.

Dit was asof die duiwel hom beveel het om dit te doen; asof hy alle selfbeheersing verloor het.

Wanneer het haar man dan in so ’n monster ontaard?

Hy was nooit so gewelddadig nie. Of het hy maar nog heeltyd ’n onsigbare masker gedra?

“Julle vroue is almal dieselfde!” het hy op haar gegil.

“Almal ’n klomp flerries! Lê heeldag op WhatsApp en Facebook op soek na ander mans!”

“Dis nie waar nie, John,” het sy teruggekap. “Ek sal nooit so iets doen nie. Ek –”

“Hou jou bek!” het hy haar beveel.

“Wat maak jou anders as ander vroue? Jy is net so ’n bedrieër.”

Wat was verkeerd met hom? Het hy sy werkstres saam huis toe gebring? Was dit nodig om dit op haar uit te haal?

So baie vrae hang steeds in die lug. John het skielik met alles fout gevind.

En waar het hy aan die goed gekom waarvan hy haar beskuldig het? Was daar dalk ’n ou liefde wat sy hart gebreek het?

Hy het nooit met haar oor sy verlede gepraat nie.

Sy was nog altyd getrou aan hom. Nog nooit was daar die hunkering na iemand anders nie.

Maar anders as ander mishandelde vroue wat niks aan die saak doen nie, het Cassandra die punt bereik waar sy net keelvol was.

Van die saggeaarde, liefdevolle man met wie sy sewe jaar gelede in die huwelik getree het, was daar geen teken nie.

Die man wat saans langs haar kom lê het, was soos ’n vreemdeling. Hy het haar gedwing om omgang met hom te hê, al was sy nie lus nie.

Hy het haar enige tyd deur die gesig geklap. Niks wat sy gedoen het, was in sy oë goed genoeg nie.

Lank voor die troue het John almal met sy sjarme om die bos gelei, haar ouers ingesluit. Nie eens haar ma, wat gewoonlik deur ’n mens kon kyk, het agterkom John Reënvogel is ’n vroueslaner nie.

Mense wonder nou nog hoekom sy nie kinders het nie, maar hulle weet nie van die twee miskrame nie.

John het haar gedwing om dit geheim te hou.

Dalk is dit beter so, want sy sou nie ’n kind in sulke omstandighede wou grootmaak nie.

“Sweer jy jy sal vanaand by die huis wees wanneer ek hier instap?” onthou sy John se woorde voordat hy by die deur uit is.

Sy het instemmend geknik, maar ook dít was nie goed genoeg nie.

“Ek kan nie hoor wat jy sê nie!”

“Ek sweer ek sal hier wees.” Of hy haar geglo het, weet sy nie.

Wees net versigtig, het ’n stemmetjie in haar binneste gefluister.

Jy weet nie of hy iemand kan aanstel om jou dop te hou nie.

CASSANDRA staar voor haar uit. Sy wens geen vrou die hel toe waardeur sy is nie.

Dit was normaal vir John om haar te verneder. Hy het niks verkeerds in sy optrede gesien nie.

Hoeveel aande het hy sy bord kos gevat en teen die muur gegooi? Kwansuis omdat dit te waterig was of te min sout ingehad het.

Dan moes sy maar opstaan en sy gemors skoonmaak.

Cassandra gaan sit die leë koppie in die wasbak. Sy kyk op haar horlosie.

Die eiendomsagent sal nou enige oomblik hier wees.

Sy het besluit om die huis te verkoop, want hier is meer slegte as goeie herinneringe.

Gelukkig is John Reënvogel nie meer deel van haar bestaan nie.

Daardie Woensdag in September, presies ’n jaar gelede, was die heel laaste keer dat hy met haar geraas het.

Hy was skaars by die hek uit, toe jaag ’n huurmoordenaar vier skote deur sy kop.

Dis net uit respek vir sy familie dat sy die begrafnis bygewoon het.

John het haar hard gemaak.

In haar binneste is sy bly sy is ontslae van hom. Sy soek nooit weer ’n man in haar lewe nie.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters