26 dae gelede
Taxi-antie wil kids lift gee
ry saam: Leatitia Solomons wil 13 leerders aan die hand vat en hulle ’n hupstoot in die lewe gee.foto verskaf  ~ 

LEATITIA Solomons van die bekende program Leatitia se Taxi vra jou bystand.

Leatitia is ’n aktrise van Cloetesville en die enigste vroulike taxi­bestuurder van die Stellenbosse Taxivereniging.

In dié tweede reeks van Leatitia se Taxi word die talente van 13 jong passasiers wat gereeld saam met Leatitia ry, geïdentifiseer.

Leatitia kies dan vir elkeen ’n mentor wat hulle by die skool verras en bystaan met raad en daad.

Mentors sluit onder andere in Sizwe Ndlovu, kanowedvaarder en gouemedaljewenner by 2011 se Olimpiese Spele, Rozanne McKenzie, bekende omroeper vir Jakaranda FM, Juline van der Merwe, Protea-netbalspeler, en June van Merch, geliefde aktrise van onder meer Sara se Geheim.

Leatitia se reeks is meer as net ’n program: Sy en die vervaardigers het besluit om uit te reik en die kinders te probeer bystaan. Hulle wil ’n daadwerklike verskil in die kids se lewe maak.

Die Leatitia se Taxi-span het daarom besluit om ’n veldtog te voer wat kykers aanmoedig om ’n bydrae te maak wat die omstandighede van elkeen van die kids in die reeks kan verbeter.

Waardeer

Ná elke episode word daar meer inligting gegee oor hoe kykers hulp kan verleen.

Leatitia sê ondersteuning deur die media, private sektor en die kykers sal baie waardeer word.

“Daar is soveel mense in my lewe wat as mentors ’n groot verskil gemaak het en bygedra het tot wie ek vandag is,” sê sy.

“Daarom is dit vir my belangrik om ’n verskil te maak in die lewe van die kids in my taxi.

“Dis nie net ’n voorreg nie, dit is ’n noodsaaklikheid.”

  • Leatitia se Taxi is Donderdae 21:00 op Via (DStv-kanaal 147).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters