6 dae gelede
Jong musikant het groot drome
op pad op: Die sanger Naelon Andrews van George­ mik hoog.FOTO VERSKAF  ~ 

KAN iets goeds uit Conville in George­ kom?

Dít is die woorde van Naelon Andrews (20), wat opgewonde is oor sy groot deurbraak.

Sien, hy het ’n plate-kontrak met Universal Music geteken.

“Ek sou vanjaar onderwys gaan studeer het, maar weens ’n tekort aan finansies was dit nie moontlik nie. Dis toe dat ek besluit het om vir ’n Idols-oudisie te gaan in die Kaap, maar die persoon wat my sou neem, sê toe my geld is te min.

“Ek was baie teleurgesteld, maar ek het geweet die Here gaan ’n weg maak, want my geloof is sterk.”

Naelon wei uit: “Ek het dorp toe gestap en op pad het ’n persoon my voorgekeer en gevra of ek nie in die kantoor vir hulle wil sing nie.”

Jessica Basson vertel: “Ons het nie gedink dit gaan só ’n groot reaksie op Facebook wees nie, maar dit was ongelooflik.

“Ons het ’n oproep van Groot FM gekry en die omroeper Ruben Delmage het Naelon gesoek.”

In ’n japtrap was Naelon op pad na Jozi en vir die eerste keer op ’n vliegtuig.

“Ek was baie bang om te vlieg, maar ook baie opgewonde!” vertel Naelon.

“Alles was soos ’n droom. Die reaksie van die luisteraars was ongelooflik toe ek op Groot FM deur Ruben Delmage ge-interview is. Dis toe dat ek die albumkontrak met Universal losgesing het.

Inspireer

“Dit was altyd my droom om eendag my ma te help, want sy werk as ’n tee-girl.

“Met die musiek kan ek nou vir ons gesin ’n beter lewe probeer gee en ek sal my studie kan voltooi.”

Musikante wat Naelon inspireer, is Kari Jobe en Chris Tomlin.

“Die begeerte van my hart is om gospel te sing, want dis waar my hart is.”

Die jong musikant se motto is: “Just take whatever you go through and turn it into music.”

Hy sluit af: “Moet net nooit ophou droom nie. Absoluut alles is moontlik­ as jy in jouself glo en op die regte tyd sal alles vir jou in plek val.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters