19 dae gelede
Nuwe show wys meer as net rugby in Japan
Rugby fêns: Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels se show In Japan, Ja! is binnekort op die kassie. Foto verskaf  ~ 

WIL julle sien wat alles in Japan aangaan tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi?

Dit begin op 20 September en daar wag veel meer opwinding op kykers as net die rugby.

Die DStv-kanaal kykNET stuur ’n span saam Japan toe om vir kykers ’n blik van die opwinding in dié land tydens die toernooi te gee.

In die program In Japan, Ja! gaan die twee aanbieders, Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels, die Bokke volg in hulle soektog na ’n derde Wêreldbeker-titel.

Vir tien weke gaan dié twee saam in Japan kuier, van die land se gewildste toeristebestemmings besoek en die gees van die toernooi beleef.

Vanes-Mari, ’n voormalige Protea-netbalspeler, verduidelik: “Dis ’n lekker kombinasie van komedie, leefstyl en reis.

“Boonop kry kykers die geleentheid om saam met ons die Bokke beter te leer ken op hulle missie om die Wêreldbeker te wen.”

Hamilton, of soos sy vriende hom noem “Hammie”, is die sanger Robbie Wessels se broer.

Ninja

“Ek is uit my vel van opgewondenheid en gaan seker maak die Bokke bring daai beker huis toe, al moet ek self tokse aantrek en opdraf.

“Japan, ek hoop julle is gereed vir die ou met die snor.”

Hamilton is opgewonde om Japanse wasabi te proe en ’n regte ninja te ontmoet.

In Japan, Ja! bestaan uit 10 episodes en word van 14 September Saterdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Groot pret wag op dié twee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters