23 dae gelede
‘Lelieveld’ sal vir lekker lag sorg
Nog vet pret: Huis Lelieveld begin Woensdag.  ~ Foto Verskaf

NEE kyk, hierdie sitkom gaan jou laat skaterlag!

In Huis Lelieveld is die sterre van Molly & Wors en Ouboet & Wors terug, maar in ’n nuwe gedaante.

In die laaste episode van Ouboet & Wors is Molly (Lizz Meiring) mos ingelig haar baas, die tandarts dr. Proctor, emigreer en sy is werkloos. Só beland die tandarts-assistent dan by die aftreeoord Huis Lelieveld as die matrone.

Hierdie nuwe sitkom kom ook uit die pen van Willie Esterhuizen, wat Molly se man, Wors, speel. Wors loer gereeld in om te hoor hoe dit met sy dierbare vrou gaan en wie haar lewe moeilik maak.

Kykers kan ook na ou favourites én nuwe gesigte uitsien. Gielie (Wynand van Vollenstee), Wors se DIY guy en drywer in Ouboet & Wors, werk by die aftree-oord.

Reginald Hufkie speel Spanner Proes, die handyman, en Lara Lourens is Koekie de Kok, assistent en paaldanseres.

Skinder

’n Ander treat is die terugkeer van Hélène Truter as tannie Poppie van Vetkoekpaleis-faam. Dié is ’n inwoner van Huis Lelieveld.

Hélène sê: “Poppie weet álles. En sy deel dit direk met die kyker.

“Eintlik skinder sy net. Skaamteloos. Ek’s mal oor haar, want sy’s nie bang om haar opinie te lug nie.”

Die inwoners van Huis Lelieveld sluit in Fleur Pot (Elma Potgieter), Gielie se ma, Martha Goosen (Karin van der Laag), Blaartjie Louw (Yvonne Schoeman) en Brand Louw (Cobus Visser).

Matt Stern, wat destyds die baddie Kurt in 7de Laan gespeel het, is Dou Droel, ’n dominee met voete van klei.

Dit word Woensdae 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters