Verlede maand
Baasspeurder met slim plan pak inbrekers
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons weer ’n kortverhaal uit die pen van KEITH MEYER. Hy noem dié storie Sosiale Media Maak Dood. Dit gaan oor mense wat graag dinge op Facebook deel wanneer hulle vir ’n rukkie weggaan, maar op wie agterna ’n nare verrassing wag. Lekker lees!

‘LEKKER wegbreek hierdie naweek vir die Vi­sagie-gesin.”

So lui die Facebook-status van Vivian Visagie net voor die langnaweek.

Inderdaad ook so, want daardie Vrydagmiddag word die SUV gepak en die reis op die pragtige Tuinroete na Mosselbaai word aangepak.

Vivian het Kelvin Meintjies, sy buurman, gevra: “Hou asseblief net ’n ogie, want die mense is deesdae maar lief vir inbreek.

“En ’n mens wil nie terugkom na ’n huis wat gestroop is nie.”

Kelvin belowe sy buurman van meer as 15 jaar hy sal so maak.

Vivian kry soveel likes van sy Facebook-vriende en almal sien hoe gewild hy is.

Maar Vivian hou nie rekening met wie almal sy Facebook-tjommies is nie.

Almal wil mos brag oor hoeveel vrinne hulle op Facebook het.

En tussen hulle is die kreatiewe skurke wat net sit en beplan hoe hulle op innocent, fun-loving Facebook addicts gaan toeslaan.

Daardie eerste nag van die wegbreek word die Visagie-gesin geruk.

Die safety gate is met ’n crowbar oopgebreek.

Juwele en electrical appliances is per bakkie weggery.

Die next oggend ontdek Kelvin die inbraak.

Die cops word laat weet en ook die Visagies, wat dadelik hul week­end breakaway kortknip.

Speurders fynkam die plek vir leidrade, maar dis duidelik hulle het nie met paloekas te doen nie – die inbraak is meesterlik uitgevoer. Min tot geen leidrade om op te volg nie.

’n Maand later verander die newlyweds Celeste en John hul status op Facebook na: “Vanaand vier ons ons eerste maand as newlyweds met ’n Night in the Palace – die duurste hotel in Plettenbergbaai”.

Daardie selfde nag sak die roofvoëls toe op hul joint.

Selfs van die wedding prezzies wat nog nie eens uit die bokse gehaal is nie, word gesteel.

Dít is die ontdekking wat Celeste en John maak toe hulle terugkeer.

’n Week later post Lee-Ann He­fer, ’n single lady, dat sy vir die week by haar ouers in Albertinia gaan kuier. En nogal ’n pic met tasse in haar hand voor die lang spieël in haar kamer.

En op haar pics op Facebook kan gesien word hoe smart haar huis ge-decorate is, met die jongste techno gadgets.

Sy is skaars twee aande in Albertinia of sy ontvang ’n call van die SAPS, wat haar inlig haar huis is feitlik leeggedra.

Nou is die speurders raadop en selfs die buurtwag wat elke aand patrolleer, weet nie meer waar om te keer nie, want die diewe slaan dan so akkuraat toe.

Net by huise waar niemand is nie.

Dan word die hulp van baasspeurder kapt. Connor September ingeroep.

Hy is self ’n ghoeroe op die gebied van tegnologie.

Daarom span hy juis tegnologie in om sy ondersoek te begin.

Een ding het hulle gemeen – almal het ’n Facebook-inskrywing van hul doen en late. Van wanneer hulle hul huise gaan verlaat en wanneer hulle sou terugkeer.

Maar dis allermins genoeg om die wake-up diewe aan te keer.

“Hoe nou gemaak?” krap kapt. September kop.

Al wat hy weet, is Facebook speel ’n definitiewe rol in die inbrake.

Nou moet hy ál die slagoffers se Facebook friend lists scan.

Dis nogal ’n heavy taak omdat almal so baie vrinne het.

Dan sif hy die friend lists totdat hy by die mutual friends uitkom en hulle saam op een lys sit.

“Niemand lyk verdag in die gesamentlike vriendelys nie,” dink die skerp speurder.

Hy kan hulle ook nie randomly gaan ondervra nie.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd sukkel hierdie hardebaard speurder.

Hy rook die een sigaret ná die ander. Hy drink koppie koffie op koppie koffie.

Sy tyd loop uit, want intussen word nóg inbrake gepleeg.

Die community noem dit al die “Facebook-diewe”.

Dan besluit kapt. September om ’n fake Facebook-inskrywing te maak.

Hy vra die eienaar van die dorp se grootste supermark om ’n “Ons is weg vir die week”-status op te sit. En daarby ’n nice pic van die weelde in die huis van mnr. Johannsen.

Nou is dit net om die setup reg te kry om die lokval vir die Facebook-diewe te stel.

Maklik gaan dit nie wees nie. Hulle is te skerp.

Maar die mutual friends van Johannsen is ook mutual friends van die ander slagoffers en dit laat hom moed skep.

Daardie nag word die huis van Johannsen skelmpies bewaak sodat die diewe nie agterkom die cops het ’n lokval gestel nie.

Dit raak middernag. Dit raak tweeuur. Die oggend teen dagbreek pak hulle op, want die diewe het hulle gefnuik.

Nou krap kapt. September van voor af kop, want hoe op die bleddie aarde het die jongens geweet om nie toe te slaan nie?

Die aas was dan so aanloklik. Selfs die kluis waar die Johann­sens hul winkel se geld stoor voordat hulle dit gaan bank, was duidelik sigbaar op die pic.

Nou moet kapt. September en sy span van voor af begin. Hy besef iewers is daar ’n heavy skroef los.

Dit is nie aldag dat ’n dief hom vir ’n ride vat nie.

Weer study hy die friend lists van die betrokkenes by die verskillende inbrake. Dan tref een van die friends se naam sy oog.

Maar hy deel nie sy vermoede met die res van sy span nie.

Al wat hy laat val, is dat hy na aan ’n deurbraak is in die saak oor die Facebook-diewe.

Nou moet ’n nuwe lokval gestel word.

“Manne, ek het gisteraand ’n arrestasie gemaak. Maar ek gaan nou niks sê nie. Gee eers kans,” deel hy sy manne mee.

Dan vra hy vir konst. Groenewald om solank die docket op te stel van die ou wat in hegtenis geneem is.

Kapt. September ry toe met sy Nissan-speurkarretjie na ’n huis.

In die huis word baie van die gesteelde goedere gekry. Hy jaag terug.

“Konstabel Groenewald, jy is die mutual vriend wat op alle inbraakslagoffers se friend lists is.

“Daardie aand by Johannsen se huis toe niemand ingebreek het nie, het ek vermoed iemand in my span is ’n verdagte.

“Ek arresteer jou as leier van die Facebook-diewe vir huisbraak en diefstal,” sê September en boei die verbaasde jong konstabel.

¦ Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? Stuur ’n SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters