5 maande gelede
Carlien maak ’n skokkende ontdekking
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede deel van SALMON SMITH se kortverhaal wat hy ’n Spookstorie noem. Verlede week het ons gelees hoe Carlien Hermanus in haar pandjieswinkel deur ’n swart hond vasgekeer word. Sy het eers gedink die gedierte is vriendelik, maar toe sy hom wou vryf, het haar hand sommer deur sy kop beweeg asof daar niks is nie. Sy besef toe dis ’n spookhond. Die fone wil nie werk nie. Tot haar verligting kom Johnny Mol, die dorp se dronk boemelaar, daar aan. Hy vloek en skop na die hond. Lees nou verder wat volgende gebeur...

DRONK Johnny Mol se voet gly dwarsdeur die hond en tref die glasdeur agter hom met ’n helse hou.

Met ’n frons op sy verrinneweerde gesig staar hy na die hond.

Johnny se drankbenewelde brein probeer dít wat so pas gebeur het, nou verwerk.

Versigtig steek hy sy hand na die hond uit.

Johnny wil net seker maak dat sy brein nie vanoggend met hom parte speel nie.

Sy hand beweeg deur die hond en hy voel die koue vloer onder hom.

Dis tóé dat Johnny besef waarmee hy hiér te doen het

“O, jarra, my dooie maaaa!” gil hy.

Hy steier agteruit en tuimel gat­oorkop van die trappe af.

Johnny het skaars grond gevat, of hy is op en dis die vinnigste wat Carlien iemand al ooit sien hardloop het.

Geskok staar sy na Johnny, wat nou sonder sy trollie al gillend die hasepad kies.

Sy loer terug na die vreemde hond en sy sien hoe hy weer opgestaan het.

Nou kyk hy haar stip aan en daar is ’n uitdrukking in sy donker oë wat sy eenvoudig nie kan peil nie. Vir ’n hele rukkie kyk hy net so na haar.

Later kan sy dit nie meer hou nie en gil: “Wat soek jy van my?! Loop terug hel toe!”

Die hond begin skielik blaf. Dit klink soos donderweer wat deur die dorpie weergalm.

Hy draai skielik om en hardloop teen die trappies af. Onder draai hy terug en blaf weer in haar rigting.

Carlien sit vasgenael agter haar toonbank en staar verbaas na die vreemde hond.

Die hond kom weer tot voor die deur en gee weer twee harde blawwe.

Dan draai hy stomp om en hardloop weer straat se kant toe.

Dáár kyk hy Carlien in afwagting aan.

Toe tref dit Carlien...

Die hond wil hê dat sy hom moet volg.

Met haar hart wat hoog in haar keel klop, kom sy stadig om die toonbank gestap.

Die hond waai sy stert weer vriendelik.

Miskien is die hond werklik nie ’n gevaar vir haar nie, dink Carlien.

Half teësinnig besluit sy om hom tog maar te volg.

Sy kom stadig teen die trappies afgestap, toe die hond weer omdraai en koers kies na die Black Wattle-bos daar naby. Sy drafstap agterna.

Hoe nader hulle aan die bos beweeg, hoe meer slaan die hoendervleis op Carlien se arms uit.

Waarheen lei die vreemde hond haar dan nou?

Hy hardloop nou dieper die bos in.

Carlien wil omdraai en teruggaan, maar dis amper asof sy nie beheer oor haar bene het nie.

’n Onsigbare mag dryf haar al agter die spookhond aan.

Die hond moes ’n towerspel oor haar geplaas het.

’n Ligte windjie begin deur die fyn blare van die bome waai. Dit klink soos iemand wat treur.

Carlien is te bang om op te kyk. In haar verbeelding sien sy hoe die takke haar van bo gryp.

Die hond hardloop ál vinniger tussen die bome deur en sy versnel haar pas om by te hou.

Carlien se bors brand en haar bene voel later soos jellie.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, kom die hond voor ’n groot braambos tot stilstand.

Sy is uitasem toe sy haar by hom aansluit. Versigtig stap sy nader.

“Wat is dit?” hyg sy dit skaars hoorbaar uit.

Carlien kan duidelik haar hartklop in haar ore hoor. Sy besef dat sy nie meer bang is nie.

Die hond gee nou sulke fyn tjankgeluidjies en trek sy ore plat terwyl hy na die bos kyk.

Hy kyk terug na haar en dié keer is daar so ’n droewige uitdrukking in sy donker oë.

Carlien besef dat die hond haar iets wil wys. Sy kyk na die plek waarna die hond staar.

Sy stap nader aan die bos en maak die digte takke oop. Die fyn dorinkies krap haar hande.

Carlien sien ’n rooi hemp daar binne onder die grond uitsteek. Sy sak op haar knieë neer en kruip dieper die bos in.

Daar steek ook ’n verweerde bruin broek uit.

Sy trek aan die hemp.

Dis toe Carlien ’n ontdekking maak en ’n yskoue rilling teen haar rug afgly …

Sy snak na haar asem en haar oë rek pieringgroot in hul kaste van skok toe die bleekwit kopbeen vir haar “glimlag”.

Voor haar lê die oorblyfsels van ’n lyk!

“O, liewe hemel!” weergalm Carlien se kreet deur die bos.

Sy kruip agteruit uit die struik. Sy sukkel regop en struikel terselfdertyd oor iets agter haar.

Sy kom op haar sitvlak te lande en vlieg terselfdertyd op.

Sy kyk na die ding wat haar laat val het.

Dit is nóg ’n geraamte, nie ver van die mens s’n nie. Dié een is die oorblyfsels van ’n dier. Moontlik dié van ’n hond.

Carlien besef dat daar ’n konneksie tussen die twee moet wees.

Die persoon moes die hond se eienaar gewees het en hier in die afgeleë deel van die bos weens siekte of iets gesterf het.

Die arme dier moes toe oor sy lyk gewaak het en sodoende homself doodgetreur het.

Lank staar sy na die braambos met sy grieselrige inhoud.

Dís toe sy onthou van die ou kluisenaar wat destyds in ’n verwaarloosde huisie hier op die rand van die bos gebly het.

Hy het presies ’n jaar gelede, op ’n stormagtige nag, soos gisteraand, sommerso onverklaarbaar verdwyn.

Niemand weet presies wat van hom geword het nie. Daar is net bespiegel dat hy dalk die pad gevat het.

Hy het hoeka altyd so ’n verslete, rooi hemp gedra en daar was altyd so ’n massiewe, pikswart hond saam met hom, onthou Carlien.

Dís toe nóg iets Carlien byval – die spookhond!

Sy kyk in die rondte, maar van die spookhond is daar nou geen teken nie. Dis asof daar ’n lig vir Carlien opgaan.

Die hond se spook het haar na sy eienaar se liggaam gebring om die tergende raaisel van die vermiste kluisenaar op te los.

Carlien spring om en hardloop soos die wind na die polisiestasie in die middel van die dorp.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters