16 dae gelede
Ou hand speel game nog goed
NOG VUURWARM: Akeem Gambeno werk ook aan sy solo EP. Hy wil dit later dié maand bekend stel.Foto: SALMON SMITH  ~ 

AS DIE naam Akeem Gambeno nie ’n klokkie laat lui nie, dink net aan die hit song van die 2000’s “We Going Up and Down”.

Dié artist is lid van die tweemangroep Da Ballies. Met daai song het hulle die jol destyds sommer behoorlik laat ruk.

Akeem (54) het sy stempel behoorlik op die Suid-Afrikaanse musiekwêreld afgedruk.

Hy sing ook deesdae solo onder die stage-naam “Uncle Kim”.

Voor Da Ballies het sy musiekloopbaan eers ’n paar wye draaie gegooi.

Akeem is in die Bo-Kaap gebore en het in Heideveld grootgeraak.

Sy pa, Anwar Gambeno, was in die 70’s hier by die Klopse betrokke.

Hy het ook sy eie disco band gehad: Debonair’s Entertainers.

Een aand terwyl dié band besig was om daar in hulle agterplaas te oefen, het Akeem vanuit die badkamer saamgesing. Sy pa was baie beïndruk met sy stem en het hom toe as vocalist ingespan.

Hy was toe net 13 jaar oud.

Akeem het covers van Jonathan Butler en Richard Jon Smith se songs gesing.

Van tóé af was daar geen keer aan dié talentvolle sanger nie.

Hy vertel: “Ná skool, in 1983, ontmoet ek vir Karriem Darries, ’n drummer.

“Hy nooi my toe om hulle band, Hot Properties, te join. Ons het in vele Kaapse nagklubs gespeel.

“In 1985 gaan ek vir vakansie Durban toe. Ek besoek toe ’n nagklub en daar speel toe ’n Kaapse band genaamd TS-Choice. Die lede herken my toe en vra my om saam met hulle te sing.”

Draaie

Daarna het Akeem vele ander bands gejoin, onder meer Hot Gossip en Fun Time.

Met Fun Time het hy na Johannesburg en Swaziland getoer. Hy het ook op die platteland ’n paar draaie gemaak.

Toe Fun Time in 1990 opbreek, het Akeem ’n band genaamd Swank gestig.

Hulle het Johannesburg vol getoer.

In die mid 90’s join hy die band Utopia en speel drie jaar in die nagklubs in Durban.

“Ek begin toe musiek programmeer. Toe Utopia opbreek, stig ek wéér die band Swank en sluit aan by CSR Record Company in Johannesburg.

“Dié company het vir Dr. Victor & The Rasta Rebels en PJ Powers gemanage. Swank toer toe kort daarna saam met Claire Johnston in Zimbabwe.

Lirieke

“In die middel 2000’s ontmoet ek toe weer my kindervriend Wilfred Aploon daar in Durban en ons stig Da Ballies. Ons besluit toe om die song ‘Up and Down’ te skryf.

“Eers bied Wilfred my net die chorus aan, maar ek besluit om meer lirieke by te skryf om dit ’n volle song te maak.

“Ons gaan toe na Garth Taylor se studio daar in Durban en record ’n EP (extended play) met ses songs daarop, onder meer ‘Up and Down’.

“ ‘Up and Down’ is nou nog so groot. Baie bands hier in die Kaap speel daardie song. Ek’t selfs gehoor dit speel in klubs in Mexiko, Australië en die UK.”

Tans vervaardig Akeem songs en mentor up-and-coming artists.

Hy werk ook aan sy solo EP, wat hy later in die maand wil bekend stel.

  • As jy nog wil weet, kontak Akeem gerus by 065 255 6699.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters