Verlede maand
Skrywer Pietersen het ’n visie
man wat kan: Charley Pietersen wil ’n rolmodel wees vir seuns wat ook sonder hulle pa grootword. Foto: GREGORY NOBLE  ~ 

OM SONDER ’n pa groot te word, was nie maklik nie.

So vertel die skrywer Charley Pietersen oor die leemte binne hom wat hom aangespoor het om sy boek Grootword Sonder ’n Pa te skryf.

“Seuns het ’n behoefte na en het die leiding nodig van ’n vaderfiguur,” vertel hy.

“As kind was die uitdagings baie en ek het altyd gewonder waar my pa is. My siel het nie gerus tot die dag dat ek hom gaan opsoek het nie.”

Pietersen se ma het hom ingelig sy pa is in die omgewing van Bethulie in die Vrystaat.

“Toe ek 21 word, het ek ál my moed bymekaargekry en my pa gaan soek,” gaan hy voort.

Verskoning

“Dit was my viering op my 21ste verjaardag. Dit het berusting gebring en ek kon aanbeweeg met my lewe.

“Toe ons daar kom, het my pa my nie eens herken nie en hy was baie sieklik.

“Ek het hom reguit gevra hoekom hy ons gelos het. Sy antwoord was sy ooms het hom altyd geboelie.

“Wat ’n flou verskoning en vir my was dit nie goed genoeg nie.

“Ek het hom ook gevra wanneer hy eendag tot sterwe kom, wie hy dink hom gaan begrawe.”

Pietersen sê hy het sy pa vergewe, want dit is wat God van hom verlang.

“Ek is vandag self ’n pa en dit is die begeerte van my hart om families te help en leiding in huishoudings te gee waar daar nie ’n vader­figuur is nie,” sluit hy af.

Pietersen se boek is tans op die rakke in boekwinkels. Lesers kan hom ook in verband hiermee kontak. Bel hom gerus by 083 388 7977.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters