20 dae gelede
Kom kuier saam met Doep by dié konsert
lekker jol: Durane “Doep” Plaatjies wil terugploeg in sy gemeenskap. FOTO VERSKAF  ~ 

DAAR gaan behoorlik gejol word by hierdie Kaapse konsert.

Só vertel die sanger Durane Plaatjies, oftewel Doep.

Hy verduidelik: “Ons wil ons plaaslike kunstenaars die blootstelling gee om die verhoog te deel met bekende kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf.”

Doep sê die konsert is die begin van groot dinge.

Hulle beplan om in die gemeenskap terug te ploeg.

“Ons is baie opgewonde vir vars talent soos Dynamic Jeez. Hulle is jong manne van Kraaifontein wat met passie perform. Die danser Adrian Saunders, Family Affairs, ’n girl band, en die komediant Jean Davids gaan optree.”

Hoop

Doep vertel dat hulle deur die performing arts en musiek ’n positiewe boodskap aan die gemeenskap bring.

Hy sê sy dryfkrag is die seer wat die mense in die gemeenskappe deurgaan en dat dit hom aanspoor om musiek te skryf wat mense weer hoop gee.

“ ’n Positiewe mindset is nodig in ons gemeenskappe. Dit begin by myself. Dan kan ons ’n beter toekoms vir almal skep.”

Doep moes deur baie uitdagings in sy lewe werk. Dit was nie altyd maklik nie, veral omdat hy sonder ’n pa grootgeword het.

“Ek moes deur die pyn werk en deur my musiek het daar genesing gekom. Dis een van die grootste kwelpunte in ons gemeenskappe – seuns wat grootword sonder ’n vaderfiguur.”

Doep het die hartroerende liedjie “Die Brief” geskryf.

Hy sê die song het vir hom closure gebring.

Die kunstenaar vertel dis hulle droom om geld in te samel, grond te koop en ’n sentrum te bou waar kinders meer oor die kunste kan leer.

“Ons wil graag ’n performing arts-sentrum begin waar kunstenaars in die gemeenskap hulle talent kan ontwikkel.

“Die sentrum sal opgerig word om die jeug te help bemagtig in drama, musiek en ontwikkelingsprogramme.

“Ek is seker die lewe is wat jy daarvan maak.

“En hoe liewer jy vir jouself is, hoe meer sal dit na ander uitspruit.”

In samewerking met Elbre Jacobs, die visioenêr van Big Up Associations, probeer hulle gemeenskappe ’n beter plek vir almal maak.

  • Khoilectives en Step Up bied die Eersterivier Big Bash-konsert aan.

Dit vind op Saterdag 5 Oktober by die Grace Tabernacle in Eerste­rivier plaas.

Die kunstenaars wat sal optree, is Emo Adams, Maurice Page van die sepie Suidooster, Doep, Jean Davids, Aimsley en Dynamic Jeez.

Dit begin 18:00 en kaartjies kos R100 (algemeen) en R150 (VIP).

Vir meer inligting kontak Elbre gerus by 078 075 6260 of Doep by 074 807 0589.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters