3 maande gelede
Marc gereed vir 1ste konsert
Marc se eerste gospelvertoning gaan vir seker ruk. FOTO VERSKAF  ~ 

DIE gewilde grapjas Marc Kali wil mense net laat goed voel.

Die 37-jarige Marc van Atlantis is baie opgewonde oor sy eerste konsert in sy tuisdorp.

Hy vertel dit was nie altyd maanskyn en rose nie, want hy het destyds baie mense seergemaak en beroof.

“Die dwelms het amper my lewe verwoes, maar toe ek die Here in my lewe aangeneem het, het my lewe verander op Golgota.”

Marc kan onthou hy was een aand dikgerook by ’n kerkdiens.

“Ek het só bang geraak in die diens dat ek uit die kerk gehardloop het.

“Ek het gewag vir ’n vriend sodat ons ’n pyp kan gaan rook, maar toe daag hy nie op nie en ek was kwaad.”

Marc is toe terug kerk toe, maar dié keer is hy bekeer en sy lewe was nooit weer dieselfde nie.

Vandag is Marc gelukkig getroud. Hy en sy vrou het drie pragtige kinders.

Marc was nooit in rehab nie en volgens hom het die krag van die Here hom verlos.

Hy bedank sy leraar en Sally Davids van die Huis van Davids, waar hy aanbid en kerk gaan.

“Dit was eintlik die grapjas Quinton Manuel wat my geforseer het om my grappies op die verhoog te vertel.

“Ek is baie opgewonde oor my eerste konsert in Atlantis en wil graag ’n jong man help om sy eerste klavier te koop.”

Die konsert vind op 30 September plaas by die Jireh Outreach Ministries, natuurlik in Atlantis! Dit begin reeds 19:00 en toegang is R70 per persoon.

Die kunstenaars wat sal optree, is Anastacia Titus, Joshua Generation, Larry George, Talitha en Lorenzo Davids. Bel 071 965 7627 of 083 728 0597 vir info.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters