Verlede maand
RiRi sê Trump se kop raas
Praat reguit: Rihanna sê sy dink pres. Donald Trump van Amerika is nie lekker in sy kop nie. Foto:Harper’sBazaar  ~ 

RIRI het niks tyd saamgebring vir die Orange One nie.

Rihanna het nie doekies omgedraai in ’n onderhoud met die tydskrif Vogue nie.

Die bekroonde sangeres het sommer reguit gesê sy dink pres. Donald Trump van Amerika is nie lekker in sy kop nie.

Sy meen Trump se idees oor vuurwapenregte, immigrasie en rassisme is bisar.

In die onderhoud sê RiRi Trump is die geestelik mees versteurde mens in Amerika.

Sesde

The Juice berig sy verskyn in die November-uitgawe van Vogue­ waar sy ’n pragtige goudkleurige Fenty-baadjie van tulle dra.

Dit is die superster se sesde voorblad vir Vogue.

Dit maak haar die swart vrou met die meeste solo covers vir die Amerikaanse uitgawe van die bekend modetydskrif.

Vogue het die “Man Down”-sangeres gevra oor die skietery op 3 en 4 Augustus in die Amerikaanse stede El Paso en Dayton, waarin altesaam 32 mense dood is.

RiRi het gesê gun violence in Amerika is verpletterend.

Klap

“Mense word vermoor met oorlogswapens wat hulle wettig koop.

“Hierdie is net nie normaal nie. Dit moet nooit ooit normaal wees nie.

“En die feit dat dit as iets anders geklassifiseer word bloot oor hulle velkleur? Dis ’n klap in die gesig. Dis rassisties!”

En toe kap RiRi na die Orange One.

“Sit nou net ’n Arabier met dieselfde vuurwapen in dieselfde winkel en daar is geen manier dat Trump dit as ’n mental health-kwessie gaan afmaak nie.

“Die geestelik mees versteurde persoon in Amerika op die oomblik is die president.”

RiRi het nie gekom om grappe te maak nie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters