4 maande gelede
Queen vannie elsies droom groot
kunstenaar: Queen Lizzy B is reg om ’n verskil in haar gemeenskap te maak. Foto: salmon smith  ~ 

QUEEN Lizzy B wil deur haar musiek veranderinge meebring in die gemeenskappe op die Kaapse Vlakte wat deur gangsterism en dwelms geteister word.

Die 20-jarige musikant, wie se regte naam Elizabeth-Anne Uys is, het al op hoërskool lewe in haar droom begin blaas.

Sy was in 2016 ’n matrikulant aan die Hoërskool St. Andrew in Elsiesrivier.

In daardie jaar het sy dit reggekry om twee jong mense se lewe te verander. Hulle was volgens haar die leiers van ’n groepie gangstertjies in die skool.

“Ek en die twee gangster-leiers was saam in een klas,” vertel sy.

“Hulle was nie onbeskof met my nie en het baie hulle hart teenoor my oopgemaak.

“Ek het hulle gevra of ek vir hulle ’n song kan skryf. Ek het toe die song ‘Ghetto’ geskryf, waarop hulle gerap en ek gesing het. Die song het nog op Bush Radio gespeel.

“Die song het hulle so geraak dat hulle die bendelewe gelos en saam met my matriek klaargemaak het.”

Queen Lizzy B se gesig versomber toe sy hartseer verder vertel: “On­gelukkig het hulle verlede hulle ingehaal. Hulle is albei in 2018 doodgeskiet.”

Opgetree

Queen Lizzy B is in Elsiesrivier gebore. Sy het in Matroosfontein grootgeword. Sy kom uit ’n musikale familie – omtrent almal is sangers en musikante.

Lizzy sing al vandat sy vier jaar oud is. Toe sy ses was, het sy tweede gekom in ’n sangkompetisie by Matroos­fontein Primêr.

In St. Andrew’s was sy lid van die “Glee Club”. Dié groep het bestaan uit sangers, dansers en rappers. Hulle het baie by skoolfunksies, festivals en basaars opgetree.

Dit is juis in die skool dat sy die bynaam “Lizzy B” gekry het. Sy het self “Queen” bygelas.

“In 2017 het ek by Monray Lopes se 7493 Entertainment Movement in Ravensmead aangesluit.

“Ná twee jaar toe sluit ek aan by die komediant Ashley Pienaar se produksies. Dit het ’n groot impak op my loopbaan gehad.

“Ek het die stage gedeel met groot artists soos Loukmaan Adams, Vicky Sampson, Don Vino Prins en Afrikaans Ruk.”

Queen Lizzy B skryf haar eie songs en doen ’n variety van genres soos R&B, soul en rap.

Eintlik sing sy enige tipe song waarvoor sy gevra word. Sy doen selfs covers van Adele, John Legend en Amy Winehouse se musiek.

Sy is tans lid van die SA Entertainment Group en het al die singles “Broken Vowels”, “Fly Away” en “Love for a Lifetime” uitgereik. Haar song “My Body” is op die compilation CD Entertaining the Mass­es Vol. 1.

“My droom is om musiek te studeer – die vervaardiging daarvan en artist man­agement – en ek wil graag op internasionale verhoë verskyn.

“Ek voel ongelukkig oor die huidige situasie in ons gemeenskappe, want baie van my skoolvriende is al geskiet. Baie doen drugs en mishandel hulle ouers. Maar ek glo daar is hoop vir ons jong mense.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters