23 dae gelede
Karin en Camillo bekoor saam
mooi: Karin Kortjé gaan nuwe musiek in die Divas & Maestros show sing. foto’s verskaf  ~ 

DIE Divas & Maestros-vertoning is terug vir wat beloof om nóg ’n watertand ervaring vir musiekliefhebbers te wees.

Die voormalige Idols-wenner Karin Kortjé en die talentvolle musikant Camillo Lombard is die hoofgereg op die musikale spyskaart wat op 9 Junie in Kaapstad se stadsaal beskikbaar is.

Karin gaan van haar eie liedjies sing, asook gewilde treffers van ander kunstenaars.

Die saxofoon-sensasie Donveno Prins, die Overberg’s Got Talent-wenners (ál sewe van hulle), die Cape Music Institute Choir en Darren Braaf, sowel as Madeegha Anders sal verseker daar’s ’n groot genoeg verskeidenheid musiek.

Boonop is Jill Levenberg (antie Moena in Suidooster), wat Ellen Pakkies in Ellen, the Ellen Pakkies Story, gespeel het, ook daai aand op die verhoog.

Twee van die Kaap se beste komediante, Quinton Manuels en Wayne McKay, is die MC’s. So, daar sal beslis nie ’n vervelige oomblik wees nie.

Die Karin Kortjé Stigting sal ook die aand amptelik bekend gestel word.

Die doel van die stigting is om toeganklike projekte van gehalte te verskaf vir minderbevoorregte kinders wat geleenthede verskaf vir die ontwikkeling van talent.

Die konsert het ten doel om die jeug te bemagtig en hulle ’n platform te gee om hulle talent uit te stal.

Die gaskunstenaars sal ook die geleentheid kry om die jongelinge in kleedrepetisies te mentor.

Die konsert begin 18:00. Die deure word reeds 17:00 oopgemaak.

Kaartjies teen R160 (R180 vir Golden Circle) is nou by Computicket, Shoprite en Checkers beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters