3 maande gelede
Theo likes daarvan om sy eie ding te doen
THEO WATT  ~ 

DAAR is lewe ná The Rockets!

So bewys Theo Watt hom aan sy duisende fans met sy energieke shows nadat hy einde Maart dié bekende disco band verlaat het om hom op sy solo career toe te spits.

“Ek het aanbeweeg,” vertel Theo aan Son op Sondag in sy studio in Edgemead.

“Nou, vandat ek solo is, kan ek myself uitleef in my career en dinge doen wat in my hart lê.

“Ek is wel weg van The Rockets af, maar ek doen steeds dieselfde ding.

“Baie van die fans het gehuil en was hartseer toe ek die band los, maar ek wil hulle net gerus stel: My konsep bly dieselfde, en dít is om mense te entertain.

“Ek het ’n baie groot fan base deur die jare opgebou. Ek het baie geleer en ondervinding opgedoen met artists soos Ricardo, Marlon Roach en Wilfey.

“Ek het basically voor die fans grootgeraak. Ek wil net vir hulle dankie sê vir hulle ondersteuning en liefde deur die jare.

“Dankie dat julle my nooit verlaat het nie. Ek belowe vir julle groot verrassings in my shows.”

Theo is besig om te werk aan sy debuut-CD as solo artist. Hy beoog om dit in Oktober uit te reik. Die CD het nog nie ’n titel nie, maar daar sal omtrent 12 songs daarop wees.

Die bekende Molly Baron is ook betrokke by die vervaardiging van die CD.

Theo sê: “Met dié CD wil ek myself introduce as: Theo Watt, solo-sanger, en hiér is my produk.

“Die meeste van die goed waaroor ek skryf, gaan oor die waarheid – alledaagse dinge waardeur ons gaan.

“Van die songs daarop is van my oorspronklike songs soos ‘Trane van die Kaap’, ‘Namakwa Daisy’, ‘Pappa’ en ‘Aggeneys’.

“ ‘Trane van die Kaap’ gaan oor ouers in ons gemeenskappe wat huil oor hulle kinders wat so betrokke is by die verkeerde dinge in die lewe.

“Ek kom uit daardie gemeenskappe. Ek het al baie dinge in my lewe gesien, maar dit het my nie aangetas nie.

“Ek het eerder my talent gebruik om daaruit te ontsnap.

“My droom is dat mense my musiek moet geniet by die huis, op paarties en by my shows. Ek wil positiewe boodskappe bring deur my musiek.

“Ek sal dit ook like om ’n duet te doen met Salome en Queen Lizzy B.”

Theo het nou sy eie band, Gemini, wat bestaan uit vyf ouens. Hulle is almal Paarliete. Hulle sal hom begelei op sy live shows.

Benewens Theo is Gemini Shaun Swarts op kitaar, Lingo Black op keyboards, Marshall Hartogh op percussions, Willesski Carolissen op baskitaar en Clint Fortuin op keyboards.

Op 13 September sal Theo vir Gemini aan die wêreld bekend stel in Club 7764 in die Kismet Plaza-gebou in Athlone. Toegang kos jou R50. Bel 081 049 5761 vooraf om te bespreek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters